{ARGIEF}

Derde week in Paastyd

10 April
Joh.21:1-19
U weet dat ek U liefhet, Here!
Ysbreker
Wat doen jy gewoonlik as jy ‘n bietjie wil ontspan en net wegkom van al die dinge wat jou so druk?
 
Lof en Aanbidding
Die Here is in ons midde. Kom ons raak eers net stil en dink aan Hom. Dan loof en aanbid ons Hom spontaan met waardering vir sy teenwoordigheid. Ons kom dan tot rus en dink na oor die Here in ons lewe van die afgelope week. Op watter maniere het jy beleef dat Hy na jou toe kom? Hoe het dit jou geraak? Dank Hom in stilte daarvoor. Iemand lees Psalm 32:1-7 om hierdie oomblikke mee af te sluit.
 
Woord
Joh.21:1-19

  1. Lees eers die gedeelte in stilte deur en beleef wat jy lees asof jy self daar is. Die oomblikke saam met die dissipels in die skuit, die gesprek met Petrus.
  2. As ons na Joh.20:19 kyk en dit vergelyk met 21:3 , lyk dit of daar iets met die dissipels gebeur het. Sien julle dit raak?
  3. By twee geleenthede wanneer Jesus sy dissipels roep, doen Hy dieselfde wonderwerk. Wat sou julle afgelei het uit dit wat Jesus vir hulle wil leer? (Vgl.21:1-14 en Luk.5:4-7)
  4. Na die ete, begin Jesus met Petrus praat. Wat vra Hy hom en hoeveel keer vra Hy die vraag? Hoekom? (Verse 15-19)
  5. Wat is elke keer die opdrag nadat Petrus bevestigend geantwoord het? Bespreek nou: ”Sê eers dat jy die Here liefhet voor jy met die skape begin werk”.
  6. Wie se skape en lammers is dit? Wat wil die Here vir ons sê oor ons roeping in hierdie wêreld? Antwoord Hom in stilte.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Daar is skape en lammers wat wag vir die mense wat sê: “U weet dat ek U liefhet”. Hoe gaan die groep uitreik na al die verlore skape en lammers en hoe gaan julle hulle versorg? Stel ‘n plan van aksie op.
 

Vierde Week in Paastyd

17 April
Johannes 10:22-30
In U hande is ek veilig!
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer iemand iets wat vir jou kosbaar is, uit jou hande ruk?
 
Lof en Aanbidding
Die Here is hier. Raak eers stil, fokus op Hom. Begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gedeelte uit die Woord en gebede. Daarna lees een Psalm 23 rustig deur terwyl die res die Psalm in hulle harte saambid. Die groep kan in hulle harte die woorde “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie…” in hulle harte herhaal.
 
Woord
Joh.10:22-30

  1. Lees weer die gedeelte eers in stilte en dink na oor hoe Jesus se woorde jou lewe raak. Laat die feit dat Hy die Goeie Herder is, jou hart vul en beleef dit.
  2. Wat is die Jode se probleem? (Vers 24) Het Jesus aan hulle verwagtinge voldoen?
  3. Watter bewyse moes die Jode teen hierdie tyd al raakgesien het? Maar wat is daarom hulle eintlike probleem? (Verse 25,26)
  4. Hoe ken jy een van die Here se skape uit? (Vers 27) Herken jy jouself in hierdie vers?
  5. Hoe veilig is jy as jy eers eenmaal een van Jesus se skape is? (Vers 28)
  6. Hoe versterk vers 29-30 jou geloof in dae wanneer dit nie so maklik is om te glo nie? Raak dan stil en sien Jesus as Goeie Herder saam met jou op jou pad. Dank Hom daarvoor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here dat julle veilig in sy hande is en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
In julle omgewing is daar iemand wat dalk van die Here se skape vervreemd geraak het. Hoe beplan die groep om hom/haar deel te maak van die Here se kudde?
 

