{ARGIEF}

leesroostermet die sleuteltekste van die Leersrooster as basis

Tweede week na Epifanie
17 Januarie
Johannes 2:1-12
Hemel en aarde ontmoet by ’n troue
Ysbreker
Kan jy aan gebeurtenisse in jou eie lewe dink waar ’n oënskynlike ramp se einde so goed was dat jy geweet het Iemand anders moes betrokke gewees het?
 
Lof en aanbidding
Loof en aanbid die Here met liedere en gebede en lees vir Hom Psalms van lof en aanbidding. Daarna raak die groep stil. Dink aan die Here jou God in jou lewe die afgelope tyd.  In die vreugde van Kersfees, Nuwejaar, maar ook in die slegte nuus wat jy dalk ontvang of tyd wat jy beleef het. Hoe het die Here jou lewe verander in hierdie tyd? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand kan die oomblik afsluit met die lees van Jesaja 62:1-5 terwyl die res die woorde in hulle harte laat insink. Herhaal die woorde: “Jy sal genoem word: Die een vir wie die Here liefhet” so drie maal saggies in jou hart en gedagtes.
 
Woord
Joh. 2:1-12

  1. Lees eers die gedeelte in stilte. Beleef die oomblikke saam met Jesus by die troue. Beleef die fees, die geselskap van mense – en die bekommernis. Die uiteindelike oorweldigende vreugde met die uitkoms wat Jesus gee.
  2. Het die woorde “op die derde dag” enige noemenswaardige betekenis dink julle?
  3. Gaan met mekaar deur die verhaal soos julle dit beleef asof julle self die troue bywoon. Die vreugde, die krisis, die uitkoms. Wat staan vir julle die meeste uit in hierdie verhaal?
  4. Watter belangrike woorde lees ons in vers 11?
  5. Raak nou weer stil. Terwyl jy stil is, lees die leier die verhaal op die volgende wyse voor: sien jouself in die verhaal. Sien al die gaste, hoor die opgewondenheid van die fees. Ontspan saam met jou geliefdes en geniet hulle geselskap. Jy sien Jesus se moeder en wonder wanneer jy haar weer gaan sien (Joh. 19:25). En Jesus is ook daar, so tuis, een met die mense, saam met sy dissipels. Terwyl almal vrolik is en die blydskap oorloop, sien jy Jesus se moeder in gesprek met Hom. ’n Paar kelners staan by met bekommerde uitdrukkings op hulle gesigte. Tussen al die vreugde is daar ook bekommernis. Dit gebeur so dikwels. Die feesvreugde wat gedemp word. Jy staan nader en hoor die gesprek gaan oor wyn wat opgeraak het en Jesus wat antwoord dat sy tyd nog nie gekom het nie. En jy hoor Jesus se moeder wat na die kelners draai en vir hulle sê hulle moet doen wat Hy vir hulle sê. Jesus wys na die klipkanne waaruit jy water geskep het om jou hande te was toe jy ingekom het. Jy sien die kelners met ’n frons kopskuddend wegstap. En dan kom hulle in met water en begin die kanne vol maak. En weer en weer tot die kanne tot bo vol is. En jy hoor Jesus stuur die kelners met ’n skepding vol van die water na die seremoniemeester, self benoud. En wanneer hy dit proe, is dit die beste wyn. Die fees gaan voort. Ons sien Jesus se heerlikheid. Die engele van God klim op en af na die Seun van die mens. Ons glo, Here. Dit het op die derde dag gebeur…

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle ervaring van die jaar sovêr met mekaar. Deel dan ook julle bekommernisse oor die jaar met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep na hierdie ontmoeting met die Here, gaan hoop gee in ons omgewing?
 
Derde week na Epifanie
24 Januarie
Lukas 4:14-21
Vandag is hierdie Skrifwoord… vervul
Ysbreker
’n Mens sien uit na baie dinge. As jy aan een ding kan dink in jou lewe waarna jy werklik uitgesien het, wat staan dan vir jou uit?
 
