{ARGIEF}

DERDE WEEK NA EPIFANIE
27 Januarie
Nehemia 8:1-10
Die Woord… en ek
Ysbreker
Om watter redes huil mense gewoonlik?

 Lof en Aanbidding

Raak nou stil en fokus eers op die Here in julle midde. Dink aan maniere waarop Hy die afgelope week met jou gepraat het. Loof en aanbid Hom dan met liedere. Iemand kan Psalm 19:1-12 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

Nehemia 8:1-10

1.Lees weer die gedeelte in stilte. Lees dit so dat jy jouself in die verhaal kan sien. Praat in stilte met die Here oor dit wat jy nou gesien het.
2.Wat is kenmerkend van die erediens op die plein voor die Waterpoort? (Verse 1-4)
3.Hoe reageer die Gemeente op die oopmaak van die “boek”? (Verse 6-7) Hoe voel jy wanneer die Woord oopgemaak word?
4.Wat is die rol van die Leviete? (Verse 8-10)
5.Watter reaksie op die “boek” wil Nehemia graag hê? Hoekom dink julle het hulle gehuil? Watter reaksies maak die Woord van die Here in jou wakker?
6.Wat sê Nehemia vanaand vir ons? Hoe verander die Here ons deur sy Woord?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir die broer/suster wat Hy jou gegee het en bid dan vir mekaar se behoeftes by die naam.

 

Uitreiking

Maak ‘n lys van mense wat julle graag vanjaar sou wou deel maak van julle groep en begin van hierdie week af vir hulle bid.

 

VIERDE WEEK NA EPIFANIE

3 Februarie

Jeremia 1:4-10

Here, hier is ek

Ysbreker

Wat is die beste verskoning wat jy al ooit gehoor of gebruik het?

 

Lof en Aanbidding

Raak eers stil en dink in jou stilte aan die Here. Eers Wie Hy is en dan wat Hy doen. Loof en aanbid Hom dan spontaan met liedere en gedeeltes uit die Woord en gebede. Iemand lees Psalm 71:1-8 en die ander maak die woorde hulle gebed.

 

Deel uit

Draai 2-2 na mekaar toe. Vertel vir jou broer/suster hoe die Here hom/haar al in jou lewe en in hierdie groep gebruik het.

 

Woord

Jer.1:4-10

1.Lees die gedeelte weer in jou stilte. Hoor die Here se stem wat met jou praat. Praat dan met Hom in jou hart oor wat jy gehoor het.
2.Waar begin Jeremia se roeping? Wat sê dit vir jou? (Verse 4-5)
3.Jeremia gebruik twee verskonings sommer so in een asem (vers 6). Noem hulle en dink sommer aan nog verskonings as jy Jeremia moes wees.
4.As die Here vir Jeremia roep, wil HY die werk deur Jeremia doen. Wat is Sy antwoord op ons verskonings? (Verse 7-8)
5.Die Here praat nie net nie, Hy doen ook (verse 9-10). Glo jy dat Hy jou ook so toerus as Hy jou roep?
6.Raak nou eers stil voor die Here. Na so ‘n minuut van stilte deel julle julle roeping vir die jaar met mekaar.

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Bid nou vir mekaar se roeping en mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Na watter een persoon op die groep se gebedslys gaan julle die komende week uitreik en die Here vertrou met die woorde?

 

WEEK VAN SONDAG VAN VERHEERLIKING

10 Februarie

Eksodus 34:29-35

Die Here doen ook iets aan my voorkoms

Ysbreker

Watter persone in jou lewe kry dit reg om jou frons in ‘n glimlag te verander?

 

Lof en Aanbidding

Raak nou stil voor die Here. Fokus eers op Hom. Wanneer julle werklik bewus is van Sy teenwoordigheid, sing dan vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Gee ook geleentheid vir lof en aanbidding in gebed. Iemand lees Psalm 99 terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

 

Woord

Eks.34:29-35

1.Lees weer die woorde van hierdie gedeelte en sien jouself in die prentjie. Geniet die stilte en die teenwoordigheid van die Here en wat Hy in en aan jou doen. Noem dit dan in stilte vir die Here.
2.Wat gebeur elke keer wanneer Moses die Here ontmoet met Moses self? (Verse 29,35)
3.Hoe reageer Aäron en die Israeliete wanneer hulle vir Moses sien? (Vers 30)
4.Wat lees ons in Matt.17:2 van Jesus?
5.Kom ons blaai nou na 2Kor.3:7. Hoekom het Moses se gesig so geskyn?
6.Hoekom trek Moses ‘n doek oor sy gesig? (2Kor.3:13)
7.En wat nou van ons? (2Kor.3:18). Hoe verander die Here ons harte en lewens deur die Woord?