Vyfde Week in Paastyd

24 April
Joh.13:31-35
As dissipels uitgeken
Ysbreker
Watter gewoontes of maniere het jy van jou pa of ma oorgeneem?
 
Lof en Aanbidding
Raak rustig by die Here, asof jy een van die dissipels is met wie Hy hier aan die gesels is. Beleef Hom tussen julle. Bring nou met liedere en gebede ‘n lofoffer aan die Here. Doen dit totdat julle die teenwoordigheid van die Here beleef. Sluit af met “Waar daar liefde is…” Iemand kan Psalm 148 lees en die res beaam die lied in hulle harte
 
Woord
Joh.13:31-35

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Beleef dit wat die ander dissipels hier beleef wanneer Jesus met hulle praat. Hoor die woorde soos “verheerlik”, “as julle mekaar liefhet” en praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Wat beteken die woord “verheerlik”?
  3. Wat bedoel Jesus as Hy sê: “Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle…”?
  4. Hoe word die teenwoordigheid van Jesus voortgesit? (v.34,35) Wie is die maatstaf van hierdie liefde en hoe lyk dit prakties? (v.15)
  5. Hoe word Jesus se dissipels uitgeken (m.a.w. hoe kan Jesus se dissipels Hom “verheerlik”)? Is dit hoe ons Gemeente, groep en jy uitgeken word? Waar is die beste plek om te begin?
  6. Raak weer stil en dink na oor hoe die Here jou deur hierdie paar verse in sy Woord verander. Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Begin nou deur julle liefde aan mekaar te toon. Draai 3-3 na mekaar. Praat julle harte uit met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep mekaar en ander dissipels in liefde help om so te lewe dat ons as Jesus se dissipels uitgeken word, al kos dit wat?
 

Sesde Week in Paastyd

1 Mei
Joh.14:23-29
Ek maak die Here teenwoordig!
Ysbreker
Het jy al ooit die gevoel gehad: “Nou is ek werklik alleen”? Wanneer was dit en hoe het dit gevoel?
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Sy betrokkenheid die afgelope week (tyd) in jou lewe. Praat met om in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid dan die lewende Here met oorgawe. Fokus op sy teenwoordigheid in die groep. Iemand kan Psalm 67 biddend lees terwyl die res met hulle harte luister.
 
Woord
Joh.14:23-29

  1. Beleef weer in stilte die gesprek van Jesus met Sy dissipels. Dink na oor hoe jy voel wanneer Hy praat van “weggaan”, “liefhê”, “vrede”. Praat met die Here in jou hart daaroor.
  2. Wat beteken Jesus se “weggaan” vir sy dissipels? (vers 26) Watter gevolge het dit vir ons lewens?
  3. Is ons liefde vir Jesus net lippetaal? (verse 23, 24, 28b)
  4. Ervaar jy die belofte van vers 27?
  5. Jesus “gaan weg”. Hoe kan ons as groep sorg dat sy teenwoordigheid in ons groep, gemeente en wêreld ervaar word?
  6. Hoe verander die Here jou lewe deur sy Woord? Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Deel nou 3-3 julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar. Daarna seën julle mekaar.
 
Uitsending
Iemand wat jy ken (‘n alleen-mens) het die lewende Jesus nodig. Wie is dit en wat gaan jy daaromtrent doen?
 

Sewende Week in Paastyd

8 Mei
Joh.17:20-26
Een…. sodat die wêreld kan glo
Ysbreker
Wat beteken dit vir jou as jy sê: “Ons huisgesin, span, groep, vriendekring, is een”?
 
Lof en Aanbidding
Raak nou ‘n oomblik stil in die Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom, wat vir Sy dissipels, vir jou bid. Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Iemand kan Psalm 97 lees terwyl die ander met biddende harte luister.
 
