{ARGIEF}

JUNIE 2012 RIGLYNE VIR HUISKERKE EN SELGROEPE MET DIE LEESROOSTERTEKSTE AS FOKUS

TRINITEITSONDAG EN DIE WEEK DAARNA

3 Junie

Rom.8:12-17

Die Vader, Seun en Heilige Gees kom ook my kleingeloof te hulp!

Ysbreker

Watter persoon het jou nog altyd goed laat voel oor jouself. Hoekom?

Lof en Aanbidding

Fokus nou weer op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Iemand kan die volgende woorde van Henri Nouwen lees: “Om God “Abba” te noem is anders as om God ‘n bekende naam te gee. Om God “Abba” te noem is om dieselfde intieme, vreeslose, afhanklike en kraggewende verhouding met God aan te gaan wat Jesus gehad het. Hierdie verhouding word Gees genoem en hierdie Gees word aan ons gegee deur Jesus en stel ons in staat om saam met Hom uit te roep: “Abba, Vader!”. Om God “Abba” te noem is ‘n hartkreet, ‘n gebed wat uit ons diepste innerlike breek. Dit gaan glad nie daar om dat ons God ‘n naam gee nie; dit gaan daar om dat ons God erken as die bron van alles wat ons is. Hierdie toe-eiening is nie die resultaat van enige skielike insig of aangeleerde oortuiging nie; dit is ‘n erkenning en toe-eiening wat die Gees van Jesus in gemeenskap met ons gees laat plaasvind. Dit is die toe-eiening van liefde.” (3 Minute Stilte, 11 Junie) Loof en aanbid Hom daarna.

Woord

Rom.8:12-17

  1. 1.Lees weer hierdie paar verse in stilte. Lees dit biddend. Sien die Vader, Seun en Heilige Gees in die gedeelte. Jy kan, terwyl jy lees, saggies in jou hart die woord “Abba, Vader” in jou hart fluister.
  2. 2.Wanneer begin jy gewoonlik twyfel of jy ‘n kind van God is? [Lei die groep om te praat oor ander se kritiek op hulle geestelike lewens, of dat hulle dikwels twyfel omdat hulle hulleself met ander gelowiges vergelyk]
  3. 3.Kyk weer na verse 12-14 en gesels saam oor hoe jy jou “deur die Gees van God laat lei”.
  4. 4.Watter heerlike versekering kry ons in vers 15? (Dink ook aan die woorde van Henri Nouwen bo)
  5. 5.Op watter getuienis moet ons steun vir ons sekerheid dat ons God se kinders is? (vers 16)
  6. 6.Gesels nou saam oor die betekenis van vers 17 vir ons lewe, oor die betrokkenheid van die Vader, Seun en Heilige Gees in jou lewe. Raak dan stil en dink daaroor na.

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Heilige Gees dat Hy julle vanaand opnuut daarvan verseker dat julle God se kinders is. Bid dan met vrymoedigheid vir mekaar.

Uitreiking

Dalk is daar iemand in julle wyk of omgewing wat die afgelope tyd baie sterk twyfel, miskien omdat hy/sy deurgeloop het onder ander se kritiek. Hoe gaan die groep die persoon in die komende week help?

TWEEDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

10 Junie

2Kor.4:13-5:1

Ons oog op die onsigbare dinge gerig

Ysbreker

Waaraan dink jy as jy dink aan volgende week, volgende maand of selfs volgende jaar?

Lof en aanbidding

Raak nou stil en fokus op die Here se betrokkenheid in jou lewe die afgelope week. Waar was hy in die oomblikke toe dit goed gegaan het? En waar was Hy toe jy gevoel het jy is alleen? Waar is Hy nou? Praat in stilte met Hom. Loof en aanbid Hom dan met liedere en gebede. Iemand kan dan Psalm 130 lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.

Woord

2Kor.4:13-5:1

  1. 1.Lees die gedeelte weer biddend met jou hart. Let op woorde(e) wat uitstaan en laat dit insak in jou hart. Praat in stilte met jou Here daaroor.
  2. 2.Kyk of julle in verse 13-15 Paulus en sy medewerkers se motivering vir hulle werk kan raaksien. Hoe spreek dit julle aan?
  3. 3.Lyk dit vir julle enigsins moontlik om verse 16-18 uit julle harte saam met Paulus te sê?
  4. 4.Hoe lyk die werklikheid waaraan geeneen van ons ontsnap nie in 5:1?
  5. 5.As ons mekaar moet help om die “oog op die onsigbare dinge gerig” te kry en te hou, hoe sal ons dit doen?

