{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster as basis


Drie-en-twintigste week in Koninkrykstyd
1November
Mark.12:28-34
Die grootste van alles
Ysbreker
Wanneer was jy regtig trots op jouself toe jy iets reggekry het wat jy gedink het nie moontlik is nie?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons loof vanaand die Here met harte wat oorloop van blydskap. Loof Hom met liedere, gedeeltes uit die Woord, gebede en aanbid Hom. Raak dan stil en geniet die Here se teenwoordigheid. Dink aan Hom wat nou in liefde na jou kyk. Laat sy liefdesblik insak tot in jou hart. Stap dan saam met Hom deur die afgelope week in jou lewe. Waar was jy besonder bewus van sy liefde vir jou? Hoe kon jy hierdie liefde deel? Na die oomblikke van rus lees iemand Psalm 146 en die res beaam dit in hulle harte.
 
Woord
Mark.12:28-34

  1. Lees eers die gedeelte in stilte met jou hart deur en laat die woorde tot diep in jou hart indring. Sien jouself in die gedeelte. Hoor die vraag van die skrifgeleerde. Hoor Jesus se antwoord en beleef hoe sy antwoord reeds jou lewe verander.
  2. Hoekom, dink julle, vra die Skrifgeleerde vir Jesus die vraag in vers 28? Hoekom wil mense so graag redeneer oor “godsdiens”?
  3. Wat is Jesus se antwoord? (verse 29-31) Kan die een sonder die ander? (vgl.Matt22:39)
  4. Wat sê die Skrifgeleerde se antwoord vir jou? (verse 32-33)
  5. Wat leer Jesus se opmerking in vers 34 vir ons? Is dit genoeg om te weet wat God wil hê?
  6. Hoe kry ons dit reg om die “grootste van alles” te doen? (Vgl.Rom.5:5) Kom nou weer tot rus by die Here en lees weer deur die gedeelte. Sien reeds hoe anders jou lewe (jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag) lyk nadat jy in Jesus se teenwoordigheid was en hierdie bekende woorde weer gehoor het.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle mekaar waardeer en bid dan vir mekaar se behoeftes by die naam.
 
Uitsending
Wie in julle omgewing het op hierdie oomblik dringend behoefte aan God se liefde. Hoe gaan die groep sy liefde deur hulle na hom/haar/hulle laat stroom?
 
Vier-en-twintigste week in Koninkrykstyd
8 November
Mark.12:38-44
My alles vir die Here!
Ysbreker
Wat is daar in jou lewe waarvoor jy nie omgee om baie te betaal nie? Is dit werklik die geld werd?
 
Lof en Aanbidding
Raak nou eers weer stil. Geniet die stilte en fokus op die Here. Sing dan vir Hom lofliedere en aanbid Hom. Kom dan tot rus en dink aan Hom in die afgelope week in jou lewe. Jy kan in jou hart die volgende woorde bid: “Here Jesus, U gee Uself aan my” (Dink na oor hoe Hy Homself aan jou gee) en daarna: “Here Jesus, ek gee myself aan U” (Dink na oor hoe jy jouself aan Hom gee). Iemand lees dan Psalm 127:1,2 en die res herhaal dit in hulle harte.
 
Woord
Mark.12:38-44

  1. Lees eers die gedeelte in stilte biddend en sien jouself in die gedeelte. Hoor Jesus se woorde oor die skrifgeleerdes. Hoe raak dit jou? Sien die arm weduwee by die offergawekis by Jesus. Sien die aandag wat Jesus aan haar gee. Laat die gebeure afsak tot in jou hart en deel word van jou.
  2. Hoekom sal die Skrifgeleerdes so swaar gestraf word? (verse 38-40). Is ons Gemeente se prioriteite 100% reg as ons dink aan mense in nood rondom ons?
  3. Wat doen die ryk mense en wat doen die arm weduwee in verse 41-42?
  4. Wat dink Jesus van die mense se offers? (verse 43-44)
  5. Wat is so merkwaardig van die weduwee se offer? Wat sê dit van ons offers? (vgl.Rom.12:1)
  6. Raak nou weer stil en lees die deel van die Woord wat jou aangeraak het. Sien reeds hoe die Here deur sy Woord jou verander om jouself aan Hom te offer.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Wy nou eers mekaar aan die Here toe as offers wat Hy kan gebruik en bid dan met geloof en vertroue vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Wat kan die groep hierdie week doen om in die lewe van ‘n weduwee of bejaarde ‘n lewende offer te gaan wees?
 