Lof en aanbidding
Loof en aanbid die Here met liedere en gebede. Daarna kom julle tot rus en dink aan die Here in julle lewe. Probeer terugkyk saam met Hom oor die afgelope week. Waarna het jy uitgesien die afgelope week? Hoeveel teleurstellings was daar? Sien die Here by jou die afgelope week. In die oomblikke toe jy verras was met blydskap en in die oomblikke toe jy teleurgesteld was. Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand lees Psalm 19:1-5 terwyl die res dit in hulle harte beleef.
 
Woord
Luk. 4:14-21

  1. Lees eers weer die gedeelte met jou hart in stilte en beleef die oomblik saam met Jesus. Volg Hom van sinagoge tot sinagoge totdat jy saam met Hom in sy geboortedorp, Nasaret tot rus kom. Sien Hom lees uit die Skrif, hoor sy woorde. Wat ontdek jy terwyl Hy lees? Beleef die hoop in jou terwyl jy hoor hoe Hy lees. En hoor dan die woorde “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.” Dink daaroor na.
  2. Jesus is so pas deur erge versoekings in die woestyn. Wat lees ons nou van Hom? (Verse 14-15)
  3. In Nasaret, Jesus se grootwordplek, waar die mense Hom nog goed ken, lees Hy in die sinagoge uit Jesaja voor. Wat staan vir jou uit in die gedeelte wat Hy lees? (Verse 16-19)
  4. Wat bedoel Jesus met die woorde in vers 20?
  5. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Dink na oor Jesus se gestuurd-wees en hoe dit wat Hy kom doen ook jou eie lewe beïnvloed.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar: As Jesus nou hier sou instap, watter groot behoefte in jou lewe sou jy graag vir Hom wou noem. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe beïnvloed Jesus se kort boodskap in die sinagoge ons as groep se lewe in ons gemeenskap in die week wat kom? Gesels met mekaar oor die betekenis van die genadejaar vir die gestuurd-wees van die groep.
 
Vierde week na Epifanie
31 Januarie
Lukas 4:21-30
Almal was woedend!
Ysbreker
Het jy al ooit woedend geword om na die tyd te wonder: Was dit nou regtig nodig dat ek so kwaad geword het? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Fokus op die Here in julle midde en gee julleself met lof en aanbiddingsliedere aan Hom. Kom dan tot rus en vra Hom om die afgelope week in jou lewe saam met jou te stap. Dink aan oomblikke waar jy die vrug van die Gees in jou lewe kon sien, of iemand anders dit raakgesien het. Dink ook aan emosies in jou wat jy nie graag in jou wou hê nie, wat jou laat voel het jy is nie bewus van die Here se nabyheid nie. Praat met Hom daaroor. Iemand lees dan Psalm 71:1, 5-8. Herhaal die woorde “U is my hulp van my geboorte af” saggies drie maal in jou hart.
 
Woord
Luk. 4:21-30

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur. Sien die instemming en verwondering by die mense oor die seun uit hulle eie geledere. Hoor Jesus se woorde, sien die woede wat in die mense opbou tot hulle opspring en Hom uitjaag. Wat beleef jy wanneer jy die verskillende reaksies sien?
  2. Waaroor is die mense verwonderd? (Vers 22)
  3. Waaroor is die mense woedend? (Verse 23-28) Wat maak ons woedend in die dinge wat Jesus van ons verwag in ons navolging van Hom?
  4. Wat is die uiteinde van hierdie ontmoeting in die sinagoge in Jesus se tuisdorp? (Verse 29-30) Was dit regtig nodig?
  5. Raak nou stil en lees weer die gedeelte deur. Hoe verander die Here jou terwyl jy die woorde lees? Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes met mekaar. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons hierdie woorde en gebeurtenis toepas op ons lewe in die gemeente waar daar so dikwels woede ontstaan oor Jesus se woorde wat ons nie altyd pas nie.
 
