{ARGIEF}

Vir huiskerk en selgroepbyeenkomste met die fokustekste van die Leesrooster vir lidmate as basis

Sondag van Verheerliking en die Week daarna
2 Maart
Matt.17:1-9
Jesus se heerlikheid
Ysbreker
Is daar enige vakansie, naweek, uur in jou lewe wat jy nooit sal vergeet nie? Hoe so?
Lof en Aanbidding
Raak nou eers weer stil by die Here. Dink aan Hom en dank Hom vir die feit dat Hy die afgelope week by jou was. Die groep kan Hom met lof en aanbiddingsliedere grootmaak of doodgewoon in stilte na ‘n taizé-lied luister. Iemand kan Psalm 121 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte bid.
Woord
Matt.17:1-9

  1. Lees die gedeelte met jou hart. Beleef die oomblikke saam met Jesus op die berg van verheerliking asof jy een van die dissipels is. Dink hoe jy voel wanneer jy Sy heerlikheid sien en alles beleef. Wil jy nie ook soos Petrus ‘n hutjie bou en net daar bly nie? Praat met Hom daaroor.
  2. Wat gebeur wanneer Jesus alleen met sy 3 dissipels op die berg is? (Verse 1-3) Beteken dit iets dat dit Moses en Elia is?
  3. Wat wil ou Petrus graag doen? (Vers 4)Wat dink jy van sy idee?
  4. Watter belangrike gebeurtenis beleef die dissipels? (Vers 5) Wat beteken hierdie gebeurtenis?
  5. Hoe reageer die dissipels en hoe stel Jesus hulle gerus? (Verse 7 en 8)
  6. Sou jy Jesus se opdrag in vers 9 kon gehoorsaam? Wat wil jy graag vir die Here sê? Doen dit nou eers in jou stilte.

Bedien mekaar
Draai nou weer 3-3 na mekaar toe. Deel dit wat nou in jou hart leef met hulle by jou en bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitreiking
Hoe kan ons hierdie ervaring met ons mense in die week wat voorlê gaan deel?
Eerste week in Lydenstyd
9 Maart
Matt.4:1-11
God se geliefde kind
Ysbreker
Wat is daar wat jy eet of drink, wat dalk nie so gesond is nie, maar wat jy net nie kan weerstaan nie? Hoe maak jy om dit te weerstaan?
Lof en Aanbidding
Ons is nou in Lydenstyd en daarom is dit goed dat ons meer stadige aanbiddingsliedere sing terwyl ons as’t ware die pad van lyding saam met ons Here loop. Dink nou eers weer in stilte aan ons Here in julle midde. En begin dan spontaan liedere sing wat julle nog meer op Hom laat fokus. Iemand kan Psalm 32 voorlees terwyl die ander biddend luister. Julle kan weereens Taizé-musiek saggies op die agtergrond speel terwyl die Psalm gelees word.
Woord
Matt.4:1-11

  1. Lees weer die gedeelte biddend. Beleef jou eie versoekings in dié van Jesus. Praat met Hom daaroor. [By Jesus se doop word sy identiteit vasgelê: Jy is my geliefde Seun. Hierdie week lees ons dat die duiwel juis daardie identiteit aanvat. By herhaling sê die duiwel: “As U die Seun van God is…” Dis die grootste versoeking wanneer mens jou identiteit moet grond op dit wat jy doen (die bewyse) sodat jy vergeet dat God dit self van jou gesê het. Jesus is God se Seun, nie omdat Hy ‘n paar klippe in brood kan verander of van hoë plekke kan afspring nie, maar omdat God so sê! Ek is nie God se geliefde kind omdat ek sekere wonderlike dinge doen nie, maar omdat Hy so sê in sy Woord!]
  2. Op watter punt in Jesus se lewe slaan die versoeker toe? (verse 1,2). Is dit nie maar sy taktiek in elke mens se lewe ook nie [na ‘n geestelike hoogtepunt (soos Jesus se doop) en wanneer die mens moeg, swak en honger is]
  3. Op watter 3 behoeftes van Jesus fokus die duiwel? Op watter behoeftes in ons lewe fokus hy?
  4. Twee keer sê die duiwel: “As U die Seun van God is…”. Hoor ons nie baiekeer die woorde: “As jy jouself ‘n Christen noem…” nie? Wat doen jy gewoonlik wanneer jy twyfel of jy wel God se kind is?
  5. Jesus gebruik die Skrif om die duiwel op sy plek te sit. Hoe kan ons die Woord gebruik om die duiwel te verdryf? [Wat sê God in die Woord oor jou – dit is waaraan ons moet vashou]
  6. Beteken Hebreërs 4:15,16 vir jou enigiets in hierdie omstandighede?
  7. Hoe kan ons mekaar help om die versoekings van die duiwel te weerstaan?

