{ARGIEF}

MEI 2012 RIGLYNE VIR HUISKERKE EN SELGROEPE MET DIE LEESROOSTERTEKSTE AS FOKUS

VYFDE WEEK IN PAASTYD

6 Mei

Joh.15:1-8

Vas aan die Wingerdstok!

Ysbreker

Aan watter persoon in jou lewe is jy so vas dat dit moeilik sal wees as hy of sy moet weggaan? 

Lof en Aanbidding

Fokus nou weer op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Dink aan jou verhouding met Hom. Hoor Jesus se woorde: Jy is in My, Ek is in jou. (Herhaal dit ‘n paar maal saggies). Loof en aanbid Hom daarna. 

Woord

Joh.15:1-8

  1. Lees eers weer die verse in stilte met jou hart. Kyk na die woord(e) wat vir jou uitstaan. Sien hoe jou verhouding met Jesus lyk volgens die beskrywing van die wingerdstok en die lote. Praat met die Here daaroor.
  2. Wat vertel die beeld wat Jesus in vers 1 en 3 gebruik van Sy verhouding met jou?
  3. Hoe werk hierdie verhouding? (vers 4)
  4. Wat is die gevolge van hierdie verhouding? (vers 5) Hoe lyk dit in ons daaglikse lewe?
  5. 5.Wat is die beloning van hierdie verhouding? (vers 7)
  6. 6.Wat is die eintlike doel van ons lewe? (vers 8) Hoe verander hierdie woorde van Jesus jou lewe? Dink aan Gal.2:20. Bespreek dit met mekaar en raak dan stil en deel jou hart met Hom. 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Loof die Here vir die vrug wat jy in jou broer/suster sien. Deel julle vrese en bekommernisse met mekaar. Belowe om dit met niemand buite die groep te bespreek nie en bid dan vir mekaar. 

Uitreiking

Dalk is daar iemand in julle wyk of omgewing wat baie ver van die Here en Sy kerk is. Hoe gaan die groep hom/haar bereik?

 

SESDE WEEK IN PAASTYD

13 Mei

Joh.15:9-17

Ek dra vrug!

Ysbreker

As jy vir iemand moet vertel hoe hy jou in ‘n skare kan uitken, hoe sal jy jouself aan hom verduidelik? [bv. kyk net uit vir die een met die…] 

Lof en Aanbidding

Raak nou eers stil by die Here. Dink oor jou verhouding met Hom, en die vrug daarvan in jou lewe die afgelope week. Dink aan oomblikke in jou week wat jy sien as Godsmomente en praat in stilte met Hom daaroor. Begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gebede en gedeeltes uit die Skrif. 

Woord

Joh.15:9-17

  1. 1.Lees weer die gedeelte in stilte. Hoor Jesus se stem. Hoor hoeveel keer Hy die woordjie “liefde” gebruik. Dink daaroor na en praat dan eers in stilte met Hom.
  2. 2.Hoe lief het Jesus Sy dissipels? Hoe “bly ons in” Sy liefde? (vers 9, 10) [Boodskap:Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe!”]
  3. 3.Wanneer beleef ons volkome blydskap? (verse 11,12). Ken jy hierdie blydskap?
  4. 4.Wat noem Jesus sy dissipels en hoekom? (verse 14, 15)
  5. 5.Waarvoor is ons uitgekies en aangestel? Wat is die beloning? (vers 16)
  6. 6.Watter vrug is ook Jesus se bevel? (vers 17). Is dit nodig dat Hy ‘n vrug beveel? Hoe verander hierdie woorde van Jesus jou lewe? Bid in stilte hierdie woorde: Maak my meer en meer bewus van U in my en ek in U, sodat U deur my kan lewe en liefhê. (AH) 

Bedien mekaar

Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here vir Sy groot liefdesdade in jou broer/suster se lewe en bid dan vir mekaar se behoeftes. 

Uitreiking

Iemand in julle wyk of omgewing het die vrug van liefde nodig. Hierdie groep het dit! Miskien kan julle met ‘n vrugtemandjie na die persoon uitreik en doodgewoon die liefde van die Here met hom gaan deel. Gesels oor hoe julle dit gaan doen.

