{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Paassondag en die week daarna

5 April
Markus 16:1-8
Die Sondagmôre
Ysbreker
Wat is die aangenaamste verrassing wat jy onthou en graag vir mense vertel?
Lof en aanbidding
Met Opstandingsondag breek die lof deur. Ons Here lewe! Dink nou aan die lewende Here en sing vir Hom lofliedere met blydskap in julle harte. Daarna raak julle stil en dink aan die afgelope week in julle lewe. Alles het so vinnig verloop. Die een oomblik het jy nog gedink aan die lyding en sterwe van Jesus en nou sien jy die graf is leeg. “Hy is nie hier nie”. Waar was Hy in jou lewe die afgelope week? Dink aan spesifieke oomblikke toe jy werklik bewus was van sy teenwoordigheid. Dank Hom daarvoor. Iemand kan die volgende gebed as belewenis van die besondere gebeurtenis op Paassondag lees (ek het Joh.20 bygevoeg in die gebed):
Liewe Heer
Vanoggend het ek vroeg opgestaan met my uitmekaargeskeurde hart
Ek het Vrydag my hele lewe verloor toe ek U aan die dood moes afstaan
Dit het my gevoel ek sterwe saam met U toe ek U hoor sê: Vader in U hande gee ek My gees oor
Met die onsekerheid in my oor wat vandag en môre op my wag is ek na die graf.
Om aan U hulde te gaan bring. Te rou. Afskeid te neem. My hart uit te huil.
By die graf het die trane my sig versper, maar deur my trane kon ek iets sien wat ek nie verwag het nie.
Ek was al by my broer se graf, vriende en familie s’n.
U graf was anders – dit was oop! Die swaar steen was weggerol! Die graf wa-wyd oop!
Bang en onseker het ek die graf ingegaan. Ek het U lewelose liggaam in doeke toegedraai verwag.
Net die doeke, netjies opgevou, dis al wat ek kon vind.
Benoud het ek in die tuin na U begin soek. Na die lewelose liggaam.
‘n Vriendelike man het in ‘n sagte stem met my gepraat. Dit het my geklink ek herken die stem.
Die vriendelike man het soveel simpatie met my gehad, asof Hy presies weet hoe ek voel.
Dan was my aandag op hom, dan het ek rondgekyk in die tuin of ek nie iets sien nie.
En toe hy weer praat, hy noem my naam, is dit of daar warm blydskap oor my verwarde gedagtes in my hart instroom. Ek herken die stem!
Dit was U, my Heer! Toe ek U soek, was U lankal by my! In die stilte van die tuin het ek U stem gehoor.
Die offer wat ek saamgebring het om by die graf neer te sit, sit ek nou eenkant neer.
Ek gee myself aan U, o lewende Heer.
En ek kom agter: Ek is nie meer dieselfde nie… Ek het saam met U opgestaan… U lewe… ek lewe…
U in my… ek in U…
AH
Woord
Mark.16:1-8

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart en beleef die gebeure daardie Sondagmôre by Jesus se graf. Talm in stilte in die tuin, by die graf. Dink na oor jou ervaring by die graf. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Met watter doel het die vroue op daardie Sondagmôre na die graf van Jesus gegaan? (Verse 1-3)
  3. Wat gebeur vanaf die oomblik dat hulle opkyk? (Verse 4-7)
  4. Hoe reageer hulle op die belewenis by Jesus se graf? (Vers 8) Wie sou jy kon vertrou met die boodskap dat Jesus lewe?
  5. Raak nou weer stil. Lees weer die gedeelte deur en beleef hoe jy verander word deur die oomblikke by Jesus se graf. Hoor weer die woorde “Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie”.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle die lewende Jesus in mekaar sien, deel dan julle behoeftes en vrese met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan die groep in die volgende weke die boodskap van Jesus wat lewe gaan verkondig en leef in die omgewing? Wees prakties.

