{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Eerste week in Lydenstyd
5 Maart
Matt.4:1-11
God se geliefde kind
Ysbreker
Wat is daar wat jy eet of drink, wat dalk nie so gesond is nie, maar wat jy net nie kan weerstaan nie? Hoe maak jy om dit te weerstaan?
 
Lof en Aanbidding
Ons is nou in Lydenstyd en daarom is dit goed dat ons meer stadige aanbiddingsliedere sing terwyl ons as’t ware die pad van lyding saam met ons Here loop. Dink nou eers weer in stilte aan ons Here in julle midde. En begin dan spontaan liedere sing wat julle nog meer op Hom laat fokus. Iemand kan Psalm 32 voorlees terwyl die ander biddend luister. Julle kan weereens Taizé-musiek saggies op die agtergrond speel terwyl die Psalm gelees word.
 
Woord
Matt.4:1-11

  1. Lees weer die gedeelte biddend. Beleef jou eie versoekings in dié van Jesus. Praat met Hom daaroor. [By Jesus se doop word sy identiteit vasgelê: Jy is my geliefde Seun. Hierdie week lees ons dat die duiwel juis daardie identiteit aanvat. By herhaling sê die duiwel: “As U die Seun van God is…” Dis die grootste versoeking wanneer mens jou identiteit moet grond op dit wat jy doen (die bewyse) sodat jy vergeet dat God dit self van jou gesê het. Jesus is God se Seun, nie omdat Hy ‘n paar klippe in brood kan verander of van hoë plekke kan afspring nie, maar omdat God so sê! Ek is nie God se geliefde kind omdat ek sekere wonderlike dinge doen nie, maar omdat Hy so sê in sy Woord!]
  2. Op watter punt in Jesus se lewe slaan die versoeker toe? (verse 1,2). Is dit nie maar sy taktiek in elke mens se lewe ook nie [na ‘n geestelike hoogtepunt (soos Jesus se doop) en wanneer die mens moeg, swak en honger is]
  3. Op watter 3 behoeftes van Jesus fokus die duiwel? Op watter behoeftes in ons lewe fokus hy?
  4. Twee keer sê die duiwel: “As U die Seun van God is…”. Hoor ons nie baiekeer die woorde: “As jy jouself ‘n Christen noem…” nie? Wat doen jy gewoonlik wanneer jy twyfel of jy wel God se kind is?
  5. Jesus gebruik die Skrif om die duiwel op sy plek te sit. Hoe kan ons die Woord gebruik om die duiwel te verdryf? [Wat sê God in die Woord oor jou – dit is waaraan ons moet vashou]
  6. Beteken Hebreërs 4:15,16 vir jou enigiets in hierdie omstandighede?
  7. Hoe kan ons mekaar help om die versoekings van die duiwel te weerstaan?

 
Bedien mekaar
Neem nou 3-3 mekaar se hande en bid dan dat die Here jou broer/suster krag sal gee en die regte woorde om enige versoeking te weerstaan.
 
Uitsending
Gaan in hierdie week na een persoon waarvan jy weet wat in ernstige twyfel lewe omdat die duiwel hom/haar boelie (dalk deur ander mense) en gaan versterk hom/haar.
 
Tweede week in Lydenstyd
12 Maart
Joh.3:1-17
Een nag…
Ysbreker
Hoe het jou ouers vir jou vertel, waar kom jy vandaan? Wanneer het jy die regte storie gehoor?
 
Lof en Aanbidding
Kom eers tot rus by die Here jou God. Fokus ’n paar oomblikke op die God wat elke oomblik van jou lewe teenwoordig is, na Wie jy ook in die nag kan gaan. Sien Hom in jou stilte op die pad saam met jou deur die afgelope week. Dink aan oomblikke toe dit vir jou gevoel het Hy is so naby. Dink na oor die stille werking van die Gees diep in jou binneste. Dank Hom vir die week saam met Hom. Sing nou aanbiddingsliedere wat fokus op die wonderlike werk van God in mense se lewens. Iemand kan Psalm 121 lees terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Joh.3:1-17

