{ARGIEF}

Lof en Aanbidding
Kom ons dink nou eers in stilte aan ons Here. Raak rustig, sit ontspanne en fokus op jou asemhaling. “Maak die tempelpoort vir my oop, ek wil ingaan en die Here loof. Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan. Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het” (Ps.118:19-21). Dink nou na oor jou ontmoeting met jou Here. Geniet sy teenwoordigheid. Daarna gee ons geleentheid om die Here te loof en aanbid met liedere, gebede en Skrifgedeeltes.

Woord

Openb.1:4-8

[Dit sal baie help as ons in gedagte hou dat Openbaring aan die sewe gemeentes geskryf is (en dalk ook nog deur die omliggende gemeentes gelees is). Hulle situasie is die agtergrond waarteen die boek geskryf is]

1.Lees weer die verse saggies met jou hart. Lees dit asof die Here God self die wonderlike openbaring aan jou maak. Wat raak jou in hierdie verse. Dink biddend daaroor na.
2.Hoe groet Johannes die gemeentes en wat beteken dit? (vers 4-5a)
3.Wat beteken vers 5b-6 vir jou persoonlik?
4.Johannes sê: “Ja, dit is seker” Waarvan is hy so seker? (vers 7) Gesels so ‘n bietjie oor hierdie vers.
5.In vers 8 kom die Here self aan die woord. Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jesus die Begin en die Einde en alles tussenin is?
6.Hierdie brief is in 95nC geskryf. Hoe bemoedig ons mekaar in 2013 uit hierdie paar verse?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar. Onthou tog dat julle NET met die Here oor mekaar se nood en behoeftes praat.

 

Uitreiking

Na wie gaan die groep hierdie week uitreik en hoe gaan julle dit doen?

 

 

 

 

Derde week in Paastyd

14 April

Openb.5:11-14

In die troonkamer

Ysbreker

Watter prentjie het jy nog altyd in jou gedagtes gevorm as jy aan die hemel dink?

 

Lof en Aanbidding

Laat een persoon Openb.5:11-14 lees, terwyl die ander met hulle oë toe die prentjie voor hulle sien. As dit nodig is, lees dit weer ‘n slag. “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here, my God, vir altyd sal ek U loof!” (Ps.30:12, 13) Loof en aanbid die Here dan met julle lied terwyl julle daaraan dink dat julle dit saam met miljoene in die hemel doen.

 

Woord

Openb.5:11-14

1.Lees en beleef nou die gedeelte eers weer in stilte. Sien jouself in die gedeelte, hoe die hemel en aarde as’t ware by mekaar uitkom. Watter woorde raak jou?
2.Wie is almal in die troonsaal en wie verteenwoordig hulle? (vers 11)
3.Hoe klink die lied wat hulle sing? (vers 12) Wat beteken dit vir ons?
4.En hoe klink die hele skepping se lied? (vers 13)
5.Wie plaas die “Amen” op die lied en wat doen die ouderlinge? (vers 14)
6.Wat wil die Here ons uit hierdie gedeelte leer? Hoe verander die Here deur hierdie gedeelte jou lewe?

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle nood en behoeftes met mekaar. Gee geleentheid vir lof en aanbidding in julle gebede en dra mekaar dan aan die Here op.

 

Uitreiking

Hoe gaan die groep maak om hierdie week die lof aan die Here tussen die mense te gaan uitleef?

 

Vierde week in Paastyd

21 April

Openb.7:9-17

Die Lam=die Herder!

Ysbreker

As jy na ‘n groot rugbywedstryd kyk, hoe weet jy gewoonlik watter mense in die skare ondersteun watter span?

 

Lof en Aanbidding

Kom ons raak nou eers weer stil en beleef die Here ons God terwyl iemand Openb.7:9-17 en Psalm 23 voorlees. Sien die Herder in jou lewe. Daarna loof en aanbid ons weer ons Here met ons liedere.

 

Woord

Draai eers 2-2 na mekaar toe en deel met mekaar hoe die Here die afgelope tyd deur die Woord met jou gepraat het en bemoedig mekaar dan uit die Skrifgedeelte

Openb.7:9-17

1.Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart. Sien die prentjie wat jy lees en sien jouself en jou broers en susters daarin. Wat staan vir jou uit?Praat in stilte met die Here daaroor.
2.Wat lees ons van die “groot menigte” in vers 9? Waaraan laat die palmtakke julle dink?
3.Die groot menigte, die engele, die ouderlinge en die lewende wesens sing ‘n pragtige lied. Hoe klink die lied? (verse 10-12)
4.Watter klere dra die mense en hoekom? (verse 13-14)
5.Hoe lyk die toekoms vir hierdie mense? (verse 15-16). Ervaar julle nou reeds iets daarvan?
6.Waarom wag daar so ‘n heerlike toekoms op hulle? (vers 17). Wat beteken hierdie woorde vir jou? Hoe verander die gedeelte jou lewe hier en nou?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle nood, bekommernisse en behoeftes met mekaar. Dra mekaar dan in gebed aan julle Herder op.

