{ARGIEF}

 met die fokustekste van die Leesrooster (Woord en Lewe) as basis


Tiende week in Koninkrykstyd
2 Augustus
2Samuel 11:26-12:13a
Ek het gesondig teen die Here
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer jy sien ’n goeie vriend is besig om met sy leefwyse by die afgrond rond te beweeg en jy is die enigste wat met hom kan praat daaroor?
 
Lof en aanbidding
Loof die Here nou met liedere waarin julle Hom met blydskap eer en aanbid en dan kom julle tot rus in sy teenwoordigheid. Dink aan die Here jou God wat met liefde na jou kyk. Wanneer jy bewus is van sy nabyheid, dink na oor iets wat Hy die afgelope week aan jou gegee het waarvoor jy graag wil dankie sê en dank Hom dan in stilte. Dink ook na aan oomblikke die afgelope week toe jy bewus was dat Hy Homself aan jou gee. Na die oomblikke van rus lees iemand die woorde uit Psalm 51:12: “Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig”. Sien in die stilte hoe die Here dit doen.
 
Woord
2Sam.11:26-12:13a

  1. Lees die verse met jou hart en beleef die ontmoeting tussen Dawid en die profeet Natan. Hoor die gelykenis van die twee mans en dink na oor jou eie reaksie op die gelykenis. Voel die reaksie binne jou wanneer jy die woorde hoor: “Jy is die man!”
  2. Watter belangrike woorde lees ons reeds in vers 1 en wat dra Natan aan Dawid oor? (Verse 1-4)
  3. Hoe reageer Dawid op die gelykenis? (Verse 5-6)
  4. Hoe lê Natan die gelykenis uit en hoe reageer Dawid dan? (Verse 7-13a)
  5. Raak nou stil en dink na oor hoe die Here deur hierdie verhaal jou eie lewe verander en nuutmaak. Daarna lees iemand Psalm 51:1-12. (Gee ’n minuut stilte na die lees van die gebed)

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons in die komende week meer bewus van die Here se stem in ons lewe gaan leef?
 
Elfde week in Koninkrykstyd
9 Augustus
2Samuel 18:5-9, 15, 31-33
Die koning is ’n ouer
Ysbreker
Watter mylpale in jou lewe het jou ouers besonder trots gemaak?
Lof en aanbidding
Ons fokus nou op die Here terwyl ons vir Hom liedere sing met blye harte oor sy teenwoordigheid. Daarna word ons stil by Hom en gee onsself oor aan Hom. Dink na oor ’n hartseer oomblik die afgelope tyd in jou lewe (dalk het jy iemand se hartseer gedeel). Hoe het jy die Here se nabyheid in hierdie oomblikke ervaar? Iemand lees Psalm 130 en die groep bid hierdie gebed in hulle harte saam.
 
Woord
2Sam.18:5-9, 15, 31-33

  1. Lees die gedeelte eers weer in stilte en beleef wat hier gebeur. Laat toe dat die gebeure jou hart aanraak en praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Wat is Dawid se versoek en wat is presies hier aan die gebeur? (Verse 5-9)
  3. Wat gebeur wanneer die wapendraers van Joab op Absalom afkom wanneer hy hulpeloos daar hang? (Vers 15)
  4. Wat leer ons uit vers 31-33 oor Dawid? (Dink veral na oor Dawid se woorde “As ek maar in jou plek kon gesterwe het”)
  5. As hierdie groep die geleentheid gehad het om Dawid te troos, hoe sou julle dit gedoen het?
  6. Raak nou weer stil. Lees weer die verse en dink aan gebrokenheid wat jy die afgelope tyd beleef het of rondom jou gesien het. Praat in stilte met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en vertel eers vir mekaar van die dinge wat julle in mekaar raaksien en waardeer. Deel dan julle behoeftes en seer met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter mense in die omgewing wat in rou is, kan die groep hierdie week gaan en wat gaan julle daar doen?
 
Twaalfde week in Koninkrykstyd
16 Augustus
Johannes 6:51-58
Sodat die wêreld kan lewe
Ysbreker
Van watter eetgoed sal jy na die tyd nog ’n skeppie neem, selfs al is jy al versadig?
 
Lof en aanbidding
Die Here is hier tussen ons. Kom ons wees bly daaroor en sing vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Dan raak ons stil by Hom en beleef sy teenwoordigheid. Dink na oor hoe intiem die Here se verhouding met jou is. Praat in jou hart met Hom daaroor. Iemand kan dan hierdie woorde lees: “Ek lewe nie meer nie, maar Christus lewe in my. Christus bid in my, Christus werk in my, Christus dink in my, Christus kyk deur my oë, Christus praat deur my woorde, Christus werk met my hande, Christus loop met my voete, Christus het lief met my hart…” (Moeder Teresa)
 