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here eers vir hulle met wie jy nou kan saambid en dit wat hulle in jou lewe vir jou beteken en bid dan vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Op watter wyse gaan die groep in die lewe van iemand anders hierdie week die heerlikheid van die Here weerspieël?

 

EERSTE WEEK IN LYDENSTYD

17 Februarie

Rom.10:8b-13

So sal jy gered word…

Ysbreker

Op watter manier het jy altyd jou ouers se hart bly probeer maak of hulle guns gewen?

 

Lof en Aanbidding

Kom ons raak nou eers stil. Ons dink aan ons Here wat by ons is en dan sing ons aanbiddingsliedere om Hom mee te vereer. Die taize-liedere is nogal heel gepas vir hierdie tyd van die Kerkjaar. Iemand lees Psalm 91:1-2, 9-16 en die ander bid dit in hulle harte saam.

 

Woord

Rom.10:8b-13

1.Lees die gedeelte eers in stilte. Let op woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan. Praat in stilte met Hom daaroor.
2.Op watter manier word ons vrygespreek en gered? (Verse 8b-10). Maar wat dan van ervaring en gevoel?
3.Is daar iemand wat Hom in Hom glo en Hom aanroep, wat teleurgesteld is? (Verse 11-12) Wat beteken dit prakties? Wil ons regtig hê dat die Here ALMAL wat Hom aanroep, ryklik moet seën?
4.Wie sal gered word? (Vers 13)
5.Hoe verander hierdie woorde jou lewe?

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here dat jou hulle wat saam met jou bid, gered is en dra dan mekaar se behoeftes aan die Here op.

 

Uitreiking

Hoe gaan die groep maak om hierdie boodskap by mense uit te kry in die week wat kom?

 

TWEEDE WEEK IN LYDENSTYD

24 Februarie

Fil.3:17-4:1

Wees my navolgers

Ysbreker

Watter persoon in jou lewe het vir jou die heel beste voorbeeld in jou lewe gestel, en hoekom sê jy so?

 

Loof en aanbid die Here

Lydenstyd is ons geleentheid om onsself nuut toe te wy aan ons Here. Ons dink aan Sy lyding en opoffering vir ons. Kom ons raak nou stil en dink aan Hom. Daarna sing ons liedere van aanbidding vir Hom. Iemand lees Psalm 27 voor en die res bid die woorde wat hulle tref, in hulle harte saam.

 

Woord

Is daar iets uit jou binnekamer van die afgelope week wat jou so getref het dat jy dit graag met jou groep wil deel?

Fil.3:17-4:1

1.Lees die woorde in hierdie gedeelte in stilte. Wat tref jou? Sien reeds hoe die woorde wat vir jou uitstaan jou lewe verander. Praat met die Here daaroor in die stilte.
2.Is Paulus verwaand? (vers 17) (Vgl. Ook 1Kor.4:16; 1Tim.4:12) Hoekom of hoekom nie? Wat leer ons uit hierdie versie?
3.Met watter probleme het die gemeente in Filippi geworstel? (Verse 18-19) [Vyande van die kruis is gewoonlik mense wat die kruis van Jesus as nie genoeg of voldoende beskou het nie. Jy moet nog self ook iets doen, soos bv die besnydenis. Die kruis alleen is nie genoeg vir jou redding nie. Jy moet jou redding verdien met goeie werke. Die ander vyande was hulle wat geglo het dat ons redding net geestelik van aard is. Ons kan maar lewe net soos ons wil, maak nie saak watter voorbeeld ons stel nie. Hulle lewe ook asof hierdie lewe al lewe is. “Laat ons eet en drink en vrolik wees…” Dit lyk asof al hierdie mense deel was van die een gemeente in Filippi]
4.Hoe lyk ons hede en ons toekoms? (Verse 20-21)
5.Hoe bemoedig Paulus die Gemeente in 4:1? Sou julle na hierdie woorde van Paulus sy navolgers wou wees?
6.Hoe verander hierdie woorde jou lewe?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Hoe gaan die groep mekaar help om al meer en meer die voorbeeld vir mense te stel sodat almal met wie ons in kontak kom, navolgers van Jesus sal word?

 

DERDE WEEK IN LYDENSTYD

3 Maart

1Kor.10:1-13

Ek kan, want U kan!

