{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Sewende week in Paastyd
1 Junie
Handelinge 1:6-14
Julle sal krag ontvang…
Ysbreker
Aanvaar jy maklik teleurstellings, m.a.w. as dinge anders uitwerk as wat jy gehoop het, of raak jy opstandig?
Lof en aanbidding
Raak stil by die Here. Dink aan Hom wat nou by julle groep is. Geniet sy teenwoordigheid. Sit net in stilte by Hom. Doen dit vir so 3 minute en sing daarna vir die Here lof en aanbiddingsliedere. Iemand kan dan hierdie gedeelte afsluit deur Psalm 68:1-10, 32-35 te lees terwyl die res die woorde in hulle harte saambid en beleef.
Woord
Hand.1:6-14

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart biddend deur. Beleef die laaste oomblik saam met Jesus, die laaste vrae, hoor Jesus se stem, sy belofte, die oomblik wanneer Jesus opgeneem word, die twee mans met die wit klere (soos by Jesus se graf), die oomblikke saam met jou mede-dissipels eensgesind in gebed in die bovertrek. Sien jouself in die prentjie.
  2. Wat verstaan die dissipels steeds verkeerd? (Vers 6) Hoe verstaan ons Hom verkeerd?
  3. Hoe antwoord Jesus hulle? (Verse 7 en 8) Wat beteken dit om Jesus se getuie te wees?
  4. Wat tref julle omtrent Jesus se hemelvaart? (Verse 9-11)
  5. Wat doen die dissipels (nou apostels genoem) na Jesus se hemelvaart? (Verse 12-14) Hoekom is dit belangrik om dit te weet?
  6. Hoe verander die Here deur hierdie gebeurtenis jou eie lewe? Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien met mekaar en bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Dit is Pinkstertyd in ons kerk. Hoe kan hierdie groep in die tyd tot Pinkstersondag Jesus teenwoordig gaan maak in mense rondom julle se lewens?
Pinksterfees en die week daarna
8 Junie
Handelinge 2:1-21
Die dag van die Pinksterfees
Ysbreker
Hoe voel jy oor die gedagte dat ons ten minste een van die Afrika-tale in ons land magtig moet kan wees?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Fokus op jou asemhaling en raak stil in jou binneste. Herhaal die volgende woorde in jou hart: “nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” so ’n paar maal totdat jy voel die woorde is tuis diep binne-in jou. Loof en aanbid dan die Here met liedere. Iemand kan dan Psalm 104:24-34 lees terwyl die res die woorde in hulle harte saambid.
Woord
Hand.2:1-21

  1. Lees die gedeelte in stilte biddend deur sodat jy jouself sien in die gebeure. Hoe beleef jy vir God in hierdie gedeelte? Sien die dinge wat gebeur. Hoor die mense.
  2. Wat weet julle van die geskiedenis van die Pinksterfees in die lewe van die Jode en wat gebeur op hierdie spesifieke dag van die Pinksterfees? (Verse 1-4)
  3. Hoe reageer die mense op die gebeure by hierdie Pinksterfees? (Verse 5-13) As jy ’n buitestander was, hoe sou jy gereageer het? [Let veral op vers 11b – waaroor die getuienis (1:8) handel]
  4. Watter groot oomblik breek dan aan? (Verse 14-21) Hoe sou jy die wonder van die geboorte van die kerk aan mense verduidelik het?
  5. Raak nou weer stil en dink na hoe die Gees deur hierdie gedeelte jou lewe verander. Praat in jou hart met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar. Vertel eers vir mekaar hoe julle Jesus in mekaar sien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Is daar dalk mense in julle omgewing wat ’n ander taal praat as julle? Hoe kan die groep na hulle uitreik net met die taal van liefde?
Triniteitsondag en die week daarna
15 Junie
Matteus 28:16-20
Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde
Ysbreker
Voltooi die sinnetjie: “Daardie man/vrou is so magtig omdat…”
Lof en aanbidding
Raak nou eers stil in die Here se teenwoordigheid. Herhaal Jesus se woorde: “Ek is by julle al die dae…” ’n paar maal en dink aan Hom hier in die midde van die groep. Loof Hom dan met liedere. Iemand lees Psalm 8 en die res beaam dit in hulle harte.
Woord
Matt.28:16-20