Tweede week in Paastyd

12 April
1Johannes 1:1-2:2
Die Woord, die Lewe, die Lig
Ysbreker
Wat sou jy graag vir jou geliefdes wou wees? [Bv. as pa vir jou kinders, vrou vir jou man, vriend vir jou vriende, vir jou broers en susters in jou groep]. Slaag jy daarin?
Lof en aanbidding
Fokus nou op die lewende Here in julle midde terwyl julle vir Hom liedere sing uit julle hart. Daarna raak julle stil. Dink aan Hom die afgelope week in jou lewe. Waar was Hy die meeste vir jou die Woord? Waar was Hy die Lewe? Waar was Hy jou Lig? Iemand lees dan Psalm 133 en die groep dink in stilte na oor die woorde van die Psalm. Herhaal die woorde in jou hart en bid dit vir jou Gemeente en gemeenskap: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon”.
Woord
1Joh.1:1-2:2

  1. Lees die gedeelte eers in stilte. Fokus op woorde en sinsnedes wat die Gees van die Here op jou hart lê. Sien hoe dit waar word in jou eie lewe en almal rondom jou.
  2. Wat word die Here alles in hierdie gedeelte genoem? Wat beteken elkeen vir jou persoonlik?
  3. Wat sê verse 5 en 7 vir ons? Wat beleef jy wanneer jy die woorde hoor?
  4. Watter belangrike boodskap kom uit verse 6,8 en 10?
  5. Lees nou 1:9 saam met 2:2. Help hierdie verse ons om makliker te sondig of juis nié te sondig nie?
  6. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur en laat die woorde afsak tot in jou hart. Sien reeds hoe die Here deur hierdie woorde jou hele lewe verander. Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van oomblikke die afgelope week toe jy die Here op ’n besondere manier ervaar het. deel dan julle behoeftes met mekaar en dank die Here vir sy teenwoordigheid in jou broer/suster se lewe.
Uitsending
Hoe gaan die groep die week wat kom hierdie boodskap leef in die omgewing?

Derde week in Paastyd

19 April
1Johannes 3:1-7
Ek weet ek is U kind… U sê so!
Ysbreker
Watter dinge kan jy nog onthou van jou oupa en ouma (of jou ouers, ’n oom of tannie) wat jou altyd sal bybly?
Lof en Aanbidding
Kom ons loof vanaand die Here met harte wat oorloop van blydskap. Loof Hom met liedere, gedeeltes uit die Woord, gebede en aanbid Hom dan. Raak dan stil by die Here en dink aan sy verhouding met jou. Herhaal die woorde saggies in jou hart: “Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook”. Dink in stilte na oor wat dit vir jou beteken. Iemand kan dan Psalm 4:7-9 voorlees terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
1Joh.3:1-7

  1. Lees eers in stilte die verse deur en hoor God se stem. Fokus op woorde wat vir jou uitstaan en sien hoe die woorde waar word van jou.
  2. Is dit ons wat so wonderlik is of God wat so wonderlik is, dat Hy jou sy kind noem? (vers 1)
  3. Watter woorde bevestig jou sekerheid dat jy kind van God is in vers 1 en 2a? Hoe voel jy daaroor?
  4. Is daar sekere eienskappe in jou wat jou laat sê jy aard na jou pa of ma?
  5. Ons lees dat ons soos Jesus sal wees wanneer Hy kom. As ons nou soos Hy is, hoe lyk ons dan? (verse 3, 5, 7) Is dit hoegenaamd moontlik? (vers 6).
  6. Raak nou weer stil en lees weer deur die gedeelte. Sien hoe die Here jou deur hierdie woorde verander en hoe jou stukkie verander omdat jy besef jy is God se geliefde kind.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here dat jy Jesus in jou broer/suster kan sien en bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Mense soek na Jesus. Ons dra Sy lig die wêreld in. Na wie in jou wyk of omgewing gaan die groep hierdie week uitreik en hoe gaan julle dit doen?

