{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Vierde week na Epifanie
29 Januarie
Miga 6:1-8(9a)
Leef jou geloof
Ysbreker
Hoe maak julle gewoonlik ‘n “onaangenaamheid” in julle gesin weer reg?
 
Lof en Aanbidding
Loof nou die Here met oorgawe en aanbid Hom uit julle harte. Kom tot rus by die Here en in jou stilte dink jy oor jouself. Wie sê jy, is jy? Wie sê ander mense, is jy? Wie sê jou God, is jy? Hoor nou sy stem wat jou noem: My geliefde kind, verenig met my Seun. Iemand lees dan 1 Kor.1:30 en die res neem die woorde in hulle harte in. Herhaal die woorde: “Ek is met Christus Jesus verenig” in jou hart.
 
Woord
Miga 6:1-8(9a)

  1. Lees die gedeelte eers in stilte en let op die bewegings in jou eie hart wanneer jy die woorde lees. Wat raak jou in besonder? Praat met Hom daaroor.
  2. Dit lyk of die Here agtergekom het dat Sy kinders onder mekaar kla dat Hy hulle moeg maak. En nou begin Hy met hulle praat. Waaraan herinner Hy hulle alles? (Vers 4-5)
  3. Nou antwoord die volk. Hoe wil hulle die onaangenaamheid tussen hulle en God regstel? (Vers 6-7). [Let daarop dat hulle iets wil doen – hulle wil God se guns wen deur dit te verdien]. Hoe probeer ons dinge tussen ons en God regmaak?
  4. Dan praat die profeet. Wat antwoord hy? (verse 8-9a). [Die profeet se antwoord dui daarop dat die volk doodgewoon moet gaan wees wat hulle is, omdat God hulle soveel gunste bewys het. “Gaan wees net wat God jou gemaak het”. Dit gaan nie oor dit wat jy doen nie, maar oor wie jy in Christus is – leef dit. Dit is diens aan God.] Wat het Hy van jou gemaak?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees die woorde wat jou getref het weer en fluister dit saggies. Sien hoe die Here jou deur sy Woord verander sodat jy net kan gaan leef wie jy is.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle bekommernisse met mekaar. Neem dan mekaar se hande, dank die Here vir mekaar en bid vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Na wie gaan jy hierdie week om bloot jouself te gaan wees (m.a.w. dit wat God jou gemaak het)?
 
Vyfde Week na Epifanie
5 Februarie
1Korintiërs 2:1-12 (13-16)
Jesus as die Christus alleen!
Ysbreker
Dink gou aan ‘n wysheid wat jou ouers, of ‘n onderwyser of enigiemand by wie jy geleer het, jou vertel het wat jy tot vandag onthou, omdat dit jou lewe beïnvloed het.
 
Lof en aanbidding
Fokus nou op die Here in julle midde en sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Daarna kom die groep tot rus by Hom en dink in stilte aan Hom. Sien jou God wat met liefde na jou kyk. Dink na oor iets besonder wat Hy die afgelope week vir jou gegee het, en hoe Hy Homself vir jou kom gee het. Sê vir Hom dankie. Iemand lees dan Psalm 112:1-9 terwyl die res dit biddend beaam in hulle harte. Herhaal die woorde: “Ek is gerus, ek vertrou op die Here” in jou stilte so driemaal.
 
Woord
1Kor.2:1-12 (13-16)

  1. Lees eers weer die woorde in die gedeelte in stilte. Let op woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan en fluister die woorde saggies, sodat dit deel word van jou.
  2. Lees nou eers 1:30 en dink daaroor na dat jy met Christus verenig is – Hy is die wysheid wat van God kom. Deel dan met mekaar wat dit vir jou beteken.
  3. Die mense in Korinte was behep met wysheid. Hulle was lief vir debatte, redenasies en argumente. Wie is die ware wysheid en hoe deel Paulus Hom met die mense in Korinte? (Verse 1-5)
  4. Wat is die kern van Paulus se verkondiging en wat is sentraal in die Gemeente van die Here? Lees verse 6-13 en deel met mekaar die woorde en sinsnedes wat die Here op jou hart lê. Wat beteken dit vir julle dat die geheim, die verborge waarheid nou geopenbaar is? Hoe het God gekies om sy geheim aan ons bekend te maak? Wie is die geheim?
  5. Alles gaan oor Jesus, die Gekruisigde. As iemand wat met Jesus verenig is deur die Gees, kan jy dit verstaan. Hy is sentraal in die Gemeente, in jou lewe. Ons hele bestaan draai om Hom. Raak nou stil en dink na oor jou God. Die Vader wat die geheim aan jou bekend maak, Jesus die Gekruisigde, die Gees wat net na Jesus wys. Hoe verander die Gees deur hierdie gedeelte jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle die Here Jesus in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe verander hierdie gedeelte ons verkondiging van praat oor onsself na Jesus as die gekruisigde, in afhanklikheid van die Gees?
 
Sesde Week na Epifanie
12 Februarie
1Korintiërs 3:1-9
Volwassenes, kindertjies, geestelik, wêrelds
Ysbreker
Waaroor het jy al so geargumenteer met vriende dat dit op ‘n kwaaivriendskap geëindig het?
 