Vyf-en-twintigste week in Koninkrykstyd
15 November
Mark13:1-8
Die begin van die nuwe tyd
Ysbreker
As jy weet Jesus kom hierdie Kersfees, watter voorbereidings sal jy hierdie jaar tref vir die Kersgety?
 
Lof en Aanbidding
Sing nou saam oor die koms van Jesus. Terwyl julle sing, beleef die emosie wat Jesus se koms in jou wakker maak. Kom dan tot rus en dink aan Hom by jou die afgelope week. Is daar oomblikke waaraan jy kan dink toe Hy regtig naby aan jou gevoel het? Wat het gebeur? Dink na oor hoe dit jou dag verander het. Na die oomblikke van rus kan iemand die volgende gebed lees: “Jesus Christus, ons Lig, U het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie maar sodat, deur U, die Opgestane Heer, elke mens gered en versoen mag word. En wanneer die liefde wat vergewe soos vuur in ons word, dan kan die hart, selfs wanneer verwond, opnuut begin liefhê.” (Broer Roger van Taizé)
 
Woord
Mark.13:1-8

  1. Raak eers stil met die Woord oop voor jou, lees die woorde met jou hart en beleef wat jy lees asof jy self in die oomblik is en Jesus se stem hoor. Sit saam met Jesus op die Olyfberg. Hoe laat die profetiese woorde van Jesus jou voel?
  2. Watter dinge wat Jesus hier noem, sien en hoor julle op die oomblik rondom julle gebeur?
  3. Is daar ander dinge wat julle verontrus – dinge wat julle sien gebeur (vgl.1Tim.4:1).
  4. Wou Jesus met hierdie woorde vir Sy dissipels leer wanneer Hy sou kom, of dat hulle elke oomblik gereed moes wees vir Sy koms? Gesels daaroor.
  5. Jesus sê ons moenie “verskrik” wees nie en dit is die “begin van die nuwe tyd”. Wat bedoel Hy daarmee?
  6. Raak nou weer stil en praat met die Here oor die woorde wat jou aangeraak het in die gedeelte. Hoe verander hierdie ontmoeting met Jesus jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes en bekommernisse met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Vir watter een persoon gaan jy weer hierdie week hierdie Skrifgedeelte lees?
 
SONDAG VAN CHRISTUS DIE KONING
22 November
Joh.18:33-37
Koning van my hart…
Ysbreker
Aan watter verwagtings moet jou leier(s) voldoen voor jy met hulle tevrede is? Slaag hulle jou toets?
 
Lof en aanbidding
Die Here is hier. Raak nou stil en rus vir ‘n oomblik in Hom. Jy kan fokus op Jesus as die Koning. Daarna sing die groep vir die Koning liedere om Hom te loof en te aanbid. Iemand kan Ps 93 lees en die ander luister biddend.
 
Woord
Joh.18:33-37

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Beleef dit wat hier gebeur asof jy self daar is. Wat spreek jou in besonder aan? Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Watter tipe koning dink Pilatus aan wanneer hy hierdie vrae aan Jesus stel? (Verse 33-35)
  3. Hoe verskil Jesus se Koninkryk van die een waaraan Pilatus dink? (Verse 36-37)
  4. Hoe vind Jesus se Koningskap gestalte in jou hart en lewe?
  5. Raak nou stil en praat met Hom oor die beheer wat jy tot nou toegelaat het wat Hy in jou lewe mag beoefen. Gee jouself dan in die gebed volkome aan Hom oor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Jesus die Koning stel in al jou behoeftes belang. Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Hoe kan die groep die koninkryk van Jesus in die wêreld in die weke wat kom gaan sigbaar maak?