{ARGIEF}

met die fokustekste van Woord en Lewe (die Leesrooster) as basis
Sesde week in Koninkrykstyd
5 Julie
2Samuel 5:1-5, 9-10
Die Here het hom bevestig
Ysbreker
Oor watter een of meer van jou familie of vriende of selfs mense wat jy net een keer ontmoet het, praat jy die graagste en hoekom?
 
Lof en aanbidding
Ons draai nou ons gedagtes en harte na die Here toe en sing vir Hom liedere waarmee ons Hom verheerlik en ons harte warm maak. Daarna kom ons tot rus en fokus in stilte op Hom. Dink aan spesifieke geskenke of seëninge wat jy die afgelope week van die Here ontvang het. Sien oomblikke toe jy besef het Hy gee Homself aan jou. Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand kan die oomblik afsluit met die gebed en almal bid dit in hulle harte: “Here, U het ons geroep om nou hier te wees. Doen in ons wat U graag wil, doen aan ons wat U graag wil en doen ook nou deur ons wat U graag wil. Dit is vir ons die beste.”
 
Woord
2Sam.5:1-5, 9-10

  1. Raak nou eers op jou eie stil met die Skrifgedeelte en lees dit met jou hart. Beleef die gebeure saam met Dawid asof jy self daar is. Wat staan uit vir jou terwyl jy die gedeelte lees?
  2. Die volk van die Here was op hierdie stadium verdeel in twee: Juda en Israel, terwyl Dawid reeds gesalf is tot koning van Juda. Wat is baie belangrike oomblikke wat ons moet raaksien wanneer hy gesalf word as koning ook van Israel? (Verse 1-5; vgl. Ps.89:21)
  3. Wie se volk is dit en wie is die eintlike Herder en Koning?
  4. Wat sien jy raak in verse 9-10 oor die Here se verhouding met Dawid en sy volk?
  5. Vergelyk 1Sam.13:14 met Mark.1:11. Wat leer jy hieruit?
  6. Raak nou weer stil by die Here. Hoor sy stem wat vir sê: “Jy is My geliefde kind. Oor jou verheug Ek My”. Hoe verander dit jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
In Dawid se geval wil die Here Herder en Koning wees oor sy volk. Hy wil dit deur Dawid doen. Wat dink die groep wil die Here die week deur julle op sy aarde doen?
 
Sewende week in Koninkrykstyd
12 Julie
2Samuel 6:1-5, 12b-19
Die Here, die Almagtige is hier!
Ysbreker
Was daar al ooit ’n tyd dat jy gevoel het jy wil in die strate dans? Wat het gebeur?
 
Lof en aanbidding
Ons sing liedere waarmee ons die Here loof en aanbid en konsentreer op die woorde waarmee ons Hom. Daarna kom ons tot rus by die Here en fokus op sy teenwoordigheid hier in ons midde, asof die groep rondom Hom bymekaar is, in sy heiligdom. Iemand lees dan Psalm 24 terwyl die res dit biddend in hulle harte beaam. Dink in stilte na oor die woorde “berg van die Here”, “sy heiligdom”, rein hande, suiwer hart.
 
Woord
2Sam.6:1-5, 12b-19

  1. Lees eers die gedeelte in stilte deur en beleef wat hier gebeur. Beleef die blydskap van Dawid en die mense, hoor die musiek, sien die ark van God en dink na oor wat die ark vir jou beteken.
  2. Waaroor is Dawid en sy mense so uitbundig bly? Wat is so besonder aan die ark? (Verse 1-5)
  3. Na ’n onderbreking bring Dawid die ark, die keer word dit op ’n ander manier gedra, van Obed-Edom na Jerusalem (die Dawidstad). Wat dink julle van Dawid se “waardigheid”? Wie was almal betrokke by die fees? (Verse 12b-19)
  4. Wat is opvallend van Dawid se roeping en taak in vers 18?
  5. Wanneer mense na die ark gekyk het, het hulle besef “die Here is hier om ons te seën”. Waarna kyk ons sedert Jesus se koms vandag om tot hierdie besef te kom?
  6. Kom nou tot rus by die Here. Dink nou aan oomblikke van ontmoeting met die lewende teenwoordige Here die afgelope tyd in jou lewe en dank Hom daarvoor. Dink na oor hoe die Here deur hierdie gedeelte jou lewe verander en praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van die wyses waarop julle die teenwoordigheid van die Here in mekaar beleef, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Op watter wyse kan hierdie groep gaan verkondig (sonder woorde – net dat mense na julle kyk) dat die Here teenwoordig is? Beplan saam.
 