Bedien mekaar
Neem nou 3-3 mekaar se hande en bid dan dat die Here jou broer/suster krag sal gee en die regte woorde om enige versoeking te weerstaan.
Uitsending
Gaan in hierdie week na een persoon waarvan jy weet wat in ernstige twyfel lewe omdat die duiwel hom/haar boelie (dalk deur ander mense) en gaan versterk hom/haar.
Tweede week in Lydenstyd
16 Maart
Joh.3:1-17
Een nag…
Ysbreker
Hoe het jou ouers vir jou vertel, waar kom jy vandaan? Wanneer het jy die regte storie gehoor?
Lof en Aanbidding
Kom eers tot rus by die Here jou God. Fokus ’n paar oomblikke op die God wat elke oomblik van jou lewe teenwoordig is, na Wie jy ook in die nag kan gaan. Sien Hom in jou stilte op die pad saam met jou deur die afgelope week. Dink aan oomblikke toe dit vir jou gevoel het Hy is so naby. Dink na oor die stille werking van die Gees diep in jou binneste. Dank Hom vir die week saam met Hom. Sing nou aanbiddingsliedere wat fokus op die wonderlike werk van God in mense se lewens. Iemand kan Psalm 121 lees terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
Joh.3:1-17

  1. Lees nou eers die gedeelte in stilte met jou hart. Sien jouself in die verhaal as die een wat selfs in die nag na Jesus toe gaan. Beleef die vrae in Nikodemus se hart, Jesus se stem, die Gees wat in jou doen soos Hy wil, al weet jy nie eers daarvan nie.
  2. Wat leer ons van Nikodemus uit verse 1 en 2?
  3. Watter vereiste stel Jesus vir “binne die Koninkryk wees? (vers 3, 5) Wat beteken dit?
  4. Wie se werk is die wedergeboorte? (vers 6, 8)
  5. Wat het die slang in die woestyn (Num.21:4-9) met Jesus te doen? (verse 13-15)
  6. Elke mens weet beslis of hy weer (opnuut) gebore is. Die gevolge sien jy in vers 15(b) en 16. Gesels saam daaroor.
  7. Wat het Jesus nie kom doen nie en wat het Hy wel kom doen (vers 17)?
  8. Raak nou stil. Dink na oor die Gees se werk in jou, jou eie wedergeboorte, die nuwe lewe wat jy het deur jou geloof in Jesus Christus, die enigste Seun van God.

Bedien mekaar
Draai weer 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van die vrug van die Gees wat julle in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes, twyfel en bekommernisse met mekaar. Bid dan vir mekaar.
Uitsending
Sê nou iemand kom die komende week in die nag na jou toe met vrae in sy of haar hart, hoe dink jy gaan jy die persoon hanteer?
Derde week in Lydenstyd
23 Maart
By die fontein… oor grense
Ysbreker
By watter mense voel jy gewoonlik tuis en watter mense laat jou “ongemaklik” voel?
Lof en Aanbidding
Ons word nou eers stil in ons Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom wat hier by ons is, die Jesus wat jou ontmoet. Dink aan die behoeftes wat jy die afgelope week gehad het waarin Hy voorsien het. Sien ook hoe Hy Homself aan jou gegee het. dank Hom in stilte. Sing dan liedere waarmee julle Hom aanbid. Iemand kan Psalm 95:1-7 voorlees terwyl die res dit beleef.
Woord
Joh.4:5-42

