{ARGIEF}

Twintigste week in Koninkrykstyd
6 Oktober
Luk.17:5-10
Slawe wat niks verdien nie…
Ysbreker
Hoe voel jy oor oor ondankbaarheid teenoor jou?
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Raak bewus van Hom wat met liefde na jou kyk. Dink terug oor jou dag en die afgelope dae en sien alles wat Hy jou geskenk het, waarmee Hy jou geseën het (asseblief, klein dingetjies wat jy nie gewoonlik raaksien nie). Sê in stilte vir Hom dankie. Daarna loof die groep Hom met liedere.
Woord
Luk.17:5-10

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte deur. Hoe laat die woorde van Jesus jou voel? Dink aan dit wat in jou gebeur wanneer jy hoor jy is ’n slaaf wat niks verdien nie. Praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Wat dink julle van Jesus se les oor geloof? (Verse 5-6). Hoe voel julle daaroor dat mense (ons) soms daarmee “spog” dat hulle “maar net mosterdsaadjie-geloof” het? Bedoel Jesus dan dat geloof ’n prestasie is, sodat ons ons geloof met mekaar kan vergelyk?
  3. Hoe verstaan julle die woorde van Jesus in verse 7-10? Is dit nie onregverdig nie?
  4. Raak nou weer stil by die Here. Sien jouself in die woorde van Jesus oor geloof en die slaaf wat niks verdien nie. Hoe verander hierdie woorde jou lewe? Deel dit in stilte met die Here.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel eers woorde van waardering met mekaar. Vertel mekaar hoe baie jou broers en susters vir jou beteken, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitreiking
Na watter “vriendelike groep” kan die groep hierdie week saam uitreik? Wat lei die Here julle om daar te gaan doen?
 
Een-en-twintigste week in Koninkrykstyd
13 Oktober
Luk.17:11-19
Waar is die ander nege dan…?
Ysbreker
Hoe lank wil jy hê moet iemand dankbaar wees vir iets wat jy aan hom gedoen of gegee het?
 
Lof en Aanbidding
Kom eers tot rus by die Here jou God. Vra Hom om in jou gedagtes saam met jou deur jou dag te loop. Waar was jy in hierdie dag besonder bewus van sy nabyheid? Wanneer het jy gevoel jy beweeg weg van Hom af of vergeet dat Hy teenwoordig is? Praat in stilte met Hom. Daarna loof en aanbid die groep die Here met liedere. Iemand kan Psalm 66:1-12 voorlees terwyl die ander dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Luk.17:11-19

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart. Sien die prentjie voor jou en probeer om in die prentjie in te beweeg asof jy self daar is. Ervaar die ontmoeting met Jesus en hoe dit jou verander. Watter een van die tien lyk soos jy? Praat in stilte met die Here daaroor.
  2. Wat gebeur in verse 11-13? Dink jy die groep melaatses het verwag om daardie dag vir Jesus te sien? Lyk dit of hulle Hom ken van iewers af?
  3. Wat gebeur hierna? (Verse 14-18) Sien jy ook hierdie verhaal in ons dag afspeel?
  4. Het die een geneesde melaatse nodig om hom aan die priester te gaan toon? (Vers 19) Hoekom dink julle is dit so?
  5. Raak nou weer stil. Wat wil Jesus vanaand deur sy Woord vir jou sê? Watter veranderinge bring Hy deur hierdie gedeelte in jou lewe? Praat in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel vanaand met mekaar die dinge wat die Here in julle lewens doen waaroor julle diep dankbaar is. Dank die Here dan vir alles wat Hy doen in jou broers/susters se lewens.
 
Uitreiking
Hoe kan ons dankbaarheid teenoor die Here in ons omgewing gaan sigbaar maak?
 
Twee-en-twintigste week in Koninkrykstyd
20 Oktober
Luk.18:1-8
Hou aanbid sonder om moedeloos te word
Ysbreker
Bespreek die stelling: “As ek eenkeer vir iemand gevra het om my te help en hy lyk traag, vra ek hom nie weer nie!”
 