  1. Lees nou eers die gedeelte in stilte met jou hart. Sien jouself in die verhaal as die een wat selfs in die nag na Jesus toe gaan. Beleef die vrae in Nikodemus se hart, Jesus se stem, die Gees wat in jou doen soos Hy wil, al weet jy nie eers daarvan nie.
  2. Wat leer ons van Nikodemus uit verse 1 en 2?
  3. Watter vereiste stel Jesus vir “binne die Koninkryk wees? (vers 3, 5) Wat beteken dit?
  4. Wie se werk is die wedergeboorte? (vers 6, 8)
  5. Wat het die slang in die woestyn (Num.21:4-9) met Jesus te doen? (verse 13-15)
  6. Elke mens weet beslis of hy weer (opnuut) gebore is. Die gevolge sien jy in vers 15(b) en 16. Gesels saam daaroor.
  7. Wat het Jesus nie kom doen nie en wat het Hy wel kom doen (vers 17)?
  8. Raak nou stil. Dink na oor die Gees se werk in jou, jou eie wedergeboorte, die nuwe lewe wat jy het deur jou geloof in Jesus Christus, die enigste Seun van God. Gee jouself aan Hom.

 
Bedien mekaar
Draai weer 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van die vrug van die Gees wat julle in mekaar sien. Deel dan julle behoeftes, twyfel en bekommernisse met mekaar. Bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Sê nou iemand kom die komende week in die nag na jou toe met vrae in sy of haar hart, hoe dink jy gaan jy die persoon hanteer?
 
Derde week in Lydenstyd
19 Maart
Johannes 4:5-42
By die fontein… oor grense
Ysbreker
By watter mense voel jy gewoonlik tuis en watter mense laat jou “ongemaklik” voel?
 
Lof en Aanbidding
Ons word nou eers stil in ons Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom wat hier by ons is, die Jesus wat jou ontmoet. Dink aan die behoeftes wat jy die afgelope week gehad het waarin Hy voorsien het. Sien ook hoe Hy Homself aan jou gegee het. Dank Hom in stilte. Sing dan liedere waarmee julle Hom aanbid. Iemand kan Psalm 95:1-7 voorlees terwyl die res dit beleef.
 
Woord
Joh.4:5-42

  1. Lees nou weer in stilte hierdie gedeelte. Beleef dit wat hier gebeur asof jy self teenwoordig is en bevoorreg is om so deur Jesus ontmoet te word. Beleef die hitte van die dag, jou dors, die Man wat vir jou wag by die fontein, die put. Sien die woorde of sinsnedes wat die Here nou in jou hart wil lê, raak en praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Watter “vreemde” ding doen Jesus in hierdie verhaal? (verse 7 en 9). Hoekom, dink julle, doen Hy dit? (Sien ook verse 27-28)
  3. Jesus se gesprek sluit aan by die vrou se behoefte aan water. Wat bied Hy? (vers 10b, 13,14).
  4. Baie duidelik verstaan die vrou nie dadelik wat Jesus wat Jesus vir haar bied nie? Wanneer breek dit tot haar deur dat hierdie man iemand besonders is? (Vgl.verse 11,13 met 16-19).
  5. Wanneer die vrou agterkom dat hierdie man ‘n profeet is, vra sy Hom: “Wat is nou reg, hierdie berg, of Jerusalem?” Gewoonlik hoor ons: “Watter doop? Watter kerk?” Hoekom vra mense sulke vrae? [Baie keer net om die gesprek weg te kry van hulle persoonlik af – onthou Jesus was nou net baie persoonlik met haar]
  6. Lyk dit of hierdie vrou agtergekom het met Wie sy werklik praat in vers 25-26? Het hierdie verhaal ‘n gelukkige einde? (Vgl. v. 39-42). Deel nou met mekaar jou verhaal.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Loof die Here vir die mooi dinge wat jy in jou gebedsmaats sien en waardeer [wees spesifiek]. Deel julle behoeftes met mekaar. Dank die Here dan vir mekaar se verlossing en bid vir daardie behoeftes.
 
