{ARGIEF}

Lof en Aanbidding
Raak nou eers weer stil. Geniet die rus en fokus op die Here by jou. Dink na oor die afgelope week in jou lewe. Sien een ding raak wat jy sien as God se geskenk van liefde aan jou. Dank Hom daarvoor. Iemand kan die volgende woorde voorlees en die groep dink biddend daaroor: “Jesus, die Geseënde Een, was arm. Die armoede van Jesus was baie meer as ekonomiese en sosiale armoede. Jesus was arm omdat Hy vrywillig magteloosheid bo mag gekies het; kwesbaarheid bo ’n aggressiewe houding; afhanklikheid bo selfgenoegsaamheid.” (Henri Nouwen) Sing dan vir Hom lofliedere en aanbid Hom.
Woord
Amos 5:6-15 (ook in Die Boodskap)

  1. Lees eers weer die gedeelte met jou hart biddend. Let op woorde of sinsnedes wat vir jou uitstaan en herhaal die woorde in jou gedagtes. Sien hoe dit deel word van jou lewe.
  2. Wat is die mense se behoud? (Vers 4, 5a)
  3. Hoe lyk dit wanneer mense die wil van die Here ignoreer? (Verse 7, 10, 11a, 12)
  4. Wie is die verstandige mens en wat doen hy in die bose tyd? (Vers 13)
  5. Wat verlang die Here in die bose tyd van sy kinders? (Verse 14,15)
  6. Gesels weer saam oor versMense wil graag sien, hoor en ervaar dat die Here by ons is. Kan dit wees dat ons Hy is by ons, terwyl ons eintlik weet dat Hy lankal nie meer sigbaar is in ons lewens nie? Hoe verander die Here deur die Woord jou lewe. Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar hoe julle mekaar as broers en susters waardeer en deel dan julle behoeftes met mekaar. Bid dan vir mekaar en dat die Here se teenwoordigheid sigbaar sal wees in en deur julle groep.
Uitreiking
Hoe kan die groep saam die teenwoordigheid van die Here die week gaan uitlewe? By wie gaan julle dit doen?
EEN-EN-TWINTIGSTE WEEK IN KONINKRYKSTYD
21 Oktober
Jes.53:4-12
Hy kom neem ons ergste seer op Hom
Ysbreker
Watter een persoon in jou lewe kan jy in die middel van die nag skakel of wakker klop en weet hy sal daar wees vir jou?
Lof en Aanbidding
Ons kom nou eers tot rus by die Here. Dink vir ’n paar oomblikke aan Hom as die God wat met liefde en waardering na jou jou kyk en Homself graag aan  jou wil gee. Praat in stilte met Hom. Loof en aanbid Hom dan met liedere, wat afgewissel kan word met een-sin-gebede.
Woord
Jes.53:4-12

  1. Lees nou weer hierdie gedeelte in stilte en sien die woord(e) raak wat jou hart aanspreek. Dink daaroor na en sien reeds hoe die woorde jou lewe verander.
  2. Wat staan vir jou uit oor die kneg van die Here in hierdie gedeelte en hoe raak dit jou?
  3. Wat lees jy raak oor “ons” in hierdie verse? (Verse 4-6)
  4. Lees nou 1Pet.2:21-25. Hoe vergelyk dit met die gedeelte uit Jesaja?
  5. Hoe kan ons Jesus in sy lyding navolg? (Vgl. 1Pet.4:12-14)
  6. Hoe verander die Here jou lewe deur hierdie woorde? Deel dit met mekaar en raak dan stil en praat met die Here daaroor.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dra mekaar aan die Here op en bid dat almal Jesus in jou broer/suster sal sien waar jy ook al beweeg.
Uitreiking
Jesus het gekom om by ons in ons ergste nood en seer te wees. Is daar iemand in jou omgewing wat nou in diepe nood en seer verkeer by wie Hy graag in jou wil wees?
TWEE-EN-TWINTIGSTE WEEK IN KONINKRYKSTYD
28 Oktober
Jeremia 31:7-9
Ons gaan huis toe…
Ysbreker
In watter omstandighede in jou lewe verlang jy die meeste “huis toe”?
Lof en aanbidding
Kom nou eers tot rus by die Here. Dink aan jouself as een van God se kinders wat by Hom tuis kom en dink aan die gevoel van “tuis wees”, hier kan jy maar net jouself wees. Sien die liefde en waardering waarmee Hy na jou kyk. Geniet die rus by Hom. Dink oor die afgelope dae in jou lewe. Op watter stadium het God op sy naaste aan jou gevoel? Wanneer het dit vir jou gevoel Hy is ver? Hoe het jy daarop gereageer? Na hierdie oomblikke van rus sing die gesin van God met blydskap saam lof en aanbiddingsliedere vir Hom.
Woord
Jer.31:7-9