Ysbreker

Vir watter kos of lekkerny kan jy nie nee sê nie?

 

Lof en Aanbidding

Raak eers stil en dink in jou stilte aan die Here, veral in Sy tyd van lyding. Aanbid Hom dan spontaan met liedere en gedeeltes uit die Woord en gebede. Iemand lees Psalm 63:2-9 en die ander beaam die Psalm in hulle harte.

 

Deel uit

Draai 2-2 na mekaar toe. Vertel vir jou broer/suster hoe die Here hom/haar al in jou lewe en in hierdie groep gebruik het.

 

Woord

1Kor.10:1-13

1.Lees die woorde in stilte met jou hart. Waarop vestig die Here jou aandag? Praat met Hom daaroor in jou stil oomblik met Hom.
2.Watter voorregte het ons geestelike voorvaders geniet? (Verse 1-4). Watter geestelike voorregte geniet mense in die kerk?
3.Wat het ten spyte van die geestelike voorregte met hulle gebeur? (Vers 5)
4.Hoekom het al die verskriklike dinge met hulle gebeur? (Verse 6-10). Wat wil hierdie verse vir ons sê? [Kyk gerus na die gedeeltes in die Ou Testament: Num.25:1-9; Eks.17:2; Num.21:5,6; 16:41,49; Eks.12:23]
5.Watter bemoediging is daar vir ons in verse 12-13? [Indien iemand in die groep Die Bybel in Praktyk naby het, lees die gedeelte “MOEILIKE KEUSES” op bl.1772 voor vir die groep en gesels daaroor.]

MOEILIKE KEUSES

Elke mens moet elke dag honderde keuses maak. In die meeste gevalle gaan dit nie net oor reg of verkeerd nie – soos bv. ons keuses oor wat ons gaan aantrek of eet. Maar ons kry ook daagliks te doen met belangriker keuses. Ons wil nie self verkeerde dinge doen nie en ons wil ook nie ander mense beïnvloed deur ons keuses om verkeerde dinge te doen nie. Hoe moet ons dan leef en waaraan moet ons ons keuses meet? Die volgende riglyne kan waardevol wees:

  • Bevorder dit my getuienis vie en oor Christus? (9:19-22)
  • Word ek aangespoor deur ’n ywer om ander te help sodat hulle Jesus Christus beter kan leer ken? (9:23; 10:23)
  • Help dit my om my beste te lewer? (9:25)
  • Bots dit met spesifieke opdragte in die Bybel – sal ek m.a.w. sonde doen daardeur? (10:12)
  • Is dit goed en tot hulp? (10:23;33)
  • Dink ek net aan myself of gee ek opreg om vir die ander persoon? (10:24)
  • Getuig my optrede dus van liefde of selfsug? (10:28-31)
  • Word God daardeur verheerlik? (10:31)
  • Sal dit dalk iemand anders aanspoor om sonde te doen? (10:32)

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Bid nou vir mekaar se versoekings en behoeftes.

 

Uitreiking

Na watter een persoon op die groep se gebedslys gaan julle die komende week uitreik? Dalk is daar iemand wat in sak en as sit omdat hy/sy toegegee het aan een of ander versoeking wat homself en iemand anders seergemaak het.

 

VIERDE WEEK IN LYDENSTYD

10 Maart

2Kor.5:11-21

Die liefde van Christus dring ons

Ysbreker

Wat is jou dryfveer in die lewe?

 

Lof en Aanbidding

Kom ons dink nou eers in stilte aan ons Here. Ons aanbid Hom in stil gebed. Daarna sing ons vir Hom liedere wat pas by die tyd van die jaar. Iemand lees Psalm 32 voor en die res llop die pad van die Psalm saam.

 

Woord

2Kor.(5:11-15) 16-21

1.Lees die gedeelte in stilte. Fokus op verse 16-21. Soek die woorde wat vir jou uitstaan en praat met jou God daaroor
2.Wat leer ons uit verse 11-15 oor Paulus en sy medewerkers se bediening? As ons ons bediening daarmee vergelyk, hoe lyk dit dan?
3.In verse 16-18 lees ons van “vroeër” en “nou”. Wat leer ons uit hierdie woorde?
4.Wat lees ons in verse 19 en 20 oor die boodskap en die boodskapper?
5.Hoe klink vers 21 in ons eie woorde?
6.Elke kind van God is ‘n bedienaar. As ons nou ‘n opsomming uit hierdie gedeelte moet maak oor ons bediening, watter gedagtes staan dan vir jou uit?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Dank die Here dat julle die voorreg het om bedienaars van die Here te wees en bid vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Met wie gaan die groep hierdie week die bediening van versoening deel?