Woord
Joh.6:51-58

  1. Lees eers weer Jesus se woorde in stilte biddend en sien dit wat Hy sê in jou eie lewe. Herhaal die woorde “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom” so 3 maal in jou hart.
  2. Wat is die agtergrond van hierdie woorde van Jesus? (Verse 1-11, 32-33)
  3. Hoe verstaan ons Jesus se woorde in hierdie gedeelte? (Verse 51-56)
  4. Hoe verskil hierdie Brood wat uit die hemel kom van die manna wat uit die hemel gekom het in die woestyn? (Verse 57-58)
  5. Waaraan herinner verse 53-56 ons?
  6. Raak nou weer stil alleen in jou hart met die Here. Lees die gedeelte weer deur en sien hoe die Here deur hierdie woord jou lewe verander. Praat in stilte met Hom

 
(Dit sou wonderlik gewees het indien die groep hierna brood kon breek en met mekaar deel en ’n beker kon omstuur om mekaar te herinner aan die Here as ons Brood en Wyn)
 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van die dinge wat julle in mekaar sien wat julle daaraan herinner dat die Here in julle lewe. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Lees nou weer Teresa se woorde, dink daaroor na en sien jouself reeds in die week in Christus en Hy in jou.
 
Dertiende week in Koninkrykstyd
23 Augustus
Johannes 6:56-69
Dis darem te erg vir woorde…
Ysbreker
Wanneer gebruik jy gewoonlik die uitdrukking “dis darem te erg vir woorde”?
 
Lof en aanbidding
Ons draai nou ons harte na die Here en in bewondering sing ons vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Dan kom ons tot rus en dink aan sy woorde wat die afgelope week koers aan ons lewe gegee het. Vra Hom in jou stilte om jou te herinner aan woorde wat jou aan Hom laat dink het. Sien ook hoe dit rigting aan jou lewe gegee het. Iemand lees dan Psalm 84 terwyl die res dit beleef en in hulle harte saambid.
 
Woord
Joh.6:56-69

  1. Lees eers die gedeelte in stilte en beleef die gebeure. Hoor die mense mor, sien hoe sommige van hulle omdraai en huis toe gaan en nie weer in Jesus se dissipelgroep hulle gesigte kom wys nie. Hoor Jesus se stem.
  2. Waaroor is die gemor in die dissipelgroep? (Verse 56-60)
  3. Jesus weet van die gemor en praat dan met die groep. Wat beteken Jesus se woorde? (Verse 61-65)
  4. Wanneer die mense omdraai om huis toe te gaan, vra Jesus vir die dissipels wat agterbly of hulle nie ook wil gaan nie. Hoe antwoord Petrus? (Verse 66-69)
  5. Wat wil die Here vir sy dissipels in hierdie gedeelte leer?
  6. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Sien hoe hierdie gedeelte jou lewe verander om of om te draai of saam met Petrus te bely: U het die woorde wat die ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.

 
Bedien  mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Bid vir mekaar en dank die Here vir die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien.
 
Uitsending
Dink saam aan mense wat van die Here en sy kerk weggedraai het en of die groep enigsins dink dit is nodig om weer met die woorde van die Here na hulle toe te gaan. Wie moet gaan?
 
Veertiende week in Koninkrykstyd
30 Augustus
Jakobus 1:17-27
Ek lees en leef die Woord
Ysbreker
Hoekom kyk jy gewoonlik in die spieël?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons fokus nou op die Here en  sing vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Dan kom ons tot rus by Hom en dink aan Hom die afgelope week in ons lewe. Ons dink spesifiek aan mense wat Hy oor ons pad gestuur het vir wie ons sy ore, mond, hande en voete en hart kon wees. Sien in jou stilte hoe Hy deur jou ander seën. Dank Hom daarvoor. Iemand kan hierdie oomblik afsluit met die volgende woorde: “Ter wille van iemand wat gehelp moet word, mag jy wel soms ’n ander goeie daad vir ’n rukkie onafgehandel los. Sonder liefde beteken uiterlike dade niks nie, maar enigiets wat uit liefde gedoen word, hoe klein en eenvoudig dit ook al mag wees, sal volkome vrugbaar wees” (Tomas a Kempis, Die Navolging van Christus)
 
Woord
Jak.1:17-27(ook in Die Boodskap)

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart in stilte. Sien die woorde raak wat vir jou uitstaan en deur die Here op jou hart gelê word. Dink daaroor na tot dit deel is van jou hart.
  2. Watter volmaakte gawe en geskenk het ons van die Vader ontvang en wat beteken dit? (Verse 17-18)
  3. “Elke mens moet maar net te gewillig wees om te luister” (v.19). Wat doen “luister” aan jou? (Vers 19-21)
  4. Maar nou moet ons ook nie net luister nie. Wat leer ons uit verse 22-25?
  5. Watter tipe godsdiens is waardeloos? (vers 26) Watter tipe godsdiens is waardevol? (vers 27)
  6. Raak nou stil by die Here en lees weer die gedeelte deur. Sien hoe die Here jou lewe verander deur hierdie woorde. Jy kan saggies hierdie woorde in jou hart herhaal: “Here, laat my luister en laat my doen, dat ander U in my kan sien”.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here eers vir die mooi dinge wat julle in mekaar sien en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Watter “weduwees en weeskinders” is daar in julle omgewing? Hoe gaan die groep na hulle uitreik?