  1. Lees nou weer in stilte hierdie gedeelte. Beleef dit wat hier gebeur asof jy self teenwoordig is en bevoorreg is om so deur Jesus ontmoet te word. Beleef die hitte van die dag, jou dors, die Man wat vir jou wag by die fontein, die put. Sien die woorde of sinsnedes wat die Here nou in jou hart wil lê, raak en praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Watter “vreemde” ding doen Jesus in hierdie verhaal? (verse 7 en 9). Hoekom, dink julle, doen Hy dit? (Sien ook verse 27-28)
  3. Jesus se gesprek sluit aan by die vrou se behoefte aan water. Wat bied Hy? (vers 10b, 13,14).
  4. Baie duidelik verstaan die vrou nie dadelik wat Jesus wat Jesus vir haar bied nie? Wanneer breek dit tot haar deur dat hierdie man iemand besonders is? (Vgl.verse 11,13 met 16-19).
  5. Wanneer die vrou agterkom dat hierdie man ‘n profeet is, vra sy Hom: “Wat is nou reg, hierdie berg, of Jerusalem?”  Gewoonlik hoor ons: “Watter doop? Watter kerk?” Hoekom vra mense sulke vrae? [Baie keer net om die gesprek weg te kry van hulle persoonlik af – onthou Jesus was nou net baie persoonlik met haar]
  6. Lyk dit of hierdie vrou agtergekom het met Wie sy werklik praat in vers 25-26? Het hierdie verhaal ‘n gelukkige einde? (Vgl. v. 39-42). Deel nou met mekaar jou verhaal.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Loof die Here vir die mooi dinge wat jy in jou gebedsmaats sien en waardeer [wees spesifiek]. Deel julle behoeftes met mekaar. Dank die Here dan vir mekaar se verlossing en bid vir daardie behoeftes.
Uitsending
Dalk wil die Here jou nou nooi om saam met Hom ’n grens oor te steek na iemand aan wie jy nog nie gedink het nie. Kan jy nou dink aan so iemand?
Vierde week in Lydenstyd
30 Maart
Joh.9:1-41
Sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word…
Ysbreker
Ken jy iemand wat gestremd is en wat beteken hy/sy vir jou in jou lewe?
Lof en Aanbidding
Kom nou tot rus voor jou Here. Dink in stilte oor Sy betrokkenheid in jou lewe, sy antwoorde op jou talle vrae. Dink na oor Sy teenwoordigheid die afgelope week in jou lewe. Praat met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom daarna saam met liedere. Iemand kan Psalm 23 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
Woord
Joh.9:1-41

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur. Klim in die gedeelte in asof jy self die vrae aan Jesus vra. Dink aan jou eie reaksie op die “werke wat God doen”. Hoor Sy antwoord, sien Sy “werke” ook in jou eie lewe. Sien ook hoe Hy as Lig vir die wêreld deurbreek in die donkerte. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. In Jesus se tyd het die mense geglo dat as jy gestremd (siek) was, dit moes wees a.g.v. iemand se sonde. Dit is dus beskou as die straf op sonde. So baie mense sien dit vandag nog so. Hoe antwoord Jesus die dissipels op hulle vraag? (Verse 1-7) Hoe verander dit jou siening?
  3. Nou reageer die mense wat die blinde man geken het eers. Wat hoor ons uit hulle reaksie op die wonderwerk? (Verse 8-12)
  4. En dan kom die Fariseërs aan die beurt. Wat is hulle beswaar? (Verse 13- 34)
  5. Waarheen lei Jesus ons uiteindelik in hierdie gedeelte? Klink dit nog bekend? (Verse 35-41)
  6. Raak nou heeltemal stil voor die Here. Dink aan maniere waarop die werke wat God doen, in jou gesien kan word – sien dit raak en praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. In gebed dank julle die Here vir die mooi wat jy in jou broer en suster wat saam met jou bid, sien. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitreiking
Hoe kan ons as groep die mense rondom ons in die week attent maak daarop dat God se werke ook in hulle gesien kan word?

Adriaan Haasbroek, NG Kerk Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net