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe baie jou broer/suster wat nou saam met jou gaan bid, vir jou beteken, deel julle behoeftes met mekaar (hou die onsigbare dinge in julle harte) en bid dan vir mekaar

Uitreiking

Hoe kan ons mense rondom ons se oog meer gerig kry op die onsigbare dinge? Beplan saam.

DERDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

17 Junie

2Kor.5:6-10, 14-17

Die liefde van Christus dring ons

Ysbreker

Wat is jou dryfveer in die lewe?

Lof en Aanbidding

Kom ons dink nou eers in stilte aan ons Here. Dink aan jou lewe die afgelope week met Hom. Dink aan die woorde “ons het net een wens en dit is om te lewe soos Hy wil”. Daarna sing ons vir Hom liedere van lof en aanbidding.

Woord

2Kor.5:6-10, 14-17

  1. 1.Lees weer hierdie verse biddend. Sien die woorde of sinsnedes raak wat jou in jou hart tref. Waaraan dink jy as jy die woorde “die liefde van Christus dring ons” lees? Praat in stil gebed met die Here daaroor.
  2. 2.Wat gee vir Paulus en sy medewerkers moed? (Verse 6-10) Hoe sou julle hierdie verse in een sinnetjie opsom in julle eie woorde – m.a.w. wat gee vir julle moed?
  3. 3.Vir Wie moet ons lewe en hoekom? Hoe lyk dit wanneer ons nie meer vir onsself lewe nie? (Verse 14-15)
  4. 4.In verse 16-17 lees ons van “vroeër” en “nou”. Wat leer ons uit hierdie woorde?
  5. 5.Vertel vir mekaar hoe die Here deur hierdie gedeelte julle lewe verander. Raak dan stil voor die Here en gee Hom die geleentheid om die aanpassings in jou lewe te maak.

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Dank die Here dat julle die voorreg het om vir Hom te mag lewe bid vir mekaar se behoeftes.

Uitreiking

Hoe gaan die groep hierdie week ‘n begin maak daarmee om deur die liefde van Christus gedring te word?

VIERDE WEEK IN KONINKRYKSTYD

24 Junie

2Kor.6:1-13

Ek is medewerker van God

Ysbreker

Hoe hanteer jy iemand wat die heeltyd ontevrede is en met alles fout vind?

Lof en Aanbidding

Kom tot rus by die Here. Sit gemaklik met jou oë toe en fokus op jou asemhaling. Bring jou hardlopende gedagtes tot rus. Dink nou aan ‘n oomblik toe jy swaargekry het omdat jy vir die Here iets wou beteken. Waar was die Here toe? Loof en aanbid die Here dan met liedere en gebede. Iemand  kan hierdie woorde lees terwyl die ander biddend daaroor nadink: Gewonde genesers. Niemand ontkom verwonding nie. Ons is almal gewonde mense, of dit nou liggaamlik, emosioneel, verstandelik of geestelik is. Die groot vraag is nie: “Hoe kan ons ons wonde wegsteek?” sodat ons nie verleë of skaam voel nie, maar: “Hoe kan ons ons verwonding in diens van ander stel?” Wanneer ons wonde nie meer vir ons ‘n bron van skande is nie, maar ‘n bron van genesing vir ander, het ons gewonde genesers geword. Jesus is God se gewonde Geneser. Deur sy wonde word ons genees. Jesus se lyding bring vreugde en lewe. Sy vernedering bring heerlikheid; sy verwerping lei tot ‘n gemeenskap van liefde. As volgelinge van God se gewonde Geneser kan ons deur ons eie verwonding genesing vir ander help bring. (Henri Nouwen, a.w., 8 Julie)

Woord

2Kor.6:1-13

  1. 1.Lees weer die gedeelte met jou hart, sodat jy die prentjie wat Paulus hier skilder voor jou sien. Dink daaroor na in jou eie omstandighede.
  2. 2.Wat noem Paulus homself en almal wat saam met hulle werk? (vers 1). Wat sê dit vir jou van jouself? Hou jy daarvan om so genoem te word?
  3. 3.Watter nare ervaring het Paulus en die ander medewerkers van God (V.3a, 5)?
  4. 4.Wat is hulle antwoord op die gedurige foutvindery en kritiek en lyding? (verse 3b, 4, 6-7). Wat doen jy gewoonlik wanneer jy swaarkry wanneer jy net wil goed doen aan ander?
  5. 5.Glo jy maklik stories wat ander jou vertel van jou medewerkers? (v.8-10)
  6. 6.Wat maak jy wanneer mense hulle harte vir jou toemaak? (verse 11-13). Hoe verander die Here jou deur hierdie gedeelte?

Bedien mekaar

Deel julle seer en behoeftes met mekaar en bid opreg vir mekaar.

Uitreiking

Jy is medewerker van God. Waar gaan jy hierdie week met Hom saamwerk?