{ARGIEF}

 Met die fokustekste van die Leesrooster as basis


Tweede week in Koninkrykstyd
7 Junie
Markus 3:20-35
My broer en my suster en my moeder
Ysbreker
Wanneer jy in ’n argument met iemand was van wie jy verskil, is daar gewoonlik vrede daarna of voel jy anders teenoor die een met wie jy verskil het?
 
Lof en aanbidding
Sing vir die Here liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Daarna kom julle tot rus by Hom en fokus op Hom in julle midde. Dink aan sy betrokkenheid in jou lewe die afgelope week. Waar was jy die meeste van Hom bewus? Was daar tye dat jy gevoel het Hy is ver? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand sluit die oomblikke af met Psalm 138 en die res bid die woorde in hulle harte saam.
 
Woord
Markus 3:20-35

  1. Lees eers die gedeelte in stilte en beleef dit wat jy lees. Sien hoe besig Jesus is. Hoor sy familie se opmerkings. Hoor die skrifgeleerdes se beskuldigings en dink na oor hoe dit jou laat voel. Hoor Jesus se reaksie. Wat gebeur wanneer jy die woorde hoor “Wie teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie…”?
  2. Jesus se eie familie en die skrifgeleerdes is besig om hulle opinie oor Jesus te vorm en selfs uit te spreek. Wat sê hulle oor Hom en hoekom? (Verse 20-22)
  3. Wat beteken Jesus se antwoord? (Verse 23-27)
  4. Hoe moet ons die “laster teen die Heilige Gees” verstaan? (Verse 28-30)
  5. Wie is Jesus se werklike familie? (Verse 31-35)
  6. Raak nou weer stil by die Here. Lees weer die gedeelte. Watter nuwe insigte het jy ontvang? Hoe verander hierdie gedeelte jou lewe? Praat met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar die dinge wat julle as broers en susters in mekaar waardeer en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Dink saam aan die dinge waarvan julle as Jesus se broers en susters beskuldig word. Hoe gaan ons dit in die week wat kom hanteer?
 
Derde week in Koninkrykstyd
14 Junie
Markus 4:26-34
God se koninkryk groei
Ysbreker
Groei dit wat jy plant of saai maklik? Hoe maak jy?
Lof en aanbidding
Ons draai nou ons gesig na God toe en sing vir Hom lofliedere en liedere waarmee ons Hom aanbid. Dan kom ons tot rus in sy teenwoordigheid en dink aan Hom in ons lewe die afgelope week. Watter saak of probleem broei in jou hart en vul die hele tyd jou gedagtes? Praat met Hom daaroor en beleef die rus wat Hy gee. Iemand lees dan Psalm 20 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Mark.4:26-34

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart. Sien jouself langs die see tussen die menigte. Hoor Jesus se stem. Sien die voorbeelde uit die skepping wat Hy gebruik om die koninkryk van God te beskryf jouself in die koninkryk.
  2. Waarmee vergelyk Jesus die koninkryk van God in verse 26-32? Wat leer ons daaruit?
  3. Jesus maak ’n onderskeid tussen die “mense” en sy dissipels (verse 33-34). Wat beteken dit vir ons?
  4. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Sien die groei in die koninkryk en in jou eie hart en lewe. Dink na oor hoe jou lewe deur hierdie gedeelte verander word. Praat in stilte met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en dra mekaar dan aan die Here op.
 
Uitsending
Hoe kan die groep hierdie week met God saamwerk om die koninkryk in die omgewing te laat groei?
 
Vierde week in Koninkrykstyd
21 Junie
Markus 4:35-41
Waarom is julle bang?
Ysbreker
Watter oomblik in jou lewe onthou jy as ’n oomblik toe jy regtig bang was?
 
Lof en aanbidding
Ons fokus nou op die Here terwyl ons met blydskap vir Hom liedere van lof en aanbidding sing. Dan kom ons tot rus en dink aan ’n oomblik die week toe dit vir jou gevoel het jy is in diep en onstuimige water. Het dit vir jou gevoel die Here slaap? Hoe het dit stil geraak? Iemand lees Psalm 9:9-11 en die res beaam dit in hulle harte.
 
Woord
Mark.4:35-41

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart en beleef die oomblik op die oop see. Sien die storm, die golwe, die water wat in die skuit inkom, Jesus wat lê en slaap in die storm. Wat sou jy vir Hom wou vra?
  2. Watter ervaring het die dissipels saam met Jesus? (Verse 35-38) Het jy al beleef dat jy weet die Here is by jou, maar die storm is meer as wat jy kan hanteer?
  3. Hoe reageer Jesus op die storm en wat maak die storm? (Vers 39)
  4. Wat dink julle van Jesus se woorde (vers 40)?
  5. Raak nou stil en lees vers 41. Dink na oor hoe die gebeurtenis jou lewe verander. Wie sê jy vir jouself? Sê dit nou in stilte vir die Here.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar die storms wat julle die afgelope tyd in julle lewens moes trotseer. Bid dan vir mekaar en beleef die rus en stilte wat die Here bring.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep in die week wat kom hierdie gedeelte leef tussen die mense in die omgewing
 
Vyfde week in Koninkrykstyd
28 Junie
2Samuel 1:1, 17-27
Gebroke!
Ysbreker
Hoe reageer jy gewoonlik op baie slegte nuus (bv. ernstige siekte of dood van iemand naby aan jou)?
 
Lof en aanbidding
Na die oomblikke van nadenke oor die rampe in ons lewe, fokus ons op die Here en sing vir Hom uit ons harte liedere waarmee ons Hom loof en aanbid. Hierna lees iemand Psalm 130 terwyl die res dit in hulle harte saambid. Herhaal die woorde “Ek wag op U, Here” so 3 maal in jou hart en gedagtes.
 
Woord
2Samuel 1:1, 17-27

  1. Lees die gedeelte weer in stilte met jou hart. Beleef die gebrokenheid en rou in Dawid se stem en sy hart. Hoe sou jy lig in hierdie donkerte sien?
  2. Wat is die aanleiding tot Dawid se klaaglied? (vers 1)
  3. Deel met mekaar hoe julle hierdie klaaglied van Dawid beleef. Wat staan vir jou uit in die lied? Hoe sou jy die lied kon gebruik in jou eie smart?
  4. Ons lees weer van ’n swaard wanneer Jesus gevange geneem word (lees Mark.14:47-48) en ’n spies in sy sy (Joh.19:34). As julle ’n lied oor Jesus moes skryf, hoe sou dit klink?
  5. Raak nou stil by die Here. Dink na oor die gedeelte wat julle gelees het. Sien hoe Jesus na jou toe kom in die donkerte van smart – met deurboorde hande en sy. Hoe verander dit jou?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes en seer met mekaar. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Die groep sluit af deur die Gebed van Fransiskus van Assisi te sing as gebed vir die week.
Liedboek 284

  1. Laat, Heer, u vrede deur my vloei –

waar haat is, laat ek daar u liefde bring
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees
en krag gee deur geloof in U, o Heer.
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag.
Ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag.
 

  1. Laat, Heer, u vrede deur my vloei –

en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.
O Heer, help my om altyd so te leef –
om ander hoër as myself te ag.
Ja, om lief te hê – ander bo myself –
en ook eerder te gee as te verwag.
 

  1. Laat, Heer, u vrede deur my vloei –

leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.