Week van Sondag van Verheerliking
7 Februarie
Lukas 9:28-36
Dit is my Seun wat Ek uitverkies het
Ysbreker
Was jy al op plekke en geleenthede waar jy voel: Ek wil net hier bly? Vertel ons daarvan.
 
Lof en aanbidding
Sing vir die Here liedere waarmee julle Hom verheerlik. Geniet sy teenwoordigheid en laat die blydskap van sy nabyheid jou hart vul. Kom dan tot rus en dink aan Hom. Dink na oor hoe anders Hy jou lewe maak. Dink aan die mees onlangse oomblikke waar sy heerlikheid en teenwoordigheid vir jou dinge in ’n ander lig laat sien het. Praat met Hom daaroor. Iemand eindig dan met die woorde van Psalm 99:9 terwyl die res dit in hulle harte herhaal.
 
Woord
Luk. 9:28-36

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart. Lees dit asof jy saam met Jesus is, en hierdie wonderlike oomblik aanskou en beleef. Beleef die uitsig vanaf die berg, sien hoe Jesus bid. Wat gebeur in jou binneste wanneer jy Hom sien bid. Sien hoe Hy verander en skitter terwyl Hy bid. Sien die hemelse glans, Moses, Elia. Sien die wolk. Hoor die stem uit die wolk. Beleef die heerlikheid van hierdie oomblik.
  2. Met watter doel gaan Jesus teen die berg op? (Vers 28)
  3. Wat gebeur wanneer Jesus bid? (Verse 29-32)
  4. Hoe reageer Petrus? (Vers 33) Hoe sou jy gereageer het?
  5. Waarvan is die wolk ’n teken en wat gebeur wanneer die wolk ’n skaduwee oor hulle gooi? (Verse 34-35)
  6. Raak nou stil en lees weer die gedeelte. Dink na oor die verandering in jou eie hart (vgl. 2Kor. 3:18) Sal jy kan stilbly? (vers 36)

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle die heerlikheid van Christus in mekaar sien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons in die week wat kom ons medegelowiges bemoedig met hierdie gedeelte?
 
Eerste week in Lydenstyd
14 Februarie
Deut.26:1-11
Ek onthou my verlossing
Ysbreker
Gesels saam oor: “Mense raak die gouste kwaad wanneer hulle geld in gedrang is of wanneer die dominee preek oor geld”
 
Lof en Aanbidding
Sing vir die Here liedere waardeur julle julle dankbaarheid vir julle verlossing betoon.  Kom dan tot rus by die Here en dink met waardering aan die pad wat Hy die afgelope week met jou gestap het. Dink na oor spesifieke geskenke wat Hy vir jou gegee het en hoe Hy Homself aan jou kom gee het. Noem die geskenke en sê dankie daarvoor. Na die oomblikke van stilte lees iemand Psalm 91:1-8, 14-16 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Deut.26:1-11

  1. Lees eers die gedeelte met jou hart in stilte deur. Laat die woorde “die Here jou God” tot diep in jou hart insak. Beleef hoe Hy Homself ook in hierdie gedeelte vir jou kom gee en hoe jy wil reageer.
  2. Sommer in vers 1 word gepraat van “die Here jou God”. (vgl. Verse 2,4,5,10,11). Wat sê dit vir ons oor die Here wat hier aan die woord is?
  3. Wat moet die kinders van die Here doen volgens verse 1-4?
  4. Waarom moet hulle die offer aan die Here bring? (Verse 5-10). Waarom offer ons gewoonlik aan die Here? (vgl.Heb.9:14)
  5. Wat sê vers 11 vir ons?
  6. Hoe belangrik dink julle is dit dat ons vandag nog aan die Here offer? (bv. geld, tyd, kragte, gawes (van die Heilige Gees), jou ervaring, jou opleiding – dink aan nog) (Rom.12:1; 2Kor.9:6-8; 1Tim.6:18)
  7. Kom nou tot rus by die Here. Dink na oor die verandering wat Hy deur hierdie woorde in jou hart gebring het. Sê vir Hom dankie.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar. Bid vanaand dat die Here jou broer/suster so sal seën dat hy/sy genoeg het om aan die Here te offer.
 