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte met jou hart deur. Sien jouself onder hulle wat terugkeer na God toe. Sien die mense saam met jou – blindes, kreupeles, mense wat met moeite die pad loop. Sien die trane, hoor die smeekgebede. Praat in stilte met die Here oor dit wat jy beleef.
  2. Waarvan lees ons in hierdie verse? (Vgl. Vers 6) [Onthou, die volk is in ballingskap, ver van alles en almal wat vir hulle kosbaar is]
  3. Die gedeelte begin met “sing van blydskap… juig” en tog lyk die pad terug nie so maklik nie. Wat sien julle raak oor die mense op die pad?
  4. Waar is die Here op hierdie pad? (Vers 9) Waar is Hy gewoonlik wanneer ons “in trane kom, met smeekgebede”?
  5. Wat noem die Here Homself in vers 9? Wat doen hierdie woorde aan jou?
  6. Laat hierdie verse jou nie ’n bietjie dink aan die bekende verhaal in Luk.15:11-24 nie? Hoe verander die Here deur hierdie Woord jou lewe? Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Ons sit bymekaar met ons eie trane en smeekgebede, gereed om mekaar se laste te dra in gebed. Sê eers vir mekaar hoe baie julle mekaar waardeer. Deel julle laste met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitreiking
Hoe kan ons mense rondom ons ondersteun wat met trane en smeekgebede saam met ons op reis is?
DRIE-EN-TWINTIGSTE WEEK IN KONINKRYKSTYD
4 November
Deuteronomium 6:1-9
Hierdie gebooie moet in jou gedagtes bly…
Ysbreker
Hoe maak jy gewoonlik seker dat jy nie iets vergeet nie en help dit?
Lof en aanbidding
Ons kom nou eers vir ’n paar oomblikke tot rus en dink aan God, ons Vader, die Seun en die Heilige Gees wat op hierdie oomblik in liefde aktief is in ons lewens. Dink na oor die afgelope week in jou lewe en jou liefde vir Hom. Wanneer was dit maklik om Hom lief te hê en wanneer het jy dit moeilik gevind. Iemand kan die volgende woorde van Tomas a Kempis voorlees en die res van die groep beleef dit in hulle harte: “Dierbare Here en my God, U, die Heilige wat my liefhet! Wanneer U my in my hart besoek, sal alles wat binne my is, van vreugde opspring. U is my roem en die blydskap van my hart; U is my hoop en my skuilplek in tyd van nood. Nogtans is ek nog swak in liefde en onvolmaak om die goeie te doen, daarom het ek nodig dat U my versterk en vertroos.” Loof en aanbid dan die Here God met julle liedere.
Woord
Deut.6:1-9