 

SEWENDE WEEK IN PAASTYD

20 Mei

1Joh.5:9-13

Wie die Seun het, het die lewe

Ysbreker

Baie keer as mense met vakansie gaan en sit en ontspan na ‘n harde tyd agter die rug, sê hulle: “Dis nou die lewe”. Wat is vir jou die lewe? 

Lof en aanbidding

Raak nou weer stil en fokus op die lewende Heer in julle midde. Julle kan die oomblik gebruik om tot rus te kom. Sit gemaklik en maak julle oë toe. Fokus eers op julle asemhaling. Voel die lewe in jou voete en bene, arms, hande en skouers. Wanneer jy inasem kan jy saggies vir jouself sê: “Ek het die Seun” en wanneer jy uitasem “Ek het die lewe”. Na ‘n paar minute van stilte loof en aanbid die groep Hom terwyl hulle Hom beleef. 

Woord

1Joh.5:9-13

  1. 1.Raak nou weer stil met die woord. Laat die woord(e) wat die Here deur hierdie gedeelte op jou hart lê, afsak tot diep in jou hart. Praat saggies met die Here daaroor.
  2. 2.Watter getuienis oor God se Seun hoor ons helder en duidelik “uit God se mond?” (Vers 9; vgl. Matt.3:16-17, 17:5)
  3. 3.Watter getuienis dra ons as gelowiges in ons hart? (Vers 10) Wat beteken dit vir jou?
  4. 4.Wat behels die getuienis? (Verse 11-13) Hoe verduidelik jy hierdie getuienis aan iemand anders?
  5. 5.Hoe verander hierdie woorde jou lewe? Hoe kan ons hierdie getuienis lewe? 

Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes met mekaar. Versterk, vertroos en bemoedig mekaar en bid dan vir mekaar. 

Uitreiking

Dink aan een persoon met wie jy die komende week hierdie getuienis kan gaan deel. 

PINKSTERFEES (EN DIE WEEK DAARNA)

27 Mei

Rom.8:22-27

Ek sug nie alleen nie!

Ysbreker

Hoe antwoord jy gewoonlik wanneer iemand jou vra hoe dit gaan? 

Lof en Aanbidding

Raak nou eers weer stil. Geniet die stilte en fokus op die Here. Sing dan vir Hom lofliedere en aanbid Hom. Iemand kan die woorde van Henri Nouwen voorlees terwyl die res biddend daaroor nadink: “Dit is nie net ons, mense, wat te midde van ons lyding wag op en uitsien na verlossing nie; die hele skepping steun en kreun saam met ons, smagtend om volle vryheid te smaak. Op dié manier is ons inderdaad nie net susters en broers van alle ander vroue en mans in die wêreld nie, maar ook van alles wat ons omring. Ja, ons moet die koringvelde, die sneeubedekte berge, die woeste see, die wilde en mak diere, die reuse-eike en die klein madeliefies liefhê. Alles in die skepping behoort, saam met ons, tot die groot familie van God” (3 Minute stilte, 9 Desember) 

Woord

Rom.8:22-27

  1. 1.Lees weer die gedeelte in stilte met jou hart. Let op die woorde(e) wat vir jou uitstaan, herhaal dit saggies, biddend. Dink aan jou in die skepping. Beleef hoe die Heilige Gees saam met jou en in jou bid.
  2. 2.Waarom sug die skepping? (vers 22)
  3. 3.Waarom sug ons? (vers 23)
  4. 4.Wat maak dit van ons sug? Is dit ‘n sug sonder of met hoop? (verse 24, 25)
  5. 5.Watter rol speel die Heilige Gees wanneer ons sug? (vers 26, 27)
  6. 6.Hoe kan ons mekaar help om weg te beweeg van ‘n moedelose sug na ‘n gebed “saam met die Heilige Gees”?Bedien mekaar

Draai 3-3 na mekaar toe. Dank eers die Heilige Gees dat Hy julle nou bystaan in julle gebede. Deel dan julle behoeftes met mekaar. Dra mekaar dan aan die Here op. 

Uitreiking

Hoe gaan julle die mense in julle omgewing se aandag vestig op die skepping se “sug” en na watter baie moedelose mense gaan julle hierdie week uitreik?