{ARGIEF}

met die Fokustekste van die  Leesrooster as basis

Derde week in Koninkrykstyd
9 Junie
1Kon.17:8-24
Van toe af het hulle genoeg gehad
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer iemand by jou bedel en jy het regtig niks om te gee nie?
Lof en aanbidding
Ons dink eers in stilte aan ons Here. Sien hoe Hy in liefde na jou kyk. Dink terug oor die afgelope week saam met Hom. Sien een oomblik in sy teenwoordigheid waarvoor jy regtig dankbaar is. Praat in stilte met Hom daaroor. Daarna sing ons lof en aanbiddingsliedere vir Hom. Iemand kan Psalm 146 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
Woord
1Kon.17:8-24

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte. Sien jouself in die verhaal. Beleef die nood van die weduwee en haar seuntjie. Eers die gebrek en dan die dood. En nou kom iemand oor jou pad en verander jou hele lewe. En jy sien net eers die “iemand”. Dan gaan jou oë oop en jy sien: Dis die Here. Praat in stilte met jou God.
  2. Wat gebeur in verse 8-11 en wat leer ons daaruit?
  3. Maar nou maak die storie ‘n effense draai in vers 12. Wat sê dit vir ons?
  4. Hoe voorsien die Here in verse 13 tot 16?
  5. Nou tref ‘n ramp die huis waar Elia tuisgaan. Hoe werk dit op die ou einde uit? (Verse 17-23)
  6. Hoe reageer die vrou? (vers 24). Wat dink julle is die doel van hierdie gebeure?
  7. Hoe verander hierdie verhaal jou lewe? Raak weer stil en praat met die Here by jou daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Gesels met mekaar oor die dinge wat julle bekommer en bid dan vir mekaar.
Uitreiking
Na watter persoon wat die afgelope tyd deur diep waters gaan, gaan die groep die week uitreik?
Vierde week in Koninkrykstyd
16 Junie
1Kon.21:1-21a
Grondeise
Ysbreker
Hoe voel jy wanneer jy hoor van alles wat die grondeise-kommissie aanvang?
Lof en Aanbidding
Kom ons dink nou eers in stilte aan ons Here. Sien jou lewe van die afgelope week as ’n pad wat jy geloop het. waar was Hy toe die pad maklik was om te loop? Hoe het jy Hom beleef toe die pad vol draaie en hindernisse geword het? Praat in stilte met Hom daaroor. Daarna gee ons geleentheid om die Here te loof en aanbid met liedere, gebede en Skrifgedeeltes.
Woord
Draai 2-2 na mekaar toe. Deel met mekaar die dinge wat die Here die afgelope tyd deur Sy Woord met jou gedeel het. Bemoedig mekaar met die Woord.
1Kon.21:1-21a

  1. Lees eers weer in stilte hierdie tragiese verhaal. Lees dit asof jy self in die verhaal is. Beleef die hele oploop van die verhaal. Dink na oor hoe jy voel wanneer jy dit lees. Praat in stilte met die Here oor jou ervaring van die verhaal en hoe jy dit sien gebeur rondom jou.
  2. Hoe klink die ryk koning se aanbod? Sou jy toegegee het? (Verse 1,2)
  3. Hoe reageer Nabot? (Vers 3) Was hy reg? (vgl. Deut.17:6; 19:15)
  4. Wat lees ons verder in verse 4-7? Wat leer ons hieruit?
  5. Hoe verloop hierdie verhaal verder? (Verse 8-16)
  6. Nou tree die Here toe tot die verhaal. Hoe? (Verse 17-21a) Hoe voel jy wanneer jy die koning se woorde teenoor die profeet in vers 20 lees?
  7. Nou wat wil die Here vir ons deur hierdie grusame gedeelte leer? (Vgl.Matt.26:59-62)
  8. Hoe verander hierdie verhaal jou lewe? Raak stil en praat met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar watter mooi dinge julle in mekaar raaksien en waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar. Onthou tog dat julle NET met die Here oor mekaar se nood en behoeftes praat.
Uitreiking
Na wie gaan die groep hierdie week uitreik en hoe gaan julle dit doen?
Vyfde week in Koninkrykstyd
23 Junie
1Kon.19:1-15a
Nou is dit genoeg, Here!
Ysbreker
Hoeveel keer in jou lewe het dit al vir jou gevoel jy het nou die einde van ‘n sekere pad bereik?
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink so ’n paar minute na oor die hoogtepunte van die afgelope week. Dink ook na oor dinge wat gebeur het wat hierdie hoogtepunte vir jou bederf het. Praat met die Here daaroor in stilte. Loof en aanbid die Here met julle lied terwyl julle op Hom fokus. Iemand kan dan Psalm 42 voorlees terwyl die ander die woorde in hulle harte saambid.
Woord
1Kon.19:1-15a