Uitsending
Hoe kan die groep ‘n voorbeeld begin stel van ‘n lewe as offer aan God?
 
Tweede Week in Lydenstyd
21 Februarie
Luk.13:31-35
Jerusalem! Jerusalem!
Ysbreker
Watter ou liefdeslied of enige ou lied roer jou so dat jy trane in jou oë kry?
 
Lof en Aanbidding
Sing aanbiddingsliedere vir die Here waarmee julle Hom bewonder en eer. Daarna kom jy tot rus en dink aan God se liefde vir jou die afgelope week. Dink aan oomblikke toe jy ervaar het jy is nou so naby aan Hom soos ‘n kuiken onder ’n hen se vlerke. Dank Hom vir sy liefde en sorg vir jou gedurende die week. Daarna lees iemand Psalm 27:4-10 en die res beleef die Psalm en bid dit in hulle harte saam.
 
Woord
Luk.13:31-35

  1. Lees die gedeelte biddend. Asof jy self in die verhaal teenwoordig is. Sien die Fariseërs, hoor hulle waarskuwing. Hoor Jesus se antwoord en sy hartseer woorde oor Jerusalem. Hoe raak dit jou?
  2. Wat gebeur in verse 31-33? Wat beteken Jesus se woorde aan Herodes?
  3. Hoe verstaan ons Jesus se vergelyking in vers 34?
  4. Is daar hoop vir Jerusalem? (Vers 35)
  5. Kom nou weer tot rus en lees die gedeelte deur. Dink na oor hoe dit jou raak sodat daar in jou binneste ’n verandering kom.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die mooi en goeie wat julle in mekaar raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep in die week deelneem aan Jesus se roeping om mense “bymekaar te maak”?
 
Derde Week in Lydenstyd
28 Februarie
Jesaja 55:1-9
‘n Ewige verbond, troue liefde
Ysbreker
As jy al die geld in die wêreld gehad het, wat sou jy eerste gekoop het?
 
Lof en aanbidding
Kom ons raak nou stil voor die Here, daarna sing ons liedere wat pas by Lydenstyd vir Hom. Kom dan tot rus en dink na oor die Here in jou afgelope week. Watter oomblikke staan vir jou uit as nabye oomblikke aan Hom? Wat het gebeur? Waar was jy? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand lees dan Psalm 63:1-9 terwyl die res dit in hulle harte as gebed oordink.
 
Woord
Jes.55:1-9

  1. Lees die gedeelte biddend en sien die woorde en gedeeltes raak wat jou aanspreek. Herkou die woorde en laat dit afsak tot diep in jou hart. Beleef God se liefde vir jou terwyl jy die gedeelte lees.
  2. Watter eienaardige uitnodiging gee die Here in vers 1? Wat beteken dit?
  3. Die uitnodiging in vers 1 word uitgebrei in verse 2-5. Wat wil die Here vir sy kinders leer in hierdie verse?
  4. Wat dink julle beteken vers 6 en 7? (Vgl. Matt.28:20)
  5. Baie keer gebruik mense hierdie gedeelte om jou in moeilike omstandighede te bemoedig. Kan ons regtig troos vind uit verse 8 en 9?
  6. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur en praat met die Here oor die woorde wat jou raak. Herhaal die woorde “Ek wil met jou ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan jou betoon”. Dink na oor hoe die Here jou verander deur hierdie gedeelte in die Woord.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Gesels met mekaar oor die dinge wat julle bekommer en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep hierdie week mense in die omgewing met die woorde uit Jes.55 bemoedig?