Lof en Aanbidding
Kom tot rus by die Here. Fokus jou gedagtes op Hom. Dink aan die beeld van God wat jy nou voor jou sien. Geniet die oomblik in stilte saam met Hom. Dink dan oor die een ding wat gedurig in jou gedagtes is, waaroor jy baie met mense rondom jou praat – dit kan ’n bekommernis, pyn, hartseer, of selfs iets wat jou bly maak, wees – en deel dit met Hom. Sien reeds in die stilte wat Hy daarvan maak. Daarna sing die groep vir Hom lof en aanbiddingsliedere. Iemand kan die volgende woorde lees terwyl die ander dit in hulle harte oordink: “Vanoggend toe ek begin wakker word, het dit weer gebeur – daardie gevoel dat U, my Geliefde, die hele nag oor my gestaan en waak het. Daardie gevoel dat toe ek begin beweeg het, U u lippe op my voorkop geplaas het en ’n Heilige Lamp diep in my hart aangesteek het” (Gebed uit die 14de eeu, vertaal deur AH).
 
Woord
Luk.18:1-8

  1. Lees eers weer die gedeelte met jou hart in stilte deur en sien jouself in die gelykenis wat Jesus hier vertel. Sien jou lewe van gebed, die beeld wat jy van God (wat na jou gebede luister) het en praat in stilte met Hom daaroor.
  2. Watter belangrike les wil Jesus ons deur hierdie gelykenis leer? (Vers 1) Tel jy onder hulle wat aanhou bid, of dié wat al moedeloos geword het?
  3. Die regter in Jesus se tyd was iemand met mag. Hoe leer ons hom in hierdie gedeelte ken? (Verse 2-5)
  4. Hoe verskil die regter van die God tot Wie ons bid? (Verse 6-8) Hoe ervaar jy dit in jou eie lewe?
  5. Wanneer jy jouself in hierdie woorde van Jesus ontdek, hoe verander dit jou lewe? Praat nou in stilte met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar die dinge waarvoor julle nou al lank bid en bid dan vir mekaar.
 
Uitreiking
By watter mense in die omgewing kan julle ’n draai gaan gooi, net om vir hulle te bid?
 
Drie-en twintigste week in Koninkrykstyd
27 Oktober
Lukas 18:9-14
O God, wees my, sondaar, genadig
Ysbreker
Dink diep na en voltooi die sinnetjie: “Dankie, dat ek nie…”
 
Lof en aanbidding
Raak stil by die Here jou God. Dink aan Hom. Bid nou in jou hart die woorde: “O God, wees my, sondaar, genadig…” Herhaal dit so 5 keer. Dink na oor hoe jy voel wanneer jy die woorde bid en praat in stilte met Hom daaroor. Daarna sing die groep lof- en aanbiddingsliedere vir die Here. Iemand kan dan Psalm 65:2-6 voorlees terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Luk.8:9-14

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur en beweeg saam met die Here na die middel van hierdie gelykenis. Sien jouself as die Fariseër… Sien jouself as die tollenaar… Hoor Jesus se stem en die verrassing van sy laaste woorde.
  2. Waarom vertel Jesus hierdie gelykenis? (Vers 9) Dink julle dit is nodig dat Hy hierdie saak aanroer?
  3. Ons ontmoet twee mense in hierdie gelykenis. Hoe verskil die gesindheid waarmee hulle na God gaan en hulle gebede? (Verse 10-13)
  4. Hoe raak hierdie gelykenis ons?
  5. Wat dink Jesus van die twee gebede? (Vers 14)
  6. Sit nou weer ’n oomblik in stilte in die Here se teenwoordigheid. Lees weer die gedeelte deur en sien hoe Jesus se woorde jou gebedslewe en houding teenoor God verander. Praat dan in stilte met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe en deel met mekaar die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
 
Uitreiking
Maak hierdie week ekstra tyd om in gebed by die Here te wees en dink elke keer oor die houding waarmee julle na Hom toe gaan. Dit sal ook goed wees as die groep in die week 2-2 bymekaar kan kom om saam te bid.
 
Hierdie riglyne is saamgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Kerk Lambertsbaai a3aanh@telkomsa.net