{ARGIEF}

Agtste week in Koninkrykstyd
14 Julie
Lukas 10:25-37
Wie se naaste is ek?
Ysbreker
Wanneer jy regtig in die nood is, wie sal jy graag wil hê moet jou help en hoekom?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom die afgelope week in jou lewe. Dink aan mense wat by jou kom stilstaan het met ’n woord van bemoediging, handdruk, of oor wat na jou luister. Hoe het jy Jesus in die persoon raakgesien? Hoe kon jy op jou beurt in iemand in nood se lewe vir Jesus teenwoordig maak? Dank Hom in stilte daarvoor. Loof en aanbid die drie-enige God dan met julle liedere.
 
Woord
Luk.10:25-37

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte. Fokus veral op die gelykenis en sien jouself daarin. Sien jouself eers as die man wat aangeval is en jouself nie kan help nie. Sien hoe die een na die ander godsdienstige mense verbykom en in jou raaksien en ’n draai om jou loop. Sien die Samaritaan. Kyk in sy oë en sien vir Jesus… of sien jouself as die mense wat verbyloop. Wanneer jy die rol van die Samaritaan speel, sien jy die man wat langs die pad lê, is Jesus… beleef die gelykenis in jou hart asof jy self daar is.
  2. Op watter manier vra ons die vraag oor ons naaste? (Verse 25-29) Dink aan vrae en opmerkings wat ons vra en maak om van ons naaste ’n strydpunt te maak.
  3. Wat gebeur in die gelykenis? Kyk eers na verse 30-32. Dink aan verskonings waarom die priester en Leviet ’n draai om die man geloop het.
  4. En nou kom iemand verby en jy verwag nie dat hy gaan stilhou nie. Wat gebeur wanneer die Samaritaan op die toneel verskyn? (Verse 33-35)
  5. Selfs die wetgeleerde se oë gaan oop. Hoe sou ons Jesus in ons eie woorde geantwoord het? (Verse 26-37)
  6. Gaan nou weer in stilte terug na 1. Sien Jesus in die Samaritaan in jou lewe. Sien Jesus in wonde voor jou lê. Hoor sy stem: “Gaan maak jy ook so”.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar. Dank die Here vir die feit dat jy Hom kan sien in hulle wat nou saam met jou bid.
 
Uitreiking
Hoe gaan hierdie groep die komende week vir Jesus teenwoordig maak in die omgewing?
 
Negende week in Koninkrykstyd
21 Julie
Luk.10:38-42
Jy is besorg en bekommerd oor baie dinge…
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer jy op spesifieke tye hard moet werk vir die Gemeente, terwyl jy weet dit is alles “vrywilligerswerk” en jy kan dalk nie eers daarvoor bedank word nie?
 
Lof en aanbidding
Raak nou stil by die Here. Skakel vir hierdie oomblik bietjie af en bring jou malende gedagtes oor alles wat nog die week gedoen moet word, tot rus. Dink terug oor jou week. Terwyl jy rondgehardloop het, waar was Jesus? Wat het dit aan jou gedoen om tot stilstand te kom en net by Hom te gaan sit en na Hom te kyk en luister? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan vir die Here liedere waarmee julle Hom bewonder.
 
Woord
Luk.10:38-42

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte deur en beleef die oomblikke saam met Jesus. Sien vir Maria aan die voete van Jesus. Hoor sy woorde. Sien vir Marta wat rondhardloop terwyl Maria probeer konsentreer op die woorde wat Jesus sê. Hoor op die agtergrond die borde, potte en panne, die besem wat vee. Sien hoe moeg Marta is van die werk. Sien ook die gesindheid waarmee sy so besig is. Kyk of jy haar gesigsuitdrukking kan sien. En dan sê sy wat op haar hart is. Dink daaroor na of jy met Marta saamstem of nie.
  2. Hoe leer ons vir Marta ken in hierdie gedeelte? (Verse 38, 40) Kan jy jouself sien in Marta?
  3. Wat doen Maria terwyl hierdie belangrike gas ontvang word? (Vers 39) Sien jy jouself in haar?
  4. Wat verstaan Marta verkeerd? (Vers 41-42) Wat is die “net een ding” waarvan Jesus praat?
  5. Beteken dit nou dat ons net die hele dag by Jesus se voete moet sit en niks moet doen nie? Beteken dit dat ons nou die hele dag moet rondhardloop en besorg en bekommerd wees oor baie dinge en nooit vir Jesus raaksien of kom sit by sy voete nie?
  6. 6.      Raak nou stil by die Here. Dink na oor jou tye van “aan die voete van die Here gaan sit” en praat in stilte met Hom daaroor. Dink na oor die volgende woorde: Dit is in stil word aan U voete dat ek U beter leer ken, o Heer. So leer ek ook om myself deur U oë en hart te sien. (AH)

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitreiking
Hoe kan ons mekaar hierdie week help om die dissipline van sit aan die voete van Jesus ernstig op te neem en daagliks tyd te maak vir Sy stem?
 