  1. Lees eers weer die gedeelte met jou hart en sien jouself in die woorde van die verse. Watter woorde tref jou? Dink daaroor en beleef dit en praat dan met die Here daaroor.
  2. Watter beloftes lees jy raak in verse 1-3? Is daar voorwaardes aan verbonde? Geld dit nog vandag?
  3. Waaroor gaan alles in hierdie lewe? (Vers 4,5)
  4. Kyk of julle die invloed van verse 4 en 5 kan sien
    1. Op jou persoonlik (vers 6,8)
    2. Jou gesin (vers 7)
    3. Jou huis en dorp/stad? (vers 9)
  5. Iemand het eenmaal gesê: “Jou hele lewe lank weerklink God se woorde in jou hart: ‘Jy is my geliefde kind’. Die lewe is net die kort geleentheid wat ons het om vir God sê: ‘Ek het U ook lief’”.
  6. Hoe verander die Here deur sy Woord jou lewe? Praat nou in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers met mekaar waar julle in mekaar die bewyse van God se liefde sien en waardeer. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitreiking
Hoe kan ons mekaar help om in die week en weke wat kom, te lewe in ’n liefdesverhouding met God?
VIER-EN-TWINTIGSTE WEEK IN KONINKRYKSTYD
11 November
1Kon.17:8-16
Van toe af het hulle genoeg gehad
Ysbreker
Hoe voel jy gewoonlik wanneer iemand by jou bedel en jy het regtig niks om te gee nie?
Lof en aanbidding
Ons dink eers in stilte aan ons Here. Sien oomblikke in jou afgelope week waar jy Hom baie nodig gehad het. Waar was Hy toe? Dank Hom dat Hy in die kalmte en storms by jou was. Daarna sing ons lof en aanbiddingsliedere vir Hom.
Bemoedig mekaar
Draai 2-2 na mekaar toe en vertel vir die een met wie jy praat hoe baie hy vir jou beteken. Gee dan vir mekaar ‘n woord wat versterk, vertroos en bemoedig.
Woord
1Kon.17:8-16

  1. Lees eers weer hierdie verse rustig deur en sien jouself in die verhaal. Sien dan die Here die God van Israel in die verhaal en dan in jou eie verhaal. Oordink die gebeure in stilte.
  2. Wat gebeur in verse 8-11 en wat leer ons daaruit?
  3. Maar nou maak die storie ‘n effense draai in verse 11 en 12. Wat sê dit vir ons?
  4. Hoe voorsien die Here in verse 13 tot 16?
  5. Lees nou Mark.6:35-44. Hoe voorsien die Here hier?
  6. Hoe voorsien die Here vandag? Iemand kan die volgende gebed lees en dan gesels die groep daaroor: “Here, verenig met die liefde waarmee U op aarde gewerk het en nou nog sonder ophou werk, doen ek my werk tot u lof en tot seën van my medemens. U wil hê dat ek moet werk. U het gesê: Sonder My kan julle niks doen nie. Nou bid ek dat my druppel werk verenig en volvoer mag word in die stroom van u onophoudelike, volmaakte werk” (Mechthild von Hackeborn, 13de eeu)

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Gesels met mekaar oor die dinge wat julle bekommer en bid dan vir mekaar.
Uitreiking
Na watter persoon wat die afgelope tyd deur diep waters gaan, gaan die groep die week uitreik?
VYF-EN-TWINTIGSTE WEEK IN KONINKRYKSTYD
18 November
Mark13:1-8
Jesus kom weer – maak dit jou ook bly?
Ysbreker
As jy weet Jesus kom hierdie Kersfees, watter voorbereidings sal jy hierdie jaar tref vir die Kersgety?
Lof en Aanbidding
Kom tot rus in die geselskap van die Here en dink aan Hom. Kyk terug op die afgelope week in jou lewe en sien hoe Hy die pad saam met jou geloop het. Kan jy dink aan liefdesgeskenke wat jy uit sy hand ontvang het? Dank Hom dat Hy Homself en sy geskenke aan jou kom gee het. Iemand kan Ps.34:2-11 voorlees terwyl die res dit in hulle harte bid. Probeer in julle liedere fokus op die koms van Jesus en verbly julle daarin.
Woord
Mark.13:1-8