  1. Lees die verhaal in stilte deur en beleef dit wat hier gebeur. Sien die geestelike laagtepunt waardeur Elia gaan na die hoogtepunte waardeur die Here met hom gegaan het. Deel nou jou hart in stilte met hom.
  2. Wat gebeur in verse 1-4? Het jy al ooit so gevoel?
  3. Wat gebeur nou in verse 5-7?
  4. Watter uitwerking het God se kos op Elia? (Vers 8))
  5. Nou ontmoet die Here vir Elia. En wat sê hulle vir mekaar? (Verse 9-11a)
  6. Spesifiek hoe ontmoet die Here vir Elia? (Vers 11b-13) Hoe verkies jy moet die Here jou ontmoet?
  7. En toe Elia gesê het “Nou is dit genoeg, Here”, was dit toe afgehandel? (Verse 14-15a)
  8. Hoe verander hierdie verhaal jou eie lewe? Raak stil en praat met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle nood en behoeftes met mekaar en dra mekaar dan aan die Here op.
Uitreiking
Hoe gaan die groep hierdie week vir Jesus teenwoordig maak?
Sesde week in Koninkrykstyd
30 Junie
2Konings 2:1-12
In die hemel opgeneem!?
Ysbreker
Deel met mekaar ‘n oomblik in jou lewe wat nou nog by jou bly wat so ongelooflik was dat jy self nog sukkel om dit te glo!
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat op hierdie oomblik by jou is en aan Sy betrokkenheid die afgelope week. In jou stilte praat jy met Hom oor die stukkies hemel wat Hy vir jou na jou stukkie aarde toe gebring het. Geniet die rus by Hom. Daarna sing die groep vir die Here liedere om Hom groot te maak. Iemand kan die kort gebed van Thomas A Kempis 2 maal voorlees en die res beaam dit in hulle harte en dink daaroor na: “Ek is u kneg. Ek is tot alles bereid. Ek wil nie vir my lewe nie, maar vir U, sonder voorbehoud, soos dit U waardig is”
Woord
2Kon.2:1-12

  1. Lees die gedeelte weer in stilte, asof jy self in die verhaal teenwoordig is. Beleef, terwyl jy lees God se teenwoordigheid en werk in Elia en Elisa se lewe asof dit jou lewe is. Let op een of meer verse wat vir jou uitstaan en “herkou” dit met jou hart. Praat met die Here in stilte daaroor.
  2. Elia se tyd en bediening op aarde is verby, maar sy einde kom nie op gewone wyse soos ander mense s’n nie. Hoe beleef julle dit?
  3. Elisa is op die punt om by Elia oor te neem. Wat lees ons oor die twee profete? (Verse 2-6) Hoe spreek dit jou aan?
  4. Wat wil Elisa graag van Elia “erf” wanneer hy weggaan? En wat is die voorwaardes wat Elia stel? (Verse 7-12)
  5. Wanneer sien ons weer vir Elia? (Mark.9:2-8) En wanneer sien mense weer die Here? (2Kor.3:18)
  6. Dink nou weer in stilte aan jou ontmoeting met die Here en hoe Hy jou deur hierdie een verander (het).

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar julle vreugdes en teleurstellings die afgelope week. Bid dan vir mekaar.
Uitreiking
Hoe kan die groep die heerlikheid van ons Here in die omgewing gaan weerspieël?
Sewende week in Koninkrykstyd
7 Julie
2Konings 5:1-14
Die naamlose dogtertjie
Ysbreker
Wat is die ding wat ‘n klein kindjie vir jou gesê of gedoen het, wat jy tot vandag onthou? Vir die kinders: Is daar iets waarvan jy baie hou om vir jou ouers of ander grootmense te doen? Wat is dit?
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here en geniet net Sy teenwoordigheid. Gee Hom die geleentheid om in en aan jou te doen wat Hy nou graag wil. Beleef die omhelsing van God in hierdie oomblikke. Loof en aanbid nou die Here wat by julle is. Geniet mekaar! Iemand lees Psalm 30 as gebed terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
Woord
2Kon.5:1-14

  1. Laat iemand wat baie mooi kan lees die verskillende rolle lees. Een lees die verhaal, iemand anders lees die dogtertjie, een die koning, een Naäman, een Elisa, ens. [die leier moet vooraf besluit wie in die groep watter rol kry – probeer soveel as moontlik betrek]
  2. Wat lees ons van Naäman in vers 1? Hoe belangrik was hy en wat was sy probleem?
  3. In die baie belangrike man se lewe speel ‘n Aramese meisietjie (sonder naam en van ‘n ander volk as Naäman!) ‘n rol wat sy hele lewe sou verander. Wat is die rol? (vers 2,3) Sou jy na haar geluister het?
  4. Hoe hanteer die profeet hierdie vername man en hoe reageer Naäman op die behandeling wat hy kry? (verse11-12)
  5. Watter waarheid leer ons in vers 13 vir ons eie lewe?
  6. Die begin van Naäman se nuwe lewe was by die raad van ‘n klein dogtertjie. Watter rol kan jy speel in die lewe van mense rondom jou? Sal dit nie vir jou wonderlik wees as mense jou Here aanvaar as hulle Here, omdat jy die rol gespeel het in hulle lewe nie? Dink na oor hoe die Here jou lewe deur hierdie verhaal verander. Raak nou stil voor die Here en praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Begin nou deur eers julle rolle in mekaar se lewens te speel. Stort julle harte teenoor mekaar uit. Nadat julle mekaar bemoedig het, bedien julle mekaar in gebed.
Uitreiking
Hierdie week reik ons uit na iemand na aan ons. Na wie gaan jy hierdie week en wat wil jy graag in sy/haar lewe gaan beteken?