{ARGIEF}

Lof en aanbidding

Raak nou stil in die Here se teenwoordigheid en kom tot rus by Hom. Dink in die oomblikke van stilte aan Hom. Sien Hom op jou pad die afgelope week. Wat sien jy? Praat in stilte met Hom daaroor. Daarna sing die groep liedere wat Hom loof en aanbid. Iemand kan Psalm 145:10-16 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

Ef.3:14-21

Lees eers weer Paulus se gebed in stilte deur. Lees dit so, dat jy dit wat vir jou uitstaan in hierdie gebed, saambid vir julle groep en gemeente.

Aan wie het die gemeente sy bestaan te danke? (Vers 14)

Wat bid Paulus nou vir die gemeente in Efese? (Verse 15-19) Hoe ou julle die woorde vir julle eie Gemeente bid?

Watter troos gee verse 20-21 die gemeente? Wat gebeur gedurig in die kerk?

Hoe verander hierdie gebed van Paulus jou lewe? Deel dit met mekaar en raak dan stil voor die Here terwyl jy sien hoe hierdie gebed reeds waar word in jou eie lewe.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Elkeen kry ’n geleentheid om iets uit hierdie gebed vir die Gemeente te bid. Jy kan meer as een kans kry. Bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe kan die groep die mense in die omgewing en Gemeente nog meer bewus maak van die feit dat Christus wat in julle harte woon julle mense maak wat liefde sonder grense lewe?

 

Tiende week in Koninkrykstyd

5 Augustus

Eks.16:2-4, 9-15

Die Brood van die Lewe

Ysbreker

Hoe maak jy met iemand vir wie jy baie moeite doen, wat nie eers die ordentlikheid het om vir jou dankie te sê nie?

 

Lof en Aanbidding

Kom tot rus by die Here. Sien Hom weer op jou pad in die week wat verby is. Dink aan oomblikke waarin Hy vir jou voorsien het. Dink ook of jy gesien het dat Hy jou raaksien. Na die stilte loof en aanbid die groep Hom met sang

 

Woord

Eks.16:2-4, 9-15

  1. Lees nou weer hierdie verse met jou hart. Sien vir Moses, die opstandige Gemeente, die Here se nabyheid in die wolk.
  2. Wat dink julle van die Gemeente se houding in v.2-3? Hoe antwoord die Here daarop? (v.4)
  3. Wat dink die Here van hulle houding? (v.8b)
  4. Hoe weet die volk dat die Here teenwoordig is? (V.10, 13b)
  5. Wat dink julle van die Here se houding? (v.13-15)
  6. Lees wat sê Joh.6:31. Hoe verander die Here jou hart en lewe deur hierdie gedeelte?

 

Bedien mekaar

Bid nou vir mekaar se behoeftes en vertrou dat die Here in julle daaglikse brood sal voorsien.

 

Uitreiking

Die Brood wat lewe gee is Jesus. Met watter een persoon gaan julle as groep hierdie Brood in die week deel?

 

Elfde week in Koninkrykstyd

12 Augustus

1Kon.19:4-8

Nou is dit genoeg, Here!

Ysbreker

Hoeveel keer in jou lewe het dit al vir jou gevoel jy het nou die einde van ‘n sekere pad bereik? Kan jy aan een dink?

 

Lof en Aanbidding

Na die gewoel van die dag is dit goed om so ’n oomblik of twee net tot stilstand en rus by die Here te kom. Ontspan, met jou oë toe en fokus op jou asemhaling. Saggies. Dink aan jou asemhaling as iets soos die “sagte fluistering in die windstilte”. Geniet net die oomblik van stilte en daarna kan die groep vir die Here uit hulle harte sing. Iemand kan Psalm 130 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

1Kon.19:4-8

  1. Lees weer die verse in stilte deur. Sien jouself in die verhaal van oorwinning en “mislukking”. Waar is die Here wanneer Elia tou opgooi? Waar is Hy wanneer jy nie meer kan nie?
  2. Wat gebeur in verse 4? Het jy al ooit so gevoel?
  3. Wat gebeur nou in verse 5-7? Het jy al die Here so op jou moedverloor-se-vlak raakgesien?
  4. Watter uitwerking het God se kos op Elia? (Vers 8) Waaraan laat die “kos” wat die Here aan Elia gee, jou dink?
  5. Hoe verander die Here jou lewe deur hierdie paar verse? Raak nou stil voor Hom en praat met Hom. Sien die ontmoeting as die Here wat by jou is in die “sagte fluistering van die windstilte”.(vers 12)

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle nood en behoeftes met mekaar en dra mekaar dan aan die Here op.