Agtste week in Koninkrykstyd
19 Julie
2Samuel 7:1-14a
Die ark van God staan in ’n tent…
Ysbreker
As  jy in ’n lang tou vir ’n ruk staan, gee jy vir iemand wat van buite kom die geleentheid om voor jou te kom staan, of verkies jy jou plek in die tou? Hoekom?
 
Lof en aanbidding
Kom ons raak bewus van die Here in ons midde. Ons sing vir Hom liedere waarmee ons Hom loof en aanbid. Daarna raak ons stil by Hom en dink aan Hom. Iemand lees die woorde van Efesiërs 2:19-21. Oordink die teenwoordigheid van die Here in julle midde “as ’n geestelike huis waarin God woon”.
 
Woord
2Sam.7:1-14a

  1. Lees eers die gedeelte in stilte en beleef wat hier gebeur. Beleef Dawid se rus en vrede en voorspoed en die gevoel in sy hart wat hy teenoor die profeet uitspreek dat hy graag vir die Here iets terug wil gee, uit dankbaarheid, ’n huis. Beleef die ontmoeting van die profeet met die Here en hoor die Here se ander plan as Dawid s’n. Dink in stilte daaroor na.
  2. Wat dink julle van Dawid se gedagte en die instemming van die profeet? (Verse 1-3)
  3. Wat gebeur dieselfde nag? Klink dit of die Here tevrede is met die planne van Dawid en Natan? (Verse 8-10) Hoekom? (Vgl. Hand.7:46-50)
  4. Wat belowe die Here vir Dawid? (Verse 11-14a) (Vgl. Luk.1:31-33)
  5. Lees nou weer Efesiërs 2:19-21. Hoe lyk die Here se huis waarin Hy woon?
  6. Raak stil my die Here en oordink sy teenwoordigheid oral en in alles en hoe dit jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê vir mekaar watter dinge wat julle in mekaar sien, julle waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe gaan die mense in julle dorp en omgewing weet dat God steeds teenwoordig is? Bespreek en beplan saam.
 
Negende week in Koninkrykstyd
26 Julie
2Samuel 11:1-15
Man na God se hart, of sy eie…?
Ysbreker
Het jy al ooit beleef dat iemand van wie jy ’n hoë dunk gehad het en nagevolg het as jou mentor, jou op ’n dag erg teleurgestel het? Gesels met mekaar sonder om ander mense se name te noem.
 
Lof en aanbidding
Sing vir die Here liedere waarmee julle Hom eer en wat julle harte warm maak. Daarna raak julle stil by Hom en beleef Hom in die stilte. Dink na oor die afgelope week in jou lewe. Dink aan oomblikke waar jy besonder bewus was van Hom naby aan jou. Oordink dit in stilte. Daarna dink jy aan oomblikke toe jy nie aan Hom gedink het nie, waar dit vir jou gevoel het jy beweeg weg van Hom af. Praat in jou stil oomblik met Hom daaroor en beleef hoe Hy jou in sy vergewende arms neem. Iemand kan dan afsluit met die gebed van moeder Teresa: “My Heer, ek het U lief, my Heer ek is jammer, my Heer, ek glo in U, my Heer ek vertrou U. Help ons om mekaar so lief te hê soos U ons het.”
 
Woord
2Sam.11:1-15

  1. Lees die gedeelte weer biddend deur. Beleef wat binne-in jou gebeur terwyl jy dit lees. Watter emosies ervaar jy terwyl jy dit lees? Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Ons deel nou met mekaar ons belewing van hierdie gedeelte. Hoe voel julle oor Dawid? Hoe voel julle oor alles wat in hierdie paar verse gebeur? (Verse 1-15)
  3. Hoe dink julle het dit gebeur dat die man na God se hart nou sy eie hart begin volg het? (Lees ook Jer.3:21)
  4. Gaan dit in hierdie gedeelte oor spesifieke sondes of wat wil die Here graag deur hierdie treurige verhaal vir ons vertel?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Dink aan die ervaring van afgestomp raak teenoor God en selfs van Hom vergeet, sodat jou dinge belangriker word as Hy. Praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en dra mekaar dan aan die Here op.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep in hierdie week gaan lewe met die wete dat God in ons midde is en ons met sy teenwoordigheid rekening hou?
 
 
 
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net