Uitsending
Dalk wil die Here jou nou nooi om saam met Hom ’n grens oor te steek na iemand aan wie jy nog nie gedink het nie. Kan jy nou dink aan so iemand?
 
Vierde week in Lydenstyd
26 Maart
Joh.9:1-41
Sodat die werke wat God doen, in hom gesien kan word…
Ysbreker
Ken jy iemand wat gestremd is en wat beteken hy/sy vir jou in jou lewe?
 
Lof en Aanbidding
Kom nou tot rus voor jou Here. Dink in stilte oor Sy betrokkenheid in jou lewe, sy antwoorde op jou talle vrae. Dink na oor Sy teenwoordigheid die afgelope week in jou lewe. Dink veral na oor oomblikke toe dit vir jou gevoel het jou oë gaan oop vir iets wat die Here jou wil wys of sê. Praat met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom daarna saam met liedere. Iemand kan Psalm 23 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Joh.9:1-41

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur. Klim in die gedeelte in asof jy self die vrae aan Jesus vra. Dink aan jou eie reaksie op die “werke wat God doen”. Hoor Sy antwoord, sien Sy “werke” ook in jou eie lewe. Sien ook hoe Hy as Lig vir die wêreld deurbreek in die donkerte. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. In Jesus se tyd het die mense geglo dat as jy gestremd (siek) was, dit moes wees a.g.v. iemand se sonde. Dit is dus beskou as die straf op sonde. So baie mense sien dit vandag nog so. Hoe antwoord Jesus die dissipels op hulle vraag? (Verse 1-7) Hoe verander dit jou siening?
  3. Nou reageer die mense wat die blinde man geken het eers. Wat hoor ons uit hulle reaksie op die wonderwerk? (Verse 8-12)
  4. En dan kom die Fariseërs aan die beurt. Wat is hulle beswaar? (Verse 13- 34)
  5. Waarheen lei Jesus ons uiteindelik in hierdie gedeelte? Klink dit nog bekend? (Verse 35-41)
  6. Raak nou heeltemal stil voor die Here. Dink aan maniere waarop die werke wat God doen, in jou gesien kan word – sien dit raak en praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. In gebed dank julle die Here vir die mooi wat jy in jou broer en suster wat saam met jou bid, sien. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Hoe kan ons as groep die mense rondom ons in die week attent maak daarop dat God se werke ook in hulle gesien kan word?
 
Vyfde week in Lydenstyd
2 April
Joh.11:1-45
Ek is die opstanding en die lewe
Ysbreker
Wie sou jy graag langs jou wou hê as jy by die graf van een van jou geliefdes staan? Hoekom?
 
Lof en Aanbidding
Die Here is reg hier by jou. Raak vir ‘n oomblik stil en dink aan Hom in jou donkerste oomblikke van hartseer, pyn en verlies. Sien en voel die pyn. En sien Hom dan by jou in hierdie oomblikke by jou. Hoe verander Hy jou hartseer? Praat in jou stilte met Hom daaroor. Daarna sing die groep vir die Here. Iemand kan Psalm 130 lees en die ander bid dit in hulle harte saam.
 
Woord
Joh.11:1-45

  1. Lees weer die gedeeltes wat vir jou uitstaan in stilte neer. Dit is die woorde wat jou Here op jou hart wil lê. Sien Hom by jou in jou diepste hartseer. Sien Sy eie trane. Dink hoe dit jou laat voel om Hom by jou te hê in hierdie oomblikke en praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Watter krisis speel hom af in hierdie gedeelte? (Verse 1-16) Jesus sien die dood anders as ons. Hoe? (Verse 4, 11, 13-15)
  3. Wanneer Jesus vir Marta en Maria ontmoet, sê hulle presies dieselfde vir Jesus (Verse 17-32). Hoe hanteer Jesus die vrae oor die dood van hulle broer? Wat beteken dit vir jou?
  4. Dan kom Jesus by sy geliefde vriend Lasarus se graf. Wat beteken dit vir jou om te weet Jesus se gemoed het vol geskiet en Hy was aangedaan en Jesus het gehuil? (Verse 33-44)
  5. Jesus wek vir Lasarus op uit die dood. Hy lewe weer. Wat gebeur met die mense wat dit beleef het? (Vers 45) Klip in die bos: Die mense wat regtig begin lewe het, is die mense van wie ons lees in vers 45.
  6. Raak nou weer stil in die Here se teenwoordigheid. Deel enigiets wat jou hartseer maak met Hom en kom tot rus by Hom.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar van julle hartseer en bid dan vir mekaar. Dank die Here vir die 2 wat nou saam met jou bid.
 