Woord
Joh.17:20-26

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Hoor hoe Jesus bid vir die dissipels. Sien wat gebeur as die gebed verhoor word. Bid die woorde saam met Jesus.
  2. Vir wie bid Jesus? Sluit die gebed jou ook in? (Vers 20)
  3. Wat vra Hy spesifiek in hierdie gebed? (Verse 21-23) Hoe lyk die eenheid waarvoor Hy bid? Hoe vergelyk dit met die eenheid tussen die dissipels in 2010 wat jy ken?
  4. Hoekom is die eenheid tussen al Jesus se dissipels dan so belangrik? (Vers 23) Wat dink julle, dink die wêreld as Jesus se dissipels verdeeld is?
  5. Wat is belangrik vir hierdie eenheid om te gebeur? (Vers 26)
  6. Raak nou stil by die Here. Dink na oor hoe hierdie gebed jou en al jou ander broers en susters se lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Bid eers saam vir julle groep en Gemeente, dat die eenheid en liefde waarvoor Jesus bid, ook hier by ons werklikheid sal word. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep maak om Jesus se gebed vir eenheid en liefde uit te leef in die week wat voorlê?
 

PINKSTERFEES

15 Mei
Joh.14:8-17
Die Heilige Gees sal by julle bly…
Ysbreker
Hoe lank hou jy gewoonlik kontak met goeie vriende as hulle weg trek na ‘n ander plek toe?
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus in die Here se teenwoordigheid. Fokus op die lewende Here in julle midde. Dink aan wat dit beteken dat Hy lewe. Praat saggies met Hom. Stort julle harte in lof- en aanbiddingsliedere en gebede voor Hom uit. Iemand lees Psalm 104:24-34 voor terwyl die ander biddend luister na die woorde wat al soveel troos aan bedroefdes gebring het.
 
Woord
Joh.14:8-17

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur. Ervaar wat hier gebeur, die gevoel van onsekerheid en dat jy ook maar nie alles weet of verstaan nie, hoor Jesus se stem wat in liefde vir jou probeer verduidelik. Praat saggies met die Here daaroor.
  2. Hoe verduidelik Jesus Sy verhouding met die Vader aan Filippus? (Verse 8-11) Hoe sou jy gereageer het op Jesus se antwoord?
  3. Wat beteken verse 12-14 vir jou? Waaraan dink jy eerste as jy hierdie woorde hoor?
  4. Hoe troos Jesus se woorde in verse 15-17 vir jou?
  5. Wat wil jy graag nou vir die Here sê? Raak stil en praat met Hom soos een van Sy dissipels.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir alles wat Hy deur die twee wat saam met jou bid, in jou lewe doen. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons in die week wat voorlê ons broers en susters se aandag daarop vestig dat die Heilige Gees by (en in) hulle bly?
 

TRINITEITSONDAG

22 Mei
Joh.16:12-15
Die eintlike werk van die Heilige Gees
Ysbreker
Watter onderwyser sal jy jou lewe lank onthou en hoekom?
 
Lof en Aanbidding
Raak rustig by die Here, asof jy een van die dissipels is met wie Hy hier aan die gesels is. Beleef Hom tussen julle. Bring nou met liedere en gebede ‘n lofoffer aan die Here. Doen dit totdat julle die teenwoordigheid van die Here beleef. Iemand kan Psalm 8 lees en die res beaam die lied in hulle harte.
 
Woord
Joh.16:12-15

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Luister weer na Jesus se woorde. Dink aan die Heilige Gees in en by jou en dit wat Hy eintlik in jou doen. Praat met Hom daaroor.
  2. Hoekom sê Jesus sal Sy dissipels die dinge wat Hy vir hulle sê nie nou kan begryp nie? (Vers 12)
  3. Wanneer sal hulle dit begryp? (Vers 13)
  4. Wat is die eintlike werk van die Heilige Gees? (Vers 14, 15)
  5. Raak nou weer stil by die Here. Hoe anders lyk jou lewe nadat jy hierdie gedeelte gelees, oordink en bespreek het? Praat in stilte met God daaroor.

 
Bedien mekaar
Begin nou deur julle liefde aan mekaar te toon. Draai 3-3 na mekaar. Praat julle harte uit met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Waar kan ons begin om mense die waarheid van dit wat die Heilige Gees doen te vertel?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net