{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster (Woord en Lewe) as basis

Negentiende week in Koninkrykstyd
4 Oktober
Job 1:1; 2:1-10
Sy gelyke kry jy nie
Ysbreker
Is daar iemand in jou lewe wat so ’n indruk op jou gemaak het dat jy tot vandag dink: Sy/haar gelyke kry jy nie? Vertel ons hoekom jy so dink.
 
Lof en aanbidding
Ons draai nou ons fokus op God wanneer ons vir Hom lof- en aanbiddingsliedere sing. Daarna kom ons tot rus en dink saam met die Here aan die pad wat Hy die afgelope week met ons gestap het. Dink aan oomblikke van seer, swaar of bekommernis. Wanneer jy dink aan die oomblikke, waar sien jy Hom in jou lyding? Praat in stilte met Hom daaroor. Iemand kan hierdie oomblikke van stilte afsluit met die gebed van Dawid in Psalm 26:1-3.
 
Woord
Job 1:1; 2:1-10

  1. Lees die gedeelte eers weer in stilte deur met jou hart en beleef die gebeure. Dink na oor wat in jou gebeur terwyl jy dit lees. Hoe raak dit die pyn en lyding wat jy self beleef of so dikwels rondom jou sien?
  2. Wat weet ons van Job? (1:1, 2:3)
  3. Hoe moet ons hierdie gebeure verstaan? (2:1-8) Is dit hoe dit oor die algemeen werk met ons lyding?
  4. Hoe tree Job se vrou toe tot die pyn en lyding van haar man? (vers 9)
  5. Hoe reageer Job en wat dink julle van sy reaksie? (vers 10) Is sy pyn en lyding as gevolg van sy sonde?
  6. Raak nou weer stil by die Here en lees rustig deur die gedeelte. Wat wil jy graag vir die Here sê oor al die pyn en lyding?

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe en deel julle behoeftes met mekaar. Bid dan met vertroue vir mekaar.
 
Uitsending
Dink nou aan iemand in die omgewing wat erg gebuk gaan onder een of ander vorm van pyn en lyding. Wat gaan die groep daaraan doen?
 
Twintigste week in Koninkrykstyd
11 Oktober
Job 23:1-17
“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” (My God, my God, waarom het U my verlaat?)
Ysbreker
Julle ken die speletjie “wegkruipertjie”. Wat het jy die graagste gedoen: wegkruip of soek? As jy moes soek, wat het jou laat aanhou soek? (Vra die kinders)
 
Lof en Aanbidding
Loof en aanbid die Here nou met liedere, Psalms, gebede tot julle Sy teenwoordigheid ervaar. Daarna kom ons tot rus en raak bewus van ons God wat met liefde na ons kyk. Herhaal die woorde “jy is My geliefde kind” in jou hart. Dink dan terug aan iets spesifiek wat Hy jou die afgelope tyd geskenk het en sê dankie daarvoor. Dink ook aan die oomblikke die afgelope tyd toe jy beleef het dat Hy Homself aan jou kom gee het. Iemand  kan dan die oomblikke van rus afsluit met die lees van Psalm 22:1-6.
 
Woord
Job 23:1-17

  1. Lees eers die gedeelte in stilte en beleef Job se stryd in jou hart. Kan jy identifiseer met sy vrae? Praat in stilte met die Here oor sy teenwoordigheid in jou en mense se lyding.
  2. Hoe voel Job oor God na alles wat hy nou al moes deurmaak? (verse 1-5). Voel dit vir jou ook partymaal of God met jou wegkruipertjie speel? Wanneer veral? (Vergelyk verse 8-9 met Psal 139:7-12)
  3. Wat kan Job ten minste van homself sê? Klink dit of sy swaarkry straf is oor sonde in sy lewe? (verse 10-12).
  4. Wat ontdek hy van God in sy swaarkry (verse13-14)? Hoe laat hierdie woorde jou voel?
  5. Wat antwoord julle wanneer iemand vir julle sê: Hoekom laat die Here al hierdie swaarkry toe? Kan dit ooit gebeur dat ons moet soek na God?
  6. Help verse 16-17 jou enigsins in jou eie lyding? Hoe?
  7. Raak nou weer stil en lees weer biddend die gedeelte, sodat jy beleef hoe die Here jou lewe verander deur sy Woord. Dink aan die woorde van Mark.15:34 en praat met Hom daaroord