Lof en aanbidding
Dink nou aan Jesus in julle midde en loof en aanbid die Here met julle liedere. Raak dan stil en gee Hom die geleentheid om saam met jou deur die afgelope week in jou lewe saam met jou te loop. Wanneer het jy op jou naaste aan Hom gevoel? Dank Hom daarvoor. Was daar oomblikke dat jy met iemand gestry het en verwydering met jou Here beleef het? Het dit jou Gemeente beïnvloed? Praat met Hom daaroor. Laat die Gees jou oorneem en lei. Iemand lees Psalm 119:1-8 en die res bid dit in hulle harte saam. Fluister die woorde: “Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie”.
 
Woord
1Kor.3:1-9

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart en sien jouself in die prentjie wat Paulus hier skets. Herhaal die woorde wat uitstaan, sodat dit deel word van jou lewe.
  2. Watter probleem het Paulus met die Gemeente van Korinte? (Verse 1-2)
  3. Wat is die resultaat van die probleem? (vers 3)
  4. Waaroor was die verdeeldheid in die Gemeente? (Verse 4-7) Waaroor is daar vandag verdeeldheid in die Gemeente?
  5. Hoe bring Paulus hulle terug na die kern van die Gemeente? (vers 8) Waarom gaan dit eintlik in die Gemeente en in elke gelowige se lewe?
  6. Lees nou weer die gedeelte in stilte biddend. Fluister die woorde: “Dit gaan om God”. Sien hoe jou lewe verander wanneer alles om God gaan.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die mooi dinge wat julle van mekaar waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar en die Gemeente.
 
Uitsending
Hoe gaan ons as groep die boodskap “Dit gaan om God” in die volgende week verkondig en leef?
 
Sewende Week na Epifanie
19 Februarie
1Kor.3:10-11, 16-23
Julle behoort aan Christus
Ysbreker
Hoe jou jy graag wou hê jou droom-huis moet wees?
 
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here liedere en raak bewus van Hom wat hier tussen julle is. Raak dan stil en geniet in die stilte sy nabyheid en beleef sy aanraking. Dink daaraan dat ook hierdie groep die tempel van die Heilige Gees is waarin Hy woon. Dra in jou stilte hierdie groep aan die Here op. Vra Hom ook om vandag alles wat die groep mag verdeel, te verwyder. Gee jouself aan die Here om by hierdie byeenkoms te sê wat Hy in jou mond lê en te doen wat Hy in jou hart lê. Iemand kan hierdie oomblikke afsluit met die lees van Psalm 119:33-40. Herhaal in jou hart: “Laat my leef op die weg wat U aanwys”…
 
Woord
1Kor.3:10-11, 16-23

  1. Lees die gedeelte in stilte biddend en sien jouself in die gebou, die tempel. Let op woorde wat vir jou uitstaan en fluister die woorde sodat dit deel word van jou hart en lewe. Sien hoe jy verander word.
  2. Hoe beskryf Paulus die Gemeente in verse 10-11? Wat (Wie) is die belangrikste in die Gemeente?
  3. Wanneer ons na verse 16-23 kyk, omskryf Paulus die Gemeente nog nader. Hoekom is die Gemeente so kosbaar vir God?
  4. Met watter probleem het die Gemeente geworstel? Waarmee worstel ons vandag?
  5. Aan wie behoort die Gemeente?
  6. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deel en herhaal die woorde wat jou tref saggies in jou hart. Hoe verander dit jou eie lewe wanneer jy die woorde hoor: “julle behoort aan Christus”

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Waardeer eers mekaar as mense wat aan Christus behoort. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep die groot waarde wat die Gemeente vir God het, gaan leef in die komende week?
 
Sondag van verheerliking en die week daarna
26 Februarie
2Pet.1:16-21
Met ons eie oë, ons eie ore
Ysbreker
Watter woorde gebruik jy gewoonlik om iemand te oortuig dat jy die waarheid praat en nie besig is om storietjies op te maak nie?
 
Lof en aanbidding
Verheerlik nou die Here met julle liedere van lof en aanbidding. Kom dan tot rus by Hom en geniet die aandag wat Hy nou aan jou gee. Bid dat Hy saam met jou deur die afgelope dag en week in jou lewe sal stap en jou sal wys wanneer het jy Hom “met jou eie oë gesien” en sy stem gehoor. Dank Hom vir die intieme oomblikke saam met jou. Iemand lees dan Psalm 99 terwyl die res hulle verwonder in hulle God. Herhaal die woorde: “Prys die Here ons God, buig voor Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig”.
 
Woord
2Pet.1:16-21

  1. Lees in stilte die gedeelte asof jy deel is van die woorde, self daar is. Wat gryp jou aan? Bedink dit in jou hart.
  2. In Petrus se tyd was daar dwaalleraars wat rondgegaan het en die evangelie wat Petrus oor Jesus se krag en sy wederkoms afgemaak het as versinsels of legendes. Hoe antwoord hy en waarna verwys hy? (Verse 16-18)
  3. Dit wat Petrus met sy eie oë gesien en met sy eie ore gehoor het bevestig ‘n baie belangrike saak. Wat beteken dit? (Verse 19-21)
  4. Hoe is die boodskap en wat moet die gelowiges daarmee doen? (vers 19)
  5. Wie is die môrester?
  6. Raak nou stil en lees weer die gedeelte deur. Dink na oor wat jy antwoord wanneer mense vir jou sê die evangelie oor Jesus is net storietjies. Wat kan jy uit jou eie lewe vir so iemand sê?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel nou julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan ons die wêreld oortuig van die waarheid van dit wat ons in ons Gemeente verkondig?
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net