{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis
Vyf-en-twintigste week in Koninkrykstyd
6 November
Haggai 1:15-2:9
Skep moed… Ek is by julle!
Ysbreker
Wat laat jou spesifiek hierdie tyd van die jaar moed skep?
 
Lof en aanbidding
Die Here is hier. Sing vir Hom liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Kom dan tot rus in sy teenwoordigheid en geniet net die stilte, sy nabyheid, sy aanraking. Dink na oor iets wat Hy jou die afgelope week of tyd kom gee het. Sê vir Hom dankie. Neem saam met Hom ‘n reis deur die afgelope tyd in jou lewe en sien waar Hy jou gelei het om dankbaar teenoor Hom te lewe. Dink aan die tyd wat jy saam met Hom deurgebring het. Iemand kan die tyd afsluit met die gebed: “Here, ek het so ‘n behoefte aan U, ek vergeet U het ook ‘n behoefte aan my”.
 
Woord
Haggai 1:15-2:9

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart en beleef wat jy lees. Fokus op woorde wat vir jou uitstaan en fluister die woorde saggies en laat dit afsak tot diep in jou hart.
  2. Waar begin hierdie hele verhaal? (Haggai 1:2-4) Hoe sou ons hierdie probleem vandag in ons omstandighede in eie woorde identifiseer?
  3. Hoe lank neem dit vir die volk om te luister na wat die Here sê en daarop te reageer? (1:1, 15)
  4. Maar wanneer dit goed gaan, is daar soms dinge wat die vreugde kom steel. Hoe ervaar die volk van die Here hierdie teleurstelling? (2:1-3) Wat steel dikwels ons vreugde in die Gemeente of in ons verhouding met ons Here?
  5. Hoe bemoedig die Here sy mense? (4-9) Fokus op die woorde: “My belofte sal Ek nakom… My Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie… Op hierdie plek sal Ek vrede gee…”
  6. Raak nou weer stil en lees weer die gedeelte deur. Hoe verander die woorde jou? Herhaal die woorde “skep moed” ‘n paar keer in jou hart.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel die dinge wat julle vreugde steel met mekaar. Bid vir mekaar.
 
Uitsending
Dalk is daar mense in die omgewing wat nodig het om moed te skep. Hoe kan hierdie groep daarmee gaan help?
 
Ses-en-twintigste week in Koninkrykstyd
13 November
Lukas 21:5-19
Ons toekoms veilig in God se hande

Ysbreker

As jy net een wens het vir jou toekoms, wat sal dit wees?

Lof en Aanbidding

Die Here wat weer kom, is hier by ons. Kom ons raak net eers van sy teenwoordigheid bewus. Dank Hom in stilte dat Hy so in jou belangstel, dat Hy nou by jou is. Dan loof en aanbid ons Hom met lof- en aanbiddingsliedere met ons hele wese. Iemand lees Psalm 98 voor en die ander luister en bid dit in hulle harte saam. Iemand kan die oomblikke van rus by die Here afsluit met die gebed: “Jesus, U wat weer kom vir my, is nou ook hier vir my…” (Herhaal dit so ‘n paar keer in jou hart.

Luk.21:5-19

  1. Lees die gedeelte eers weer in stilte biddend deur. Hoor Jesus se stem. Voel dit vir jou na goeie of slegte nuus wat Hy bring? Laat sy woorde en jou gevoelens afsak tot diep in jou hart en bly ‘n rukkie in die moment.
  2. Die heilige en pragtige tempel is met soveel moeite herbou. Wat sien Jesus wanneer Hy na die tempel kyk? (Verse 5-7)
  3. Hoe lyk die wêreld waarin ons lewe voor Jesus se koms? (8-11) Watter van hierdie dinge sien julle reeds raak?
  4. Hoe lyk die lewe van Jesus se dissipels voor Sy koms? (12-19) Hoe ervaar julle as Jesus se dissipels die “vervolging” waarvan Hy praat in julle alledaagse lewe?
  5. Wat dink julle is ons roeping in hierdie tyd?
  6. Raak stil asof jy beleef Jesus sit hier reg langs jou. Fluister vir Hom iets oor jou eie belewing as sy dissipel in hierdie dae. Hoe stel dit jou gerus om met Hom te praat?

 

Bedien mekaar

Dalk ervaar julle die vervolging en verraad by julle werk, in julle vriendekring of selfs in julle familie. Deel dit nou met mekaar in groepies van 3, bemoedig mekaar en bid vir mekaar.

Uitsending

Hoe gaan hierdie groep mense in die onmiddellike omgewing in hierdie tye bemoedig om Jesus te volg?
Sewe-en-twintigste week in Koninkrykstyd
20 November
Lukas 23:33-43
Jesus is die Koning (van my hart)
Ysbreker
Hoe moet ‘n leier lyk voor jy hom/haar regtig sal volg?
 
Lof en aanbidding
Die Here is hier. Dink aan al die manier waarop Hy in jou lewe betrokke is en loof en aanbid Hom uit bewonderende harte. Fokus nou op Hom in stilte. Dink na oor die oomblikke die afgelope week toe Hy Homself aan jou gegee het om by jou en in jou te wees. Iemand kan Psalm 46 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte beaam.
 
Woord
Luk.23:33-43

  1. Lees nou weer die gedeelte in stilte met jou hart deur. Beleef in jou hart dit wat hier gebeur. Eers as iemand in die skare wat op ‘n afstand staan en kyk. Dan kom jy nader en hoor Jesus se woorde “Vader vergewe…”, dan reg langs Hom aan die kruis: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees…” Praat in stilte met die Here oor dit wat jy beleef.
  2. Dink julle die plek waar Jesus gekruisig word en saam met wie het enige betekenis?
  3. Ons hoor ‘n klomp verskillende stemme wanneer Jesus aan die kruis hang, maar dit is helder genoeg dat dit opgeteken kan word in die Lukas-evangelie. Wat hoor ons alles? (Verse 35-39)
  4. Watter stem praat die waarheid? (Vers 40-42)
  5. Wat beteken die 2 woorde van Jesus in hierdie verse vir jou persoonlik? (Verse 34, 43)
  6. Die gebroke Jesus is werklik die Koning. Raak nou stil en lees en beleef weer hierdie lewensveranderende oomblikke asof jy daar is en dink na hoe dit jou eie lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar, bid vir mekaar en vertrou die Here om  die res te doen.
 
Uitsending
Hoe kan ons Jesus die Koning aan mense rondom ons voorstel dat hulle Hom ook plek in hulle harte en lewens gee?
 
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net