Tiende week in Koninkrykstyd
28 Julie
Luk.11:1-13
Here, leer ons bid…
Ysbreker
Wie het jou leer bid en kan jy nog van die gebede onthou wat jy heel eerste in jou lewe gebid het?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Dink na oor die afgelope week in jou lewe. Wanneer het jy Hom op sy naaste aan jou ervaar? Watter beelde van Hom kom by jou op terwyl jy so deur jou week blaai? Was daar oomblikke toe jy gevoel het Hy staan op ’n afstand na jou en kyk? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan vir Hom lof en aanbiddingsliedere en dink daaraan dat julle met Hom praat terwyl julle sing.
 
Woord
Luk.11:1-13

  1. Lees die gedeelte bidden. Sien jouself in die middel van die verhaal. Jy is een van die dissipels. Sien hoe Jesus eenkant gaan. Hou Hom dop. Sien hoe Hy bid en wat dit aan Hom doen om te bid. Dink daaroor dat as Jesus dit nodig vind om gereeld te gaan bid, iewers eenkant, dan jy nog meer. En wanneer Jesus dan klaar is, brand die vraag in jou hart: Here, leer ons bid. Hoor nou sy stem, sien hoe die ander dissipels saam met jou rondom Hom gaan sit en aandagtig luister. Hoor wat Hy sê. Dink na oor jou reaksie op die kort gebed. Is dit al?
  2. Die dissipels leer nie net by Jesus deur sy woorde wat hulle hoor nie, maar ook deur Hom dop te hou. Hoe gebeur dit in hierdie gedeelte? (Vers 1) Op watter manier sien ons Hom?
  3. Hoe klink die gebed wat Hy sy dissipels leer? (Verse 2-4)
  4. Hoe verduidelik Jesus vir hulle wat dit is om te bid? (Verse 5-9)
  5. Jesus beskryf gebed as vra, soek en klop. Hoe verander dit die gedagte wat jy nog altyd oor gebed gehad het? (Verse 9-10)
  6. Wat wil Jesus ons leer oor dit wat ons vra en dit wat ons ontvang wanneer ons bid? (Verse 11-13) Wat (Wie)  is die grootste geskenk wat Jesus jou kan gee?
  7. Hoe verander hierdie ontmoeting met Jesus jou gebedslewe? Dink na oor hierdie woorde: Jesus, kan dit wees dat U my ‘n kort gebed leer, waarin ek alles nodig sê, sodat ek eerder tot ware stilte kan kom om U te hoor en beleef? (AH)

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar. Sien vir Jesus tussen julle sit terwyl julle bid.
 
Uitreiking
Hoe kan ons as groep die mense in ons omgewing met ons saamneem terwyl ons groter erns maak met ons gebedslewe?
 
Elfde week in Koninkrykstyd
4 Augustus
Luk.12:13-21
Die oorvloed van jou besittings
Ysbreker
Kom ons wees nou regtig eerlik met mekaar: Wat sal jou die gelukkigste mens op hierdie aarde maak?
 
Lof en aanbidding
Ons raak eers stil by die Here. Kom ons dink na oor ons God se betrokkenheid in ons lewe die afgelope week. Het Hy in alles voorsien wat jy nodig het? Wanneer het jy gevoel hy loop jou bietjie in, omdat jou vriende dalk meer het as jy? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing daarna lof en aanbiddingsliedere vir Hom en fokus op dankbaarheid.
 
Woord
Luk.12:13-21

  1. Lees nou weer die gedeelte biddend. Plaas jouself in die middel van hierdie ontmoeting met Jesus. Hoor sy stem terwyl Hy hierdie gelykenis vertel. Sien jouself in die gelykenis en dink weer na oor die dinge wat jou werklik gelukkig maak.
  2. Kan julle dink aan ‘n advertensie op TV of oor die radio wat net mooi vers 15 weerspreek?
  3. Wat dink julle was hierdie ryk “dwaas” se eintlike probleem? En wat is ons s’n?
  4. Waarvoor lewe ons? (vers 21, 33-34, Ef.3:16-21)
  5. Hoe verander die Here deur hierdie gedeelte ons eie siening van geluk en lewe? Praat nou eers in stilte met Hom daaroor.

 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe en bid vir mekaar se behoeftes. Bid veral dat die Here sal gee dat ons Hom raaksien in alles wat ons het en Hom die erkenning daarvoor gee.

Uitreiking

Na watter persoon gaan hierdie selgroep die komende week uitreik met ‘n kosmandjie?
Twaalfde week in Koninkrykstyd
11 Augustus
Heb.11:1-3; 8-16
Om te glo
Ysbreker
Glo jy maklik iemand se storie of wil jy darem eers sien of dit waar is?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Dink in stilte aan Hom. Dink ook na oor die diepte van jou geloof in Hom. Praat in stilte met Hom daaroor. Daarna sing julle vir Hom liedere wat uitdrukking gee aan julle geloof in Hom.
 