 

Uitreiking

Ons wil so graag hê dat almal wat ons ken, deel is van die groot menigte. Hoe gaan die groep hierdie week uitreik na mense om hulle deel te maak van die menigte?

 

Vyfde week in Paastyd

28 April

Openb.21:1-6

Die nuwe hemel en die nuwe aarde

Ysbreker

Hou jy van nuwe dinge of maak dit jou onseker/onveilig?

 

Lof en aanbidding

Kom ons raak eers stil in die Here se teenwoordigheid en geniet Hom in die stilte. Dink aan Hom in jou lewe die afgelope week. Sien Hom raak in jou blye oomblikke en ook in die oomblikke toe dit vir jou gevoel het Hy is ver. Daarna loof en aanbid ons Hom met liedere wat deur die lofleier biddend voorberei is. Iemand lees Psalm 148 voor en die res bid die loflied in hulle harte saam.

 

Woord

Openb.21:1-8

[Daar is na my mening nie rede waarom verse 1-8 nie bespreek hoef te word nie, al is die fokusteks 21:1-6]

1.Lees eers weer die verse in stilte deur en let op die woord(e) wat jou tref. Hoe laat die gedeelte jou voël? Praat met jou God in stilte oor dit wat in jou hart is.
2.Wat sien Johannes volgens vers 1? Hoekom dink julle het die see nie meer bestaan nie? Wat is kenmerkend van die nuwe hemel en die nuwe aarde? (2Pet.3:13)
3.Wat lees ons van Jerusalem in vers 2 en wat beteken dit? (vgl.Heb.12:22; 13:14)
4.Nou word ‘n harde stem van die troon af gehoor. Wie is aan die woord en wat sê Hy? (Verse 3-5)
5.Watter heerlike belofte lees ons in verse 6 en 7?
6.Maar watter hartseer verhaal vind ons in vers 8?
7.Hoe bemoedig ons mekaar op pad nie die nuwe hemel en nuwe aarde uit hierdie gedeelte en hoe verander die vooruitsig ons lewens vandag?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe gaan die groep mense wat alle hoop in die lewe verloor het, met die woorde wat die Here op julle harte lê bemoedig?

 

Sesde week in Paastyd

5 Mei

Openb.21:10; 22-22:5

Die heilige stad Jerusalem

Ysbreker

Op watter plek op aarde sou jy graag wou woon en hoekom?

 

Lof en aanbidding

Ons dink eers in stilte aan ons Here. Dink veral aan sy nabyheid die afgelope week. Waar was Hy toe dit met jou goed gegaan het. En toe daar bekommernis en trane was? Daarna sing ons lof en aanbiddingsliedere vir Hom. Iemand lees Ps. 67 terwyl die res dit in hulle harte saambid.

 

Woord

Openb.21:10; 22-22:5

1.Lees eers weer die gedeelte in stilte en beleef wat jy lees. Wat raak jou in besonder? Praat in stilte met die Here daaroor.
2.Wat is eienaardig aan die stad? (Vers 22-27) Hoe vergelyk dit met dit wat ons elke dag belewe?
3.Vergelyk 22:1,2 met Eseg.47:1,2. Wat beteken dit vir julle?
4.Waaraan herinner die boom van die lewe julle? (vgl.Gen.2:9) Wat is die verskil?
5.Daar is nog soveel om na uit te sien. Kom ons lees nou verse 3-5 en dan noem ons die dinge wat God beloof een-vir-een en oordink dit saam.
6.Watter boodskap dink julle het hierdie gedeelte vir ons lewe op hierdie aarde?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Gesels met mekaar oor die dinge wat julle bekommer en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe kan die groep maak om vir die mense rondom julle die aarde waarop ons lewe nuut te maak?

 

Sewende week in Paastyd

12 Mei

Openb.22:12-21

Kyk, Ek kom gou!

Ysbreker

Hou jy daarvan dat ‘n storie ‘n gelukkige einde moet hê of dat hy realisties moet eindig, al is die einde ook hartseer en ongelukkig?

 

Lof en Aanbidding

Kom ons dink nou eers in stilte aan ons Here. Loop terug op jou pad die afgelope week. Sien weer alles wat gebeur het en wat jy gedoen het. Sien ook die Here op jou pad en praat dan met stilte met Hom. Daarna gee ons geleentheid om die Here te loof en aanbid met liedere, gebede en Skrifgedeeltes. Lees Ps. 97 en elkeen oordink dit in hulle harte.