Uitsending
Na watter een persoon wat onlangs ‘n geliefde verloor het, gaan die groep die week uitreik met die boodskap dat Jesus saam met hom/haar hartseer is en heeltyd/die hele tyd by hom/haar is?
 
Sesde week in Lydenstyd (Palmsondag)
9 April
Psalm 31:9-16
My tye is in U hand…
Ysbreker
Is daar iemand vir wie jy sal wegkruip as jy hom of haar op straat moet raakloop? Hoekom?
Lof en Aanbidding
Indien julle Taize-liedere het, sing dit herhalend en aanbiddend saam, of as julle dit op CD het, luister na een lied bv. “O Lord hear our prayer”. Terwyl die musiek saggies in die agtergrond speel, kan julle ‘n kers aansteek en in die middel van die groep plaas. Dink dan na oor die Here se nabyheid aan jou in die afgelope week. Dink oor wat jy vir Hom gesê het (of dalk onbewustelik van Hom) – hoe vergelyk dit met die “Hosanna” van Palmsondag en die “Kruisig Hom” later in dieselfde week? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand kan hierdie oomblikke afsluit met die lees van die volgende gebed terwyl die ander dit in hulle harte saambid:
Gebed vir Palmsondag
Here, op hierdie Palmsondag dink ek terug
Aan die Sondag eeue gelede
Ek sien myself in ‘n skare wat saamdrom
En U ry as Koning Jerusalem binne
Op ‘n donkie met ‘n kruis op sy rug
Die mense gooi palmtakke voor U neer
Ek hoor die skare sing, ek probeer hoor wat hulle sing
Ek sien die blydskap, die geluk en liefde uit hulle straal
“Prys Hom! Loof Hom! Hosanna!” hoor ek
En ek sing die eenvoudige loflied saam…
‘n Paar dae later dink ek weer
Aan die Vrydag eeue gelede
Ek sien myself in ‘n skare wat saamdrom
U strompel as veroordeelde Jerusalem uit
Met ‘n kruis op U rug
Die mense spoeg op U en slaan U met die vuis
Ek hoor die skare skreeu, ek probeer hoor wat hulle skreeu
Ek sien die woede, die ongeluk, die haat op hulle gesigte
“Kruisig Hom! Kruisig Hom!” hoor ek
En ek skreeu die verskriklike woorde saam…
‘n Paar uur later sien ek myself in die skare wat saamdrom
U is vasgespyker aan die kruis
Ek hoor U woorde en probeer hoor wat U sê
“Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”
En ek raak stil…
(AH)
 
Woord
Ps.31:9-16

  1. Lees die gedeelte eers weer in stilte met jou hart. Beleef dit wat Dawid hier beleef ook in jou eie hart. Praat met die Here oor dit wat vir jou uitstaan.
  2. Hoe ervaar Dawid die lewe? (Verse 10-14)
  3. Hoe kom dit ooreen met ons ervaring van die lewe?
  4. Wat keer dat Dawid ondergaan? (Verse 15-16)
  5. Aan Wie laat verse 10-14 jou dink? (Vgl. Mk.15:34.) Wat beteken dit vir jou?
  6. Wat wil jy vir die Here sê in antwoord op Sy Woord? Gee nou genoeg tyd vir stilte. Laat een kersie in die middel van die vertrek brand.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir Sy verlossingswerk in jou broer/suster se lewe. Dra dan mekaar se swaar aan die Here op.
 
Uitsending
Die groep spreek af om hierdie week op dieselfde dag hulle middag-ete prys te gee en te vas. Dit wat hulle sou geëet het, word bymekaar gesit en aan iemand wat niks het nie, gegee.
 
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net