{ARGIEF}

vir huiskerk en selgroepbyeenkomste met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Derde week in Paastyd

4 Mei
Hand.2:14a; 36-41
Die belofte vir julle en julle kinders…
Ysbreker
Watter groot geskenke wat julle ouers ontvang het, kon julle net so veel soos hulle geniet?
Lof en aanbidding
Kom tot rus en fokus op die lewende Here tussen julle. Dink na oor jou belewenis van Hom die afgelope week. Waar het jy Hom die duidelikste gesien? As daar iets is wat die afgelope week swaar op jou hart was, deel dit nou met Hom in jou stilte. Loof en aanbid Hom dan met julle liedere. Iemand kan Psalm 116 voorlees terwyl die res dit biddend in hulle harte beaam.
Woord
Hand.2:14a; 36-41

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart deur en fokus op die woorde wat vir jou uitstaan.  Sien hoe die woorde jou vorm.
  2. Petrus is steeds besig met sy toespraak o.l.v. die Heilige Gees. In vers 36 sluit hy dit af met die hoogtepunt. Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?
  3. Hoe reageer die mense op die boodskap? (Vers 37)
  4. Hoe antwoord Petrus hulle. (Verse 38-41) Hoe anders sal julle antwoord vandag geklink het?
  5. Lees nou weer die gedeelte in stilte en sien watter effek die boodskap oor Jesus, die Here en Christus, op jou het.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Bevestig eers mekaar met die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
hoe kan ons as groep die lewende Here die komende week in ons omgewing sigbaar gaan maak?

Vierde week in Paastyd

11 Mei
Hand.2:42-47
Die eerste gemeente
Ysbreker
Watter groep mense in jou lewe het vir jou so baie beteken, dat jy graag in hulle geselskap wou wees?
Lof en aanbidding
Raak stil by die Here. Dink na oor die maniere waarop Hy jou die afgelope week deur ander mense geseën het. Sien ook hoe jy tot seën vir ander was. Na die oomblikke van rus by die Here, loof en aanbid julle Hom met liedere. Iemand kan Psalm 23 voorlees terwyl die res die Herder se nabyheid aan hulle die afgelope week beleef.
Woord
Hand.2:42-47

  1. Lees die gedeelte weer in stilte deur en sien jouself in die gedeelte as lidmaat van die eerste gemeente. Beleef die gemeente se onderlinge eensgesindheid en liefde en hoe graag hulle bymekaar wou wees.
  2. Hoe lyk die getuigskrif oor die eerste gemeente? Wat staan vir jou uit? (Verse 42-47)
  3. Watter verskille en ooreenkomste is daar tussen hierdie gemeente en die een waarvan jy lidmaat is? (Hierdie is NIE ’n geleentheid om jou gemeente te kritiseer nie, eerder om raak te sien hoe die drie-enige God besig is om in en deur jou gemeente te werk)
  4. Hoe verander hierdie verse ons as groep?
  5. Raak nou weer stil. Dink na oor jou eie deelname in jou gemeente. Sien hoe dit verander in die lig van die gedeelte wat julle saam gelees het. Praat met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar hoe baie die ander vir jou beteken, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe wil die Here hierdie groep die week in die gemeente gebruik?

Vyfde week in Paastyd

18 April
Hand.7:55-60
Wanneer die klippe neerreën…
Ysbreker
Wat maak jy gewoonlik met die klippe wat mense na jou kant toe gooi?
Lof en Aanbidding
Kom nou tot rus voor jou Here. Dink in stilte oor Sy betrokkenheid in jou lewe, Sy teenwoordigheid wanneer jy onder mense se kritiek en liefdeloosheid moet deurloop. Laat jou gedagtes gaan na die mees onlangse klippe wat jy ontvang het, of gegooi het. Praat met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom daarna saam met liedere. Iemand kan Psalm 31:1-5, 15,16 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
Woord
Hand.7:54-60

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur. Klim in die gedeelte in asof jy self in die hittige oomblikke teenwoordig is. Beleef die woede van die Joodse Raad asof dit teenoor jou is. Sien wat Stefanus sien in die oomblikke van sy lewe. Die oop hemel, Jesus wat staan, die gevoel teenoor die mense wat so lelik is met jou. Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Hoekom is die Joodse Raad dan so woedend dat hulle op hulle tande kners vir die arme Stefanus?
  3. Watter ervaring het Stefanus wanneer die woede so op hom neerdaal? (Verse 55-56) Het jy al ooit so iets ervaar?
  4. Die mense wat hom hoor, kan dit nie hanteer nie. Hulle druk hulle ore toe, skreeu hom dood en begin dan gewelddadig raak en stenig hom. Wat doen die sterwende Stefanus? (Verse 57-60) Wat leer jy uit hierdie gebeurtenis. Aan Wie herinner Stefanus jou?
  5. Aan Wie moet ek en jy mense herinner wanneer ons onder die mense se klippe gesteek word? (Vgl. Matt. 5:44,45 en 48) Raak nou stil en praat met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. In gebed dank julle die Here vir die mooi wat jy in jou broer en suster wat saam met jou bid, sien. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Hoe kan ons as groep mekaar help om die vergifnis van die Here in ons gemeenskap te lewe?

Sesde week in Paastyd

25 Mei
Hand.17:22-31
“Deur Hom lewe ons…”
Ysbreker
Is jy iemand van baie woorde of is jy bang jou woorde laat jou in die steek?
Lof en Aanbidding
Die Here is reg hier by jou. Raak vir ‘n oomblik stil en dink aan Hom, aan alles wat jy van Hom weet en bely en hoe dit jou lewe verander. Praat in jou stilte met Hom daaroor. Daarna sing die groep vir die Here. Iemand kan Psalm 66:8-20 lees en die ander bid dit in hulle harte saam.
Woord
Hand.17:22-31

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart. Watter woord(e) staan uit vir jou? Let op dit wat Paulus hier oor ons God sê. Dink in stilte daaroor en sê vir die Here jou God wat dit vir jou persoonlik beteken.
  2. Op watter manier sluit Paulus aan by dit waarin die Ateners reeds glo? (Verse 21-23)
  3. Hoe stel Hy God aan hulle bekend? (Verse 24-29)
  4. En noudat hulle God ken, praat Paulus van Hom wat roep. Wat lees ons in verse 30-31?
  5. Lees nou weer vers 28 in stilte en sê vir jou Here hoe jy daaroor voel.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle die Here julle God prakties ken en ervaar en bid dan vir mekaar. Dank die Here vir die 2 wat nou saam met jou bid.
Uitsending
Hoe kan ons die Here ons God prakties met mense rondom ons deel?