 

Uitreiking

Hoe gaan die groep hierdie week vir Jesus teenwoordig maak?

 

 

Twaalfde week in Koninkrykstyd

19 Augustus

Spreuke 9:1-6

Ek wil so graag by U leer!

Ysbreker

Watter persoon se sê-goed haal jy gewoonlik aan as jy jou saak sterk wil stel of net wil hê dat dit wat jy sê, mooier moet klink. (Bv. “My pa het altyd gesê…”, of “My wyse ou oom se woorde was…”)

 

Lof en Aanbidding

Fokus nou weer op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Probeer in jou stilte sien hoe Hy jou al gelei het met sy wysheid, selfs deur mense wat Hy oor jou pad gestuur het. Loof en aanbid Hom daarna. Iemand kan Psalm 111:10 lees en die ander dink in stilte daaroor na.

 

Woord

Spreuke 9:1-6

  1. Lees weer die gedeelte in stilte met jou hart. Let op woorde wat vir jou uitstaan. Dink daaroor na.
  2. Hoe lyk Wysheid se huis? Sê die 7 klippilare vir julle iets? (Vers 1)
  3. Wie word almal uitgenooi na haar fees? (verse 2-5)
  4. Wat gebeur met diegene wat die fees bywoon? (vers 6)
  5. Lees nou Luk.14:15-24. Wat sê hierdie gedeelte vir die groep oor die fees wat Wysheid hou?
  6. Hoe verander die Here deur hierdie woorde van wysheid jou lewe? Praat nou in stilte met Hom daaroor en sien reeds die verandering in jou lewe.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Bid vanaand dat die Here aan jou broer/suster goddelike kennis en insig sal gee en bid dan vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Is dit nie tyd dat die groep iemand nooi na die weeklikse “fees” wanneer julle bymekaarkom nie? Wie gaan dit doen en wie gaan julle nooi?

 

Dertiende week in Koninkrykstyd

26 Augustus

Jos.24:1-2, 14-18

Ek en my gesin kies die Here

Ysbreker

Hoe voel jy oor ‘n nuwe besem wat skoonvee en na ‘n rukkie halwe werk begin doen?

 

Lof en Aanbidding

Kom nou weer tot rus by die Here. Fokus op Hom, maar dink hierdie week aan die manier waarop jy Hom in jou daaglikse lewe dien en verheerlik. Dink daaroor na hoe Hy jou lewe anders maak. Praat in stilte met Hom daaroor. Daarna loof en aanbid die groep Hom. Iemand kan Psalm 84:2-8, 11 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

Jos.24:1-2, 14-18

  1. 1.Lees weer die gedeelte in stilte met jou hart. Sien jouself in die byeenkoms en hoor Josua se woorde en hoe dit jou raak.
  2. 2.Hoe klink die inleiding van Josua se preek? (Vers 2) Hoe sou dit vandag geklink het?
  3. 3.Voor watter keuse plaas Josua die Gemeente en wat is sy eie keuse? Hoe sal ons dit in ons eie Gemeente vir mense stel? (Verse 14-15)
  4. 4.Hoe reageer die Gemeente van die Here onmiddellik op die woorde van Josua? (Verse 16-18)
  5. 5.Hoe verander die Here deur hierdie woorde jou hart en lewe? Raak nou stil voor die Here en sien reeds die verandering wat Hy bring.

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe, deel julle behoeftes met mekaar en bedien mekaar in gebed. Dank die Here vir die mooi dinge (noem dit by die naam) wat jy raaksien in jou mede-bidders.

 

Uitreiking

Hoe gaan ons as groep hierdie boodskap van die Here in ons omgewing en Gemeente leef?