Vierde Week in Paastyd

26 April
1Johannes 3:16-24
Liefde meer as lippetaal
Ysbreker
Wat is gewoonlik vir jou ‘n baie duidelike aanduiding dat iemand werklik vir jou omgee?
Lof en Aanbidding
In Paastyd dink ons aan die wonder van Jesus wat opgestaan het en by ons is. Kom ons loof Hom met opgewondenheid oor Sy teenwoordigheid en aanbid ons God met liedere. Kom dan tot rus by Hom en dink na oor Hom in jou lewe. Herhaal saggies die woorde: Ek is in U en U in my. Iemand kan dan Psalm 23 lees terwyl die res die woorde in hulle harte saambid.
Woord
1Joh.3:16-24

  1. Lees eers die gedeelte in stilte en beleef die uitwerking van die woorde op jou lewe. Herkou die woorde wat vir jou uitstaan en laat dit saggies afsak tot in jou hart.
  2. Hoe moet ons liefde wees en nie wees nie? (Vers 18) Wat beteken dit?
  3. Hoe lyk die opregte liefde prakties? (verse 16-17) Sien julle dit in ons groep?
  4. Watter rol speel ons gewete in ons verhouding met God en hoe kan ons gewete “tot rus” kom? (verse 19-22)
  5. Die band tussen ons en God is so innig, dat Johannes praat van “bly in God en God in hom”. Hoe gebeur dit? (verse 23-24; vgl. Joh.15:4,5,9,10)
  6. Raak weer stil en lees die gedeelte deur. Sien nou hoe die Here jou deur die Woord verander. Herhaal weer saggies die woorde: Ek in U en U in my.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel nou eers vir jou broer/suster hoe baie jy hom/haar waardeer. Deel dan julle nood en behoeftes met mekaar en dra mekaar dan in gebed aan ons Here op.
Uitsending
Hoe kan ons as groep prakties liefde sonder grense in ons omgewing gaan uitleef?

Vyfde Week in Paastyd

3 Mei
1Joh.4:7-21
God is liefde…
Ysbreker
Het jy altyd geglo dat jou ouers jou liefhet? Hoekom of hoekom nie?
Lof en Aanbidding
Die Here is by ons. Kom ons geniet sy teenwoordigheid en loof en aanbid Hom met ons lied. Raak dan stil by die Here en fokus op Hom in jou lewe die afgelope week. Dink aan besondere geleenthede waar jy bewus was van God se liefde. Herhaal saggies die woorde: U het my u Gees gegee. Iemand lees daarna Psalm 22:25-32 terwyl die res dit in hulle harte beaam.
Woord
1Joh.4:7-21

  1. Lees die gedeelte in stilte en beleef God se liefde terwyl jy dit lees. Laat sy liefde jou vul. Let op woorde wat vir jou uitstaan. Sien wat hierdie woorde aan jou doen.
  2. Johannes begin met die woorde “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê… Hoekom moet ons dit doen? (verse 7,8,11,12,19,21)
  3. Wat motiveer ons om mekaar so lief te hê? (verse 9,10,14,16)
  4. Hoe weet ons dat ons in Hom bly? (verse 12,13,15)
  5. Op watter manier kom mense agter dat ons in ‘n liefdesverhouding met God lewe? (verse 17, 18,20)
  6. Raak nou stil en lees weer deur die gedeelte. Sien die verandering wat in jou plaasvind terwyl jy dit lees. Herhaal die woorde: U is liefde… U het my u Gees gegee. Sien hoe God jou nooi om sy liefde in hierdie wêreld te gaan leef.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse en behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar. Bid ook dat hierdie huiskerk en julle Gemeente die liefde van God sal uitleef teenoor mekaar en die wêreld.
Uitsending
Dalk is daar iemand in die omgewing van wie julle weet, wat a.g.v. die liefdeloosheid van jou Gemeente weggedwaal het van God. Hoe gaan die groep na hom/haar uitreik?