  1. Lees weer die gedeelte in stilte. Dink na oor hoe die woorde van Jesus jou laat voel. Laat die gedagte aan Jesus se koms jou rustig voel of is daar ongerief in jou binneste. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Watter dinge in verse 5-8 sien en hoor julle op die oomblik rondom julle gebeur?
  3. Is daar ander dinge wat julle verontrus – dinge wat julle sien gebeur (vgl.1Tim.4:1).
  4. Wou Jesus met hierdie woorde vir Sy dissipels leer wanneer Hy sou kom, of dat hulle elke oomblik gereed moes wees vir Sy koms? Gesels daaroor.
  5. Jesus sê ons moenie “verskrik” wees nie en dit is die “begin van die nuwe tyd”. Waarmee moet die kinders van die Here hulle besig hou in die tyd voor Jesus weer kom? Wat dink julle?
  6. Hoe verander die Here deur sy woorde jou lewe van hier?

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel julle vrese en bekommernisse met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitreiking
Vir watter een persoon gaan jy weer hierdie week hierdie Skrifgedeelte lees?
SES-EN-TWINTIGSTE WEEK IN KONINKRYKSTYD
25 November
Daniël 7:9-14
U is Koning vir ewig
Ysbreker
Watter droom kan jy so goed onthou dat jy dit amper net soos jy dit gedroom het aan ander kan oorvertel?
Lof en Aanbidding
Raak nou eers stil. Sien eers die Here in jou geestesoog (dit wat Hy alles vir jou is). Iemand kan nou hierdie gebed bid, terwyl die res dit in hulle harte beaam: “Here God, Vader, U is my God! Laat u wysheid my regeer, u genade my bewaar, u liefde my verbly, u waarheid my beskerm en u mag my beskut. Jesus Christus, Seun van God, my Middelaar en my Redder! Dat U mens geword het, is my vreugde. U weg wil ek volg… God, Heilige Gees, U is my troos. Verander my, ek is ’n sondige mens. Maak my lewend, want ek is dood. Maak my wakker, want ek slaap. Maak my gereed vir die ewige lewe. Verlig my verstand, heilig my wil, sterk my swakke krag. Wees by my, woon by my, bly by my, geloofde Drie-eenheid”.(Caspar Neumann, 1700). Begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gebede en gedeeltes uit die Skrif.
Deel julle liefde met mekaar
Draai nou 2-2 na mekaar toe. Vertel vir mekaar hoe baie julle mekaar waardeer en wat jou broer/suster spesifiek vir jou beteken. Seën mekaar dan met ‘n woord wat versterk, vertroos en bemoedig
Woord
Dan.7:9-14

  1. Lees weer die gedeelte in stilte. Beleef wat jy hier sien. Aanbid God in stilte.
  2. Watter prentjie van Hom wat op die troon sit kry ons in verse 9, 10a? Hoe kom dit ooreen met die prentjie wat jy van God het?
  3. Wat gebeur nou vanaf verse 10b tot 12?
  4. Wat sien ons nou saam met Daniël in verse 13-14? Op watter maniere bemoedig hierdie twee verse vir jou?
  5. Die Here deel Sy Koningskap met ons (vgl.1Pet.2:9-10). Wat beteken dit vir die manier waarop ons tussen mense lewe?
  6. Wat wil die Here deur sy Woord vir ons sê? Het ons lewens ‘n doel waarop dit afstuur? Hoe verander die Woord jou lewe?

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar. Belowe mekaar dat julle dit met niemand anders as die Here sal deel nie, en bid dan vir mekaar.
Uitreiking
Stel ‘n plan van uitreiking op vir Desember. (Bv. na mense wat in Adventstyd sonder werk gaan wees, agv die vakansie en ander mense in nood)