{ARGIEF}

APRIL 2012 RIGLYNE VIR HUISKERKE EN SELGROEPE MET DIE LEESROOSTERTEKSTE AS FOKUS

TWEEDE WEEK IN PAASTYD

15 April

Psalm 133

Eensgesindheid onder broers… hoe goed, hoe mooi

Ysbreker

Hoe los julle gewoonlik julle meningsverskille in die familie op?

Lof en Aanbidding

Dit is die tweede Sondag in Paastyd. Die Here lewe. Sien julleself as die groepie dissipels wat bymekaar is en Jesus wat julle verras met Sy verskyning. Dink in stilte aan Hom by julle. Sing dan lof- en aanbiddingsliedere vir Hom.

Woord

Psalm 133

  1. 1.Lees weer die Psalm met jou hart, sodat dit die gebed van jou hart raak. Sien die prentjie van broers en susters wat eensgesind saamwoon.
  2. 2.Wat is mooi en goed in hierdie Psalm en wat beteken dit?
  3. 3.Waaraan laat die reukolie en die dou van die Hermonberg jou dink? Hoe laat dit jou dink aan eensgesindheid?
  4. 4.Wat is die belofte vir die volkome eensgesindheid en hoe dink julle lyk dit?
  5. 5.As ons blaai na Fil.2:1-5, lees ons raak wat bedoel word wanneer broers en susters in ‘n Gemeente eensgesind met mekaar saam woon. Wie is die middelpunt van ons eensgesindheid?
  6. 6.Raak nou weer stil voor die Here en sien reeds die eensgesindheid en seën wat dit meebring voor jou. Gee jouself dan in stilte aan die Here ter wille van die eensgesindheid.

Bedien mekaar

Draai nou 2-2 of 3-3 na mekaar toe. Sê vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en bid dan vir mekaar se behoeftes. Dink in besonder in julle voorbidding aan die eensgesindheid in die Gemeente.

Uitreiking

Hoe gaan ons die boodskap van eensgesindheid uitkry by almal wat sê hulle glo soos ons glo?

DERDE WEEK IN PAASTYD

22 April

Hand.3:12-19

Jesus lewe… daarvan is ons getuies

Ysbreker

Wat sê of doen jy gewoonlik om iemand te oortuig dat jy die waarheid praat

Lof en aanbidding

Kom nou tot rus by die Here. Hy lewe en is nou by julle. Dink aan Sy betrokkenheid die afgelope week in jou lewe. Praat dan met Hom daaroor. Daarna sing die groep vir die Here liedere wat Hom grootmaak.

Woord

Hand.3:12-19

  1. 1.Lees nou weer die gedeelte alleen in stilte biddend. Kyk dieper na die woord(e) wat vir jou uitstaan. Herhaal dit saggies en praat met die Here daaroor.
  2. 2.‘n Man wat almal geken het as die verlamde wat bedel by die Mooipoort is na al die jare ‘n nuwe mens wat kan loop. Almal praat daaroor. Sommige prys God daaroor. Ander volg weer vir Petrus en Johannes om te kyk wat gebeur volgende. Wanneer hulle almal mooi bymekaar is, by die Pilaargang van Salomo, gebruik Petrus sy kans. Hoe stel hy die saak reg? (Vers 12) Wat leer ons uit die eerste woorde van Petrus?
  3. 3.Petrus verskuif die fokus van hom na Jesus. Hoe doen hy dit? (Verse 13-15) As julle in ‘n neutedop vir iemand moet vertel wie Jesus is, hoe sal julle dit doen?
  4. 4.Wat is buitengewoon aan die bedelaar van die Mooipoort se genesing? (Vers 16)
  5. 5.Wat beteken verse 17-19 vir julle persoonlik? Is “bekeer julle” gelyk aan ‘n nuwe blaadjie?
  6. 6.Raak nou weer stil by die Here. Sien die wonderwerk voor jou oë. Dink daaroor na en hoor weer Petrus se woorde. Hoe verander die gedeelte jou? Praat in stilte met die Here daaroor.

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe, deel julle behoeftes met mekaar. Dank die Here dat Hy lewe en ook aan julle behoeftes aandag gee. bid vir mekaar.

Uitreiking

Hoe kan die groep Jesus op so ‘n manier gaan bekend stel aan mense dat al die klem en fokus op Hom val, sodat Hy die middelpunt word van alles wat gebeur in die gemeente en gemeenskap?

VIERDE WEEK IN PAASTYD (GOEIE HERDER SONDAG)

29 April

Psalm 23

Die Here is my Herder… die verhaal van my lewe

Ysbreker

As jy aan een leier in jou lewe dink wat jou lewe in ‘n ander rigting gestuur het, wie is dit?

Lof en Aanbidding

Raak stil by die Here. Dink aan Hom. Sien Hom as Herder en jy is een van die skape. Dink aan alles wat Hy in jou lewe beteken het in die afgelope week. Praat dan met Hom. Daarna sing julle as groep vir Hom met dankbare harte.

Woord

Psalm 23

  1. 1.Lees weer die bekende Psalm in stilte. Sien jouself in die Psalm. Dink oor die Here se pad met jou. Sien dit as die verhaal van jou lewe. Praat in stilte met Hom.
  2. 2.Hoe sluit hierdie Psalm aan by dit wat jy nou al in jou lewe ervaar het? Waar was Hy toe dit met jou goed gegaan het? (die weivelde, waters van rus, regte pad) En waar was Hy toe dit sleg gegaan het? (die donker dieptes, doodskaduwee) Is jy bewus van die “feesmaal” ook in jou lewe?
  3. 3.Jesus noem Homself die goeie Herder. Wat is besonder aan Hom as ons Herder? (Joh.10:11, 17)
  4. 4.Wat is opvallend van die verhouding tussen Jesus en sy skape? (Joh.10:14, 15, 27)
  5. 5.Raak nou weer stil. Dink aan jou verhouding met jou Herder. Praat dan in stilte met Hom.

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar. Bid vir mekaar en vertrou die goeie Herder.

Uitreiking

Wat kan die groep doen aan al die afgedwaalde skape van die Here?