Sesde Week in Paastyd

10 Mei
1Joh.5:1-6
Liefde en geloof
Ysbreker
Watter bewys het jy dat jy jou pa se kind is?
Lof en Aanbidding
Die wonderwerk van hierdie byeenkoms is dat die Here ook hier is. Kom ons maak ons oë toe en dink ‘n oomblik aan Hom. Gee dan geleentheid vir liedere en gebede en gedeeltes uit die Woord. Na die verbale lof aan God keer ons na binne tot diep in ons eie harte. Sien die Here jou God in jou lewe die afgelope week. Waar het jy op jou naaste aan Hom gevoel? Watter geleenthede kon jy aangryp om “die ander wat kinders is van die Vader” met God se liefde lief te hê? Daarna lees iemand in die groep Psalm 98 en die ander luister biddend.
Woord
1Joh.5:1-6

  1. Lees die gedeelte in stilte en fokus op woorde wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde saggies en laat dit afsak tot in jou hart. Sien reeds hoe anders jou lewe lyk wanneer jy dit leef.
  2. In vers 1 lees ons twee baie belangrike dinge raak. Wie is kinders van God en hoe is hulle gesindheid teenoor die res van God se gesin?
  3. In vers 2 bekyk Johannes die saak uit ‘n ander hoek. Wat is onlosmaaklik aan mekaar verbonde?
  4. Hoe lyk liefde vir God? (vers 3; vgl.Joh.15:9,10)
  5. Is dit regtig so moeilik om God se gebooie te gehoorsaam? (verse 3-6)
  6. Kom nou tot rus en lees die gedeelte weer in stilte. Herhaal die woorde “Vader, ek het U lief” so 3x en sien wat dit aan jou doen.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sien saam met jou mense vir wie God oneindig liefhet. Sê dan vir mekaar: Jy is God se geliefde kind. Deel julle geestelike behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan ons groep in die week wat kom blywende liefde begin leef in ons Gemeente? Beplan saam.

Sewende Week in Paastyd

17 Mei
1Joh.5:9-13
Wie die Seun het, het die lewe
Ysbreker
Baie keer as mense met vakansie gaan en sit en ontspan na ‘n harde tyd agter die rug, sê hulle: “Dis nou die lewe”. Wat is vir jou die lewe?
Lof en aanbidding
Ons loof en aanbid nou die Here in ons midde met ons lied. Raak dan weer stil en fokus op die lewende Heer in julle midde. Julle kan die oomblik gebruik om tot rus te kom. Sit gemaklik en maak julle oë toe. Fokus eers op julle asemhaling. Voel die lewe in jou voete en bene, arms, hande en skouers. Wanneer jy inasem kan jy saggies vir jouself sê: “Ek het die Seun” en wanneer jy uitasem “Ek het die lewe”. Iemand lees dan Psalm 1 terwyl die res biddend luister.
Woord
1Joh.5:9-13

  1. Raak nou weer stil met die woord. Laat die woord(e) wat die Here deur hierdie gedeelte op jou hart lê, afsak tot diep in jou hart. Praat saggies met die Here daaroor.
  2. Watter getuienis oor God se Seun hoor ons helder en duidelik “uit God se mond?” (Vers 9; vgl. Mark.1:10-11, 9:7)
  3. Watter getuienis dra ons as gelowiges in ons hart? (Vers 10) Wat beteken dit vir jou?
  4. Wat behels die getuienis? (Verse 11-13) Hoe verduidelik jy hierdie getuienis aan iemand anders?
  5. Raak nou weer stil en lees die gedeelte weer deur. Sien hoe hierdie woorde ook jou woorde en lewe verander. Praat in stilte met God daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes met mekaar. Versterk, vertroos en bemoedig mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Dink aan een persoon met wie jy die komende week hierdie getuienis kan gaan deel.