 

Woord

Openb.22:12-21

1.Lees die gedeelte eers in stilte en dink na oor hoe dit jou laat voel om hierdie woorde te lees. Gee tyd vir stil gebed.
2.Kan jy dink aan ‘n beter einde vir die geskiedenis van die mensdom as wat ons lees in verse 12, 13 en 16? Hoe sou jy dit in eie woorde stel?
3.Wie is die geseëndes van wie ons lees in vers 14?
4.Ongelukkig is daar ook ‘n hartseer kant aan die wonderlike einde. Lees nou vers 15 en gesels daaroor met mekaar.
5.Wat doen die Gees en die kerk in hierdie tyd? (Vers 17a) En hoe klink die uitnodiging tot aan die heel einde? (Vers 17b)
6.Hoe verstaan ons vers 18 en 19 dikwels mis?
7.Wat beteken die laaste woorde van die Bybel vir jou persoonlik? (Verse 20, 21)

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar. Onthou tog dat julle NET met die Here oor mekaar se nood en behoeftes praat.

 

Uitreiking

Na wie gaan die groep hierdie week uitreik en hoe gaan julle dit doen?

 

Pinksterfees en die week daarna

19 Mei

Rom.8:14-17

Die Vader, Seun en Heilige Gees kom ook my kleingeloof te hulp!

Ysbreker

Watter persoon het jou nog altyd goed laat voel oor jouself. Hoekom?

 

Lof en Aanbidding

Fokus nou weer op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Iemand kan Ps. 104 lees terwyl die res in hulle harte dit saambid. Julle kan die woorde: “Mag hierdie bepeinsinge van my vir U aanneemlik wees, ek wil my in U, o Here verbly” saggies in julle harte herhaal.  Loof en aanbid Hom daarna.

 

Woord

Rom.8:14-17 (12,13)

1.Lees weer hierdie paar verse in stilte. Lees dit biddend. Sien die Vader, Seun en Heilige Gees in die gedeelte. Jy kan, terwyl jy lees, saggies in jou hart die woord “Abba, Vader” in jou hart fluister.
2.Wanneer begin jy gewoonlik twyfel of jy ‘n kind van God is? [Lei die groep om te praat oor ander se kritiek op hulle geestelike lewens, of dat hulle dikwels twyfel omdat hulle hulleself met ander gelowiges vergelyk]
3.Kyk weer na verse 12-14 en gesels saam oor hoe jy jou “deur die Gees van God laat lei”.
4.Watter heerlike versekering kry ons in vers 15?
5.Op watter getuienis moet ons steun vir ons sekerheid dat ons God se kinders is? (vers 16)
6.Gesels nou saam oor die betekenis van vers 17 vir ons lewe, oor die betrokkenheid van die Vader, Seun en Heilige Gees in jou lewe. Raak dan stil en dink daaroor na.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Heilige Gees dat Hy julle vanaand opnuut daarvan verseker dat julle God se kinders is. Bid dan met vrymoedigheid vir mekaar.

 

Uitreiking

Dalk is daar iemand in julle wyk of omgewing wat die afgelope tyd baie sterk twyfel, miskien omdat hy/sy deurgeloop het onder ander se kritiek. Hoe gaan die groep die persoon in die komende week help?

 

Triniteitsondag en die week daarna

26 Mei

Rom.5:1-5

Vrygespreek!

Ysbreker

Beskryf die gevoel wat jy het wanneer jy gewoonlik sê: “Ek voel so vry!”

 

Lof en Aanbidding

Die Here is hier. Raak eers stil, fokus op Hom. Lees Psalm 8 biddend. Herhaal die woorde “wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien” in jou hart. Dink daaroor na dat God aan jou dink en na jou omsien. Hoe het jy dit die afgelope week beleef? Begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gedeeltes uit die Woord en gebede.

 

Woord

Rom.5:1-5 [Lees ook die Lewende Bybel]

1.Lees eers die gedeelte weer met jou hart. Sien jouself in die woorde van hierdie teks. Watter woord(e) staan vir jou uit? Praat met jou God daaroor in jou stilte.
2.Wie het ons vrygespreek en hoekom? [Vgl.Rom.4:25] Wat is die gevolg van hierdie groot daad van God? (Vers 1) Wat beteken dit vir jou persoonlik om te kan sê: Ek is vrygespreek?
3.Jesus gee vir ons iets vir vandag en vir die toekoms (Vers 2). Wat is dit en wat beteken dit? (Vgl. ook Ef.2:18)
4.Maar wat nou as ek en jy as vrygespreektes moet swaarkry? (Verse 3-5a). Kyk in diepte na alles wat swaarkry aan ons doen.
5.Watter “bonus” ontvang ons en hoe ontvang ons dit (Vers 5b; vgl. ook Titus 3:5,6). Wat dink julle moet ons maak met die hart vol liefde?
6.Hoe verander hierdie gedeelte jou lewe? Lees dit weer op jou eie en sien reeds die verandering. Dink daaroor na en antwoord die Here in stilte.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here vir die mooi dinge wat jy in jou broer/suster sien en bid dan spesifiek vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Beplan hoe julle hierdie week na iemand op julle gebedslys gaan uitreik.

 

Hierdie materiaal is opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Kerk Lambertsbaai, by a3aanh@telkomsa.net