Woord
Heb.11:1-3; 8-16

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart, sodat jy jouself binne-in die Skrifgedeelte sien. Sien hoe die Here deur sy Gees vir jou geloof gee wat groei. Dink na oor hoe jy lewe doodgewoon op grond van God se beloftes aan jou.
  2. Wat beteken dit om te glo (Verse 1-3). Kan jy dit in jou eie woorde verduidelik?
  3. Hoe word geloof vir ons verduidelik in verse 8-10? Hoe sou jy dit toepas op jou eie lewe?
  4. Vers 11 en 12 help ons so ’n entjie verder met die verduideliking van geloof. Wat sien julle in hierdie verse raak?
  5. Is jy tevrede om verse 13-16 in te sluit by jou geloof, m.a.w. dat jy nie ontvang wat jy beloof is nie, maar juig oor dit wat kom, die beter vaderland, die hemelse?
  6. 6.      Hoe verander die Here deur sy Woord jou by vanaand se ontmoeting met Hom? “Here, ek glo, al sien ek nie”…

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge in julle lewe wat julle nie sien nie met mekaar en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitreiking
Hoe gaan die groep in die week wat kom, hulle geloof leef in hulle omgewing? Beplan biddend en prakties.
 
Dertiende week in Koninkrykstyd
18 Augustus
Heb.11:29-12:2
Die oog gevestig op Jesus
Ysbreker
Sal jy bereid wees om iewers heen te gaan, sonder om te weet wat op die pad vir jou wag of waar jy gaan uitkom? Hoe?
 
Lof en aanbidding
Raak nou eers stil by die Here. Dink na oor die afgelope week in jou lewe. Hoeveel het jy die vorige week geweet van die week wat vir jou voorlê? Hoeveel onverwagse dinge moes jy hanteer? Kon jy vir Jesus sien in al die dinge wat gebeur het? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing dan liedere vir Hom. Iemand kan Psalm 80:2-3; 9-20 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Heb.11:29-12:2

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart en beleef dit wat in hierdie gedeelte geskryf word. Stap in jou gedagtes deur God se geskiedenis met sy volk. Wat laat jou goed voel in die gedeelte en waarvoor sien jy nie kans nie? Kyk waar jy vir God raaksien in hierdie geskiedenis.
  2. Wat leer ons uit die eerste drie voorbeelde van geloof? (Verse 29-31)
  3. In verse 32-38 beleef ons die op-en-af van geloof. Wat is die hoogtepunte en laagtepunte van ons geloof en hoe beïnvloed dit jou geloof?
  4. Geloof het alles te doen met God se toekoms. Hy self lei ons sy toekoms in. Hoe doen Hy dit? (Verse 38-12:2) Hoe laat dit jou voel?
  5. Hoe verander die Here jou deur sy Woord? Raak ’n oomblik stil en dink na oor jou geloof in onsekere tye met Jesus as jou enigste sekerheid?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar wat dit is wat julle geloof laat wankel of ’n knou gee. Sê vir die ander twee by jou hoe hulle jou geloof versterk. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitreiking
Hoe kan hierdie groep ’n verskil gaan maak in mense wie se geloof al amper opgedroog het?
 
Veertiende week in Koninkrykstyd
25 Augustus
Heb.12:18-29
Met eerbied en ontsag
Ysbreker
Vir wie was jy as kind die bangste op aarde?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Dink aan Hom. Watter beeld van Hom staan vir jou uit? Praat in stilte met Hom oor dit wat in jou hart leef. Sing daarna vir Hom liedere van bewondering. Iemand kan Psalm 71:1-6 voorlees terwyl die res dit in hulle harte beaam. Herhaal die woorde: “U is my hulp van my geboorte af” so drie maal in jou hart tot dit insink.
 
Woord
Heb.12:18-29

  1. Lees eers weer die gedeelte op jou eie biddend en klim so in die teks in. Watter gevoel kom in jou op wanneer jy dit lees? Hoe beleef jy jou God in hierdie verse? Praat met Hom daaroor.
  2. Waaraan herinner verse 18-21 ons? (Vgl. Eks.19:12-13, Deut.9:19) Wat is jou reaksie teenoor God as jy hierdie woorde lees?
  3. Waarheen word ons gelei in verse 22-24? Wat beteken dit?
  4. Ons kry ook ’n ernstige “pas op” in hierdie verse (Verse 25-27) Waaroor gaan dit?
  5. Waarvoor moet ons dankbaar wees? (Verse 28-29)
  6. Hoe verander die Here deur hierdie woorde in die Bybel, jou lewe? Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitreiking
Op watter nuwe manier kan die groep hierdie week vir God aan mense in die omgewing gaan bekend stel?