 

VYFDE WEEK IN LYDENSTYD

17 Maart

Fil.3:4b-14

My grootste wens

Ysbreker

Op watter prestasie in jou lewe is jy die trotsste?

 

Lof en Aanbidding

Fokus nou eers op die Here deur in stilte aan Hom wat by julle is, te dink. Sing dan vir Hom liedere en loof Hom met gebede en Skrifgedeeltes. Iemand lees Psalm 126 voor en die res bid dit saam.

 

Woord

Fil.3:4b-14

1.Lees die woorde in stilte. Watter woord(e) raak jou hart?
2.Wat wil Paulus vir ons sê in verse 4b-6? Is daar ‘n oupa of ander familielid in jou lewe wie se geloof jy gebruik om jou “godsdienstige beeld” by mense te versterk (of dalk sommer een van jou “geestelike prestasies”? [Beskou jy jou doop of “voorstelling” as prestasies?]
3.Wat dink Paulus van dit waarmee hy eintlik kan spog? (vers 7,8)
4.Wat is Paulus se grootste wens (vers 8, 10,11) En joune?
5.Hoekom span Paulus hom in vir iets wat reeds syne is? Hoe en waarvoor span jy jou in? (vers 12-14)
6.Hoe verander hierdie Woord jou lewe?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel ‘n bietjie julle geestelike ideale en behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.

 

Uitreiking

Na watter persoon gaan julle as groep hierdie week uitreik? Wie gaan en wie gaan die bidwerk doen?

 

SESDE WEEK IN LYDENSTYD

24 Maart

Fil.2:5-11

Ons het Jesus se gesindheid

Ysbreker

Kan jy vir ons van ‘n tyd vertel toe jy regtig die minste was? Hoe het dit jou laat voel? Watter uitwerking het dit gehad op die een teenoor wie jy die minste was?

 

Lof en Aanbidding

Raak nou stil en fokus eers op die Here in julle midde. Sing van die Taizé-liedere wat aanbiddend van aard is. Probeer om in julle geestesoog die lydensweg saam met die Here te loop. Iemand lees Psalm 118:1,2; 19-29 voor en die res van die groep vorm die woorde as gebed in hulle harte.

 

Woord

Fil.2:5-11

1.Lees die gedeelte in jou stilte. Hoe spreek dit jou aan? Praat in stilte met jou God daaroor.
2.Watter opdrag gee Paulus aan die Gemeente (vers 5, vgl verse 3,4). Hoe lyk dit prakties?
3.Hoe lyk die voorbeeld wat Jesus stel en ter wille van wie stel Hy hierdie voorbeeld? (verse 6-8)
4.Watter beloning gee die Vader aan Jesus vir Sy nederigheid? (verse 9-11)
5.Wat beteken verse 5-11 vir ons in ons alledaagse lewe? Hoe verander dit jou?

 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Here dat jy die voorreg het om jou broer/suster so te kan bedien en bid dan vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Met wie gaan die groep in die week wat kom die boodskap van hierdie Skrifgedeelte deel?

 

WEEK VAN PAASSONDAG

31 Maart

Joh.20:1-18

Die graf is leeg!

Ysbreker

Wanneer iets jou ontstel, wie soek jy eerste om dit mee te deel?

 

Lof en Aanbidding

Met die opstanding van Jesus breek die lof weer deur. Loof die Here en aanbid Hom met liedere, gebede en gedeeltes uit die Woord. Iemand lees Psalm 118:1-11; 14-24 voor en die res loof die Here saam in hulle harte.

 

Woord

Joh.20:1-18

1.Dink nou net jouself in: Jy is die eerste een wat die Sondagmôre by Jesus se graf sien en jy sien wat Maria Magdalena gesien het, hoe sou jy gereageer het?
2.Deur watter fases van reaksie gaan die dissipels van Jesus (Verse 2, 6, 16, 18)?
3.Watter groot waarde het Jesus se opstanding vir ons? (Vgl.1Kor.15:17; Rom.4:25; Kol.3:1)
4.As die groep nou die boodskap van Jesus se opstanding vir mense moet gaan vertel, wat sal julle alles sê?

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here dat Hy lewe, vir jou broer/suster se nuwe lewe en bid dan vir mekaar se behoeftes.

 

Uitreiking

Na watter een persoon op die groep se gebedslys gaan julle die komende week uitreik met die boodskap van hoop, omdat Jesus lewe?