Pinksterfees en die Week daarna

24 Mei
Eseg.37:1-14
Droë, dorre bene lewe!
Ysbreker
Watter klein dingetjies gee jou moed op ‘n dag wanneer jy regtig af voel?
Lof en Aanbidding
Offer julle lof en julleself aan die Here totdat julle Sy teenwoordigheid ervaar. Na die liedere raak julle stil en fokus op die Here by julle. Dink aan Hom in jou lewe van die afgelope week. En in jou stilte vra jy Hom om jou te wys hoe Hy Homself in liefde aan jou kom gee het. Sê vir Hom dankie. Iemand lees dan Psalm 104:30-34 en die res beaam dit in hulle harte.
Woord
Eseg.37:1-14

  1. Lees die gedeelte in stilte en beleef dit asof jy saam met Esegiël in die laagte staan en die wonderwerk aanskou. Hoor die Here se woorde: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe…”
  2. As jy skielik vir Esegiël in die winkel raakloop en hy vertel jou hierdie storie, sal jy hom glo? Hoekom/nie?
  3. Hoe kom Esegiël by die vallei uit? Hoe dink jy gaan die mens se oë oop vir die ware toestand van die volk? Wat is die toestand van die volk waarna Esegiël kyk? (vers 11).
  4. Hoekom is die vraag van God en die antwoord van Esegiël in vers 3 belangrik? Wat sou jy die Here geantwoord het op die vraag?
  5. Wat is nou Esegiël se taak (noem dit in volgorde). En wat sê dit vir jou oor jou taak?
  6. Watter hoop gee verse 11-14? Wie doen die eintlike vernuwingswerk? (Vgl. Hand.2:1-4)
  7. Raak nou weer stil en lees die gedeelte weer deur. Beleef hoe God jou met Hom saamnooi terwyl Hy besig is om alle nuut en heel te maak. Sien hoe die Here deur hierdie gedeelte jou eie hart verander.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Bemoedig mekaar eers. Daarna bid julle vir mekaar.
Uitsending
Watter droë, dorre bene lê daar in jou omgewing? Vra die Gees om hulle vir jou te wys en gaan bring die Woord vir hulle en vertrou dan die Heilige Gees.

Triniteitsondag en die week daarna

31 Mei
Jes.6:1-8
Hier is ek, Here, stuur my…
Ysbreker
Wat is vir jou so wonderlik dat jy ure daarna sal sit en kyk. Hoekom?
Lof en aanbidding
Loof en aanbid die Here nou met oorgawe. Sing vir Hom, lees vir Hom ‘n Psalm. Gee ook geleentheid vir lof- en aanbiddingsgebede. Kom dan tot rus by die Here en dink aan Hom nou hier by jou. Herhaal die woorde: “Die hele aarde is vol van u magtige teenwoordigheid” so 3 maal en sien hoe dit waar is ook van die plek waar julle bymekaar is en jou hart. Iemand lees dan Psalm 29 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
Jes.6:1-8

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart en beleef saam met Jesaja dit wat hy sien. Wat gebeur in jou terwyl jy die hele toneel voor jou sien? Beleef jy die lof in jou? Beleef jy die “Dit is klaar met my!”?
  2. Wat gebeur in verse 1-4? Wat sal jou eerste reaksie wees as jy moet sien wat Jesaja gesien het?
  3. Wat is Jesaja se reaksie? (vers 5). Wat sou jy graag nou vir die Here wou sê?
  4. Wat gebeur die oomblik nadat Jesaja sy mond voor die Here bely? (vers 7). Hoekom dink julle gebeur dit?
  5. Nou is Jesaja gereed. Wat vra die Here en wat antwoord Jesaja? (vers 8). Hoe raak dit jou?
  6. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Dink na oor dit wat die Here in jou binneste doen. Hoe vernuwe Hy jou? Wat is dit wat jy graag nou saam met Hom wil (gaan) doen? Praat in stilte met Hom daaroor.

 Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Maak vir ’n oomblik julle oë toe en dink saam aan die drie-enige God. En dan sê elkeen vir Hom enigiets wat in sy/haar hart opkom terwyl julle Hom beleef. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Sê jy ook: Hier is ek! Stuur my! Na wie toe hierdie week?