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart en beleef die oomblik saam met Jesus. Jy is een van die elf saam met Jesus op die berg. Jy weet nie wat jy moet doen nie. Jy sien jou broers aanbid Hom. Jy wil ook. Hoor sy stem. Sy belofte. Sy opdrag. Ek is by julle…
  2. As jy nou een van die dissipels was, hoe sou jy in jou binneste gevoel het na alles wat die afgelope tyd gebeur het met jou, Jesus, Judas en die ander? (Verse 16-17)
  3. Hoe stel Jesus hulle gerus en hoe moet ons die woorde verstaan? (Vers 18)
  4. Wat is sy duidelike opdrag? (Vers 19-20a) Hoe voer ons prakties hierdie opdrag uit?
  5. Wat moet die dissipels onthou? (Vers 20b) Hoe verander dit hierdie byeenkoms en ons lewens na die byeenkoms?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Loof die Here vir die 2 wat saam met jou bid en dra hulle met hulle behoeftes aan die Here op.
Uitsending
Waar en hoe gaan hierdie groep in hierdie week Jesus se opdrag uitvoer?
Tweede week in Koninkrykstyd
22 Junie
Matteus 10: 24-39
Moenie bang wees nie
Ysbreker
Wat dink julle van die eposse en SMS’e wat ’n mooi boodskappie het en jou dan verplig om dit aan te stuur met die woorde: “Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is”?
Lof en aanbidding
Dink nou in stilte aan die Here in julle midde. Hy kyk in liefde na jou. Sien Hom in jou afgelope week. Dink na oor die oomblikke toe Hy op sy naaste aan jou was. Dink ook na oor die oomblikke wat vir jou nie so aangenaam was nie. Waar was Hy toe? Praat in stilte met Hom daaroor. Sing daarna vir Hom lofliedere en iemand lees Psalm 86:1-13 voor en die res bid dit in hulle harte saam.
Woord
Matt.10:24-39

  1. Lees die gedeelte met jou hart in stilte. Let op die woorde wat vir jou uitstaan. Hoor Jesus se stem. Sien hoe jou lewe verander terwyl jy die woorde wat vir jou uitstaan herkou en dit deel word van jou lewe.
  2. Hoeveel keer sê Jesus in hierdie gedeelte “moenie bang wees nie”? Hoekom dink julle sal Hy soveel klem daarop lê?
  3. Wat wil Jesus sy dissipels leer in hierdie gedeelte wat ons saam gelees het (Verse 24-28, 32-33, 34-39)? As ons die “eise van dissipelskap” in een sinnetjie kan saamvat, hoe sal ons dit stel?
  4. Hoe bemoedig Jesus sy dissipels? (Verse 29-31, 39b) Bemoedig dit jou?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Hoe verander die woorde van Jesus jou lewe? Sien dit reeds gebeur.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge wat julle pla, bekommer en vrees met mekaar en bemoedig mekaar met Jesus se woorde. Gee genoeg tyd dat die bemoediging rus kan gee. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Hoe anders gaan ons in die week uitbeweeg na mense in ons omgewing nadat ons die woorde van Jesus gehoor het?
Derde week in Koninkrykstyd
29 Junie
Matteus 10:40-42
Wie julle ontvang, ontvang My
Ysbreker
Voel jy gewoonlik gou aan wanneer jy nie by iemand welkom is nie? Hoe hanteer jy dan die probleem?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Raak bewus van Hom wat met liefde na jou kyk. Vra Hom om saam met jou deur die afgelope week in jou lewe saam met Hom te wandel. Sien alles wat Hy jou gegee het raak en dink aan oomblikke wat jy bewus was daarvan dat Hy Homself aan jou gee. Dank Hom in stilte daarvoor. Sing dan liedere vir die Here waarmee julle Hom loof en aanbid.
Woord
Matt.10:40-42

  1. Lees die woorde van Jesus in stilte en dink na oor wat die woorde aan jou doen. Sien jou self as die een wat op verskillende maniere “ontvang” word, maar ook die maniere waarop jy dikwels Jesus se ander dissipels “ontvang”.
  2. Wat leer Jesus ons wanneer ons vers 40 saam lees? Wat beteken dit werklik vir die dissipels maar ook diegene wat hulle “ontvang”?
  3. Jesus noem 3 tipes mense wat “ontvang” word: ’n profeet, ’n goeie mens en dan die geringstes, sy dissipels. En elkeen se ontvangs het ook ’n spesifieke beloning. Wat sou Jesus hiermee bedoel?
  4. Bespreek die stelling: wanneer Jesus sê: “Wie julle ontvang, ontvang My…”, kan die dissipels ook verstaan dat ons soos Jesus ontvang of nie ontvang nie, sal word.
  5. Raak nou weer stil en dink na oor hoe die Here deur hierdie woorde jou lewe verander. Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dit is nou julle geleentheid om mekaar te “ontvang”. Deel julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe verander Jesus se woorde julle uitreiking na ander mense die komende week? Iemand kan sluit met die gebed van Theresa van Avilla:
Christ has no body but yours,
No hands, no feet on earth but yours,
Yours are the eyes with which he looks
Compassion on this world,
Yours are the feet with which he walks to do good,
Yours are the hands, with which he blesses all the world.
Yours are the hands, yours are the feet,
Yours are the eyes, you are his body.
Christ has no body now but yours,
No hands, no feet on earth but yours,
Yours are the eyes with which he looks
compassion on this world.
Christ has no body now on earth but yours.
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Gemeente Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net