{ARGIEF}

met die Sleuteltekste van die Leesrooster vir Lidmate as basis


Twee-en-twintigste Sondag in Koninkrykstyd
5 November
1 Tes.2:9-13
Die Woord werk!
Ysbreker
Hoe weet jy gewoonlik of die storie wat iemand jou vertel, die waarheid is of nie? Of is jy iemand wat alles glo wat jy hoor?
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom hier by jou en jy by Hom. Jy is nou op die plek waar God wil hê jy moet wees. Raak bewus van die oneindige liefde waarmee Hy na jou kyk. Rus in Hom, wees lief vir Hom, beleef sy omhelsing. Na die stil oomblik sing die groep saam liedere waarmee hulle God loof en aanbid. Iemand lees dan Psalm 107:1-9. Herhaal  in jou hart: “Aan u liefde is daar geen einde nie”
Woord
1Tess.2:9-13

  1. Lees eers die gedeelte in stilte met jou hart. Sien die woorde raak wat vir jou uitstaan. Fluister hulle saggies. Laat die woorde afsak tot in jou hart. Sien hoe anders jy lyk wanneer die woorde jou lewenswyse is.
  2. In vers 10 sê Paulus iets oor hulle eie lewe. Wat lees ons? Pas dit by die boodskap wat hulle verkondig het?
  3. Op watter wyse het Paulus en sy medewerkers die Tessalonisense bedien? (Verse 11,12)
  4. Waaroor is Paulus-hulle dankbaar? (vers 13)
  5. Hoe weet ons dit is die Woord van God wat ons verkondig of wat tot ons kom? (vers 13b)
  6. Kom nou weer tot rus. Lees weer die paar verse. Fokus op die woorde wat vir jou uitstaan. Sien reeds hoe die Here jou by hierdie ontmoeting verander het. Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle harte en behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Na wie gaan die groep hierdie week met die Woord wat ‘n uitwerking het op mense se lewens?
Drie-en-twintigste week in Koninkrykstyd
12 November
1Tess.4:13-18
Ons ontslaap!
Ysbreker
As jy moet dink aan iets waarvan jy werklik niks verstaan nie, wat is dit?
Lof en Aanbidding
Raak stil by mekaar en by jou Here. Sit net ‘n oomblik in sy omhelsing en geniet die stilte saam met Hom. Stap saam met Hom deur die afgelope week in jou lewe. Dink aan oomblikke toe jy Hom besonder naby beleef het. Bly in die oomblikke. Sing nou ‘n paar lofliedere wat die kinders ook heerlik kan saamsing en gaan dan spontaan oor in aanbidding.
Woord
1Tess.4:13-18

  1. Lees die paar verse in stilte. Dink na oor jou emosies terwyl jy die gedeelte lees. Hoe verontrus dit jou? Hoe bring dit vrede?
  2. Wat noem Paulus die gelowiges wat gesterf het? (Vers 13) Waaraan laat dit julle dink?
  3. Wat leer ons in verse 14, 16 oor ons gelowige broers, susters wat voor die wederkoms “ontslaap”? Troos dit jou?
  4. Vers 15 en 17 vertel vir ons wat met ons gaan gebeur as die Here vandag kom, en ons lewe nog. Gesels daaroor.
  5. Dink julle ons kan vers 18 werklik suksesvol doen?
  6. Raak weer stil. Lees die woorde weer. Dink na oor hoe dit jou verander wanneer jy ook jouself in hierdie paar verse begin sien.

Bedien mekaar
Neem nou 3-3 mekaar se hande. Vertel eers vir mekaar hoe baie werd julle vir mekaar is. Daarna deel julle julle bekommernisse en behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Daar is so baie mense wat die afgelope tyd mense deur die dood verloor het. Hoe kan die groep die mense met hierdie woorde gaan bemoedig?
Vier-en-twintigste week in Koninkrykstyd
19 November
1Tess.5:1-11
Die dag van die Here
Ysbreker
Wat sal jy alles vandag doen as jy weet dit is môre die wederkoms?
Lof en Aanbidding
Die Here wat ons so goed ken, wat besig is om weer te kom, kom nou na ons toe by hierdie byeenkoms om by ons te wees. Ons raak stil en beleef sy teenwoordigheid. Ons gee onsself in die stilte aan Hom sodat Hy deur ons mekaar kan bemoedig. Sien reeds hoe Hy in en deur jou doen wat Hy graag wil. Loof die Here afwisselend met liedere, Skrifgedeeltes en gebede en aanbid Hom daarna vir Wie Hy is. Iemand kan dan Psalm 123 lees. Fluister die woorde: “Ontferm U oor ons, Here”.
Woord
1Tess.5:1-11

  1. Lees die gedeelte biddend in stilte. Watter woorde staan vir jou uit? Herhaal hulle in jou hart. Sien hoe die woorde jou lewe nuutmaak.
  2. Is dit werklik nodig dat ons weet wanneer en hoe Jesus kom? (Vers 1)
  3. Hoe sal Jesus se koms wees vir mense wat in die duisternis lewe? (vers 2,3)
  4. Hoe lyk “mense van die nag” (vers 6,7)?
  5. Hoe verskil hulle van “mense van die dag” (Vers 8)
  6. Het ons nodig om bang te wees vir die wederkoms of oordeel? (Vers 9-11)
  7. Raak stil by die Here. Dink na oor die woorde wat jou hart geraak het. Praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Sê nou dit is vanaand die laaste byeenkoms voor die wederkoms, wat sal julle graag vir mekaar wil bid? Deel dit met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan ons as groep hierdie week mense in ons omgewing gaan bemoedig?
Vyf-en-twintigste week in Koninkrykstyd
26 November
Matt.25:31-46
Ek was dors…
Ysbreker
Hoe wil jy graag hê dat mense jou moet onthou?
Lof en aanbidding
Kom tot rus in die teenwoordigheid van die Here jou God. Vra Hom om jou in die stilte te lei sodat jy Hom kan sien in die mense wat die afgelope week oor jou pad gekom het. Dink aan die mense wat jy ontmoet het. Gee julleself dan met lof- en aanbiddingsliedere aan Hom. Iemand kan die lof afsluit met die lees van Psalm 100 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
Matt.25:31-46

  1. Lees die gedeelte weer in stilte. Beleef Jesus se woorde en sien jouself as die een wat dors of honger ens. was en sien ook die dors en honger mense wat oor jou pad kom terwyl jy die gedeelte lees.
  2. Watter toneel sien ons hier afspeel? (Verse 31-33) Moet ons iets leer uit die beeld van “skape en bokke”?
  3. Die skape aan die regterkant is eerste aan die beurt. Wat sê die Koning vir hulle? En wat is eienaardig aan hulle vrae “wanneer”? (Verse 34-40)
  4. Hoe verskil die bokke (aan die linkerkant) van die skape? (Verse 41-46)
  5. Waarmee wil Jesus hê moet ons in die tyd voor sy wederkoms besig wees? Waarmee is ons meestal besig? Raak stil en sien hoe die Here jou deur sy Woord verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Waardeer mekaar eers en deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Waarmee wil Jesus hê, moet ons as groep ons in die komende week gaan besig hou?
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net