{ARGIEF}

Met die fokustekste van die Leesrooster as basis


Agste week in Koninkrykstyd
3 Augustus
Rom. 9:1-5
So naby en tog so ver
Ysbreker
Wat dink jy van kinders wat alles van hulle ouers ontvang het en steeds hulle ouers sonder enige waardering behandel?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here, jou God. Dink aan Hom wat in liefde na jou kyk. Geniet die oomblik van stilte en stap vir ’n oomblik saam met Hom deur die afgelope dag in jou lewe. Sien die klein dingetjies wat Hy jou vandag gegee het. Probeer ook raaksien hoe Hy Homself aan jou gegee het “so veel as wat Hy kan” (Ignatius). Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met liedere en gebede. Iemand lees Psalm 17:1-7, 15 terwyl die res dit in hulle harte beaam.
Woord
Rom. 9:1-5

  1. Lees hierdie gedeelte nou eers in stilte met jou hart deur. Sien die liefde waarmee Paulus hierdie woorde aan sy volksgenote skryf. Let op woorde wat vir jou uitstaan. Herhaal die woorde in jou hart en sien hoe die Here jou verander deur die woorde.
  2. Hoe begin Paulus sy woorde aan sy volksgenote en hoekom is dit belangrik dat hy so begin? (Verse 1-3)
  3. Hoe was God deur die eeue betrokke in die Jode se geskiedenis? (Verse 4-5) Hoe raak dit ons?
  4. Wat is die probleem? (Vergelyk verse 30-10:4) Wat sê dit vir ons?
  5. Raak nou weer stil. Lees weer die gedeelte en laat die wonderlike dade van God jou hart vul. Dink aan die feit dat Hy jou aangeneem het as sy kind en in sy heerlikheid by jou is. Dink aan die groot verbond wat Hy met jou gesluit het en dat jy uit Hom gebore is. Sien hoe Hy deur hierdie gedeelte jou lewe verander. Dank Hom daarvoor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Maak beurte om vir mekaar te sê hoe julle die Here in mekaar raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Op watter manier kan die groep hierdie week die heerlikheid van God in die omgewing gaan deel met mense?
Negende week in Koninkrykstyd
10 Augustus
Romeine 10:5-15
In jou mond en in jou hart
Ysbreker
Wanneer hou jy van reëls en wanneer maak dit die lewe vir jou net swaarder?
Lof en aanbidding
Raak nou eers stil in die Here se geselskap. Dink aan Hom wat so naby aan jou is dat Hy sy woord in jou mond en hart lê. Herhaal die woorde “Niemand wat in U glo, sal teleurgestel word nie” ’n paar maal totdat dit in jou hart weerklink. Sing dan liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Iemand lees Psalm 105:1-10 voor terwyl die res biddend luister.
Woord
Rom.10:5-15

  1. Raak stil en lees die Skrifgedeelte eers weer deur met jou hart. Fokus op woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan en oordink dit. Beleef die nabyheid van Jesus die Here in die gedeelte.
  2. Vergelyk verse 5-8a met Deut.30:12-14. Hoe naby is die woord?
  3. Wat is die boodskap van die woord? (Verse 8b-13) Deel dit met mekaar in julle eie woorde.
  4. Wat leer Paulus vir ons in verse 14-15? Hoe verander die woorde jou denke oor jouself en die kerk?
  5. Kom nou weer tot rus. Lees weer die gedeelte in stilte en laat toe dat dit jou hart aanraak. Sien reeds hoe die Here deur hierdie gedeelte jou lewe verander.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar hoe julle die woord in mekaar se mond en hart sien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan ons as groep hierdie gedeelte in die komende week gaan leef in die gemeenskap waarin ons woon?
Tiende week in Koninkrykstyd
17 Augustus
Romeine 11:1,2a,29-32
Omdat God Hom oor julle ontferm
Ysbreker
Het dit al met jou gebeur dat iemand in wie jy al jou vertroue gestel het, die rug op jou draai? Vertel ons daarvan (sonder om name te noem).
Lof en aanbidding
Kom tot rus in die teenwoordigheid van die drie-enige God. Dink aan Hom as God vir jou, God met jou en God in jou. Dink na oor hoe hierdie gedagte jou beeld van God verander. Is Hy ver of naby? Geniet die stilte saam met Hom. Sing dan lof en aanbiddingsliedere vir Hom. Iemand lees Psalm 133 terwyl die ander die Psalm beleef.
Woord
Rom. 11:1,2a, 29-32

  1. Lees die verse in stilte met jou hart. Beleef die liefde van jou God in die gedeelte. Let op woorde wat vir jou uitstaan en “herkou” dit.
  2. Hoe leer ons vir God ken in verse 1-2a en 29?
  3. Hoe verstaan ons die verband tussen gehoorsaamheid, ongehoorsaamheid en God se ontferming in verse 30-32? Wat leer ons hieruit?
  4. Kom nou weer tot rus en lees weer die gedeelte in stilte deur. Sien jouself en jou gemeente in die prentjie wat hier geskets word. Hoe verander dit jou lewe? Hoe dink jy nou anders oor jou gemeente?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien en bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Weet julle van mense wat verstoot voel in julle omgewing? Hoe gaan die groep hulle in die komende week bedien?
Elfde week in Koninkrykstyd
24 Augustus
Romeine 12:1-8
Gee julleself aan God
Ysbreker
As jy jou lewensleuse (“motto”) in een sinnetjie moet opsom, wat is dan vir jou die belangrikste in die lewe?
Lof en aanbidding
Raak stil by die Here en dink in jou stilte aan om. Dink aan Hom wat Homself aan jou gee. Herhaal in jou gedagtes die woorde “Gee jouself aan Hom” tot jy die rus in jou hart het dat jy aan Hom oorgegee is. Loof en aanbid Hom dan met liedere en gebede. Iemand lees dan Psalm 124 terwyl die ander dit in hulle harte saambid en beleef.
Woord
Rom. 12:1-8

  1. Lees die gedeelte in stilte deur en laat die Woord deurdring tot in jou hart. Sien jouself in die gedeelte as deel van die liggaam, die gemeente. Hoe pas jy in? Waarheen beweeg die Here jou nou deur sy Woord?
  2. Wat is die “wesenlike van die godsdiens wat julle beoefen”? (Verse 1-2) Wat beteken dit prakties?
  3. Hoekom is vers 3 belangrik?
  4. Lees nou weer verse 4-8 hardop. Waar sien jy jouself in die verse as jy aan jouself dink as ‘n “lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is”?
  5. Raak nou stil by die Here. Lees weer die hele gedeelte deur en sien nou hoe die Here deur sy Woord jou lewe verander en jou plek vir jou in die gemeente aanwys.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Deel julle behoeftes met met mekaar en bemoedig mekaar. Bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan die groep hulle genadegawe hierdie week gaan leef?
Twaalfde week in Koninkrykstyd
31 Augustus
Romeine 12:9-21
Liefde sonder grense
Ysbreker
Wat is die grootste droom wat jy het vir jou eie lewe?
Lof en aanbidding
Raak rustig by die Here. Om al die gedagtes wat deur jou kop maal, tot rus te bring, sit gemaklik, met jou oë toe en fokus op jou asemhaling. Iemand lees die volgende gebed van Anselmus voor terwyl die ander dit in hulle harte saambid:
Teach me to seek You, and reveal Yourself to me as I seek; 
for unless You instruct me I cannot seek You,
and unless You reveal Yourself I cannot find You.
Let me seek You in desiring You; let me desire You in seeking You.
Let me find You in loving You; let me love You in finding You.

Sing dan vir die Here liedere waarmee julle Hom loof en aanbid.
Woord
Rom. 12:9-21

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur met jou hart en laat toe dat die woorde jou aanraak diep in jou binneste. Sien Jesus in die gedeelte en sien dan jouself saam met Hom.
  2. Dit gaan die heel beste wees as die groep saam in hierdie gedeelte wandel en met mekaar deel wat spesifiek vir elkeen uitstaan en waarom die woorde of sinsnedes hulle raak.
  3. In die lig daarvan wat ons nou met mekaar gedeel het, hoe lyk dit in ons Gemeente as die liggaam van Christus?
  4. Raak nou weer stil en lees weer deur die gedeelte. Sien hoe die woorde jou so raak en jou lewe verander. Laat toe dat die Here deur sy Gees ook die nodige regstellings maak sodat jy die “heerlikheid van die Here” in jou onmiddellike omgewing weerspieël.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Waarop fokus die groep in die komende week wanneer hulle hierdie gedeelte gaan leef?
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Kerk Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net