 
Bedien mekaar
Versterk, vertroos en bemoedig mekaar nou in groepies van 3 en bid vir mekaar.
 
Uitsending
Aan watter eensame mens gaan die groep hierdie week so aandag gee dat hy/sy weer begin ervaar die Here is by hom/haar?
 
Een-en-twintigste week in Koninkrykstyd
18 Oktober
Job 38:1-7, 34-39:3
U beheer alles… Ek vertrou U!
Ysbreker
Wat bedoel ons wanneer ons sê: “Sien is glo”?
 
Lof en Aanbidding
Fokus op die Here. Dink eers aan Hom in stilte en geniet Sy teenwoordigheid en aanraking. Dink aan oomblikke die afgelope week toe dit vir jou gevoel het jy “sien” die Here (in die skepping, deur mense wat oor jou pad gekom het, in jou eie stil oomblikke met Hom). Loof en aanbid Hom daarna met liedere. Iemand sluit hierdie oomblik van lof en aanbidding af met die lees van Psalm 104:1-9, terwyl die res dit in hulle harte beaam.
 
Woord
Job 38:1-7, 34-39:3

  1. Lees die gedeelte in stilte biddend. Beleef die voorreg wat Job het om God se stem te hoor. Dink ook na oor die dinge wat die Here vir Job vra en self antwoord en hoe jy dit diep in jou hart ontvang en die woorde jou vorm.
  2. Vertel eers vir mekaar wat julle weet van Job en hoekom, dink julle, vind hierdie gesprek in hoofstuk 38 plaas?
  3. Vergelyk die manier waarop God met Job praat met die manier waarop Hy met Elia praat. (Vers 1; 1Kon.19:11,12)
  4. Wat leer ons in die hele gelese gedeelte oor God? Hoe wil Hy hê moet Job oor Hom dink?
  5. As jy God uit hierdie gedeelte ontdek, wat sê Hy dan vir jou oor jou probleme? En wat sê jy uiteindelik vir Hom na al die vrae wat Hy gevra het? Raak nou ’n oomblik stil en lees die Here se woorde aan Job asof dit aan jou self gesê word. Sien die verandering wat in jou plaasvind.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel vanaand julle probleme met mekaar en dra mekaar dan op aan die God wat in beheer is.
 
Uitsending
Daar is dalk iemand in julle omgewing wie se probleme hom so oorweldig het dat hy sy geloof en vertroue in God verloor het. Hoe gaan julle as groep sy omstandighede help verlig?
 
Twee-en-twintigste week in Koninkrykstyd
25 Oktober
Job 42:1-6, 10-17
U is tot alles in staat… ek is tot alles in staat
Ysbreker
Hoe antwoord jy gewoonlik wanneer dit regtig sleg gaan en iemand vra jou: “Hoe gaan dit?”
 
Lof en Aanbidding
Raak nou eers stil. Sien eers die Here in jou geestesoog (dit wat Hy alles vir jou is) en begin Hom dan loof en aanbid met liedere, gebede en gedeeltes uit die Skrif. Kom dan tot rus en dink aan die Here se wandel die afgelope week of tyd saam met jou. Wanneer het jy beleef dat Hy op sy naaste aan jou is? Praat in stilte met Hom oor die oomblikke. Iemand lees dan Psalm 34:1-9 terwyl die res biddend luister.
 
Woord
Job 42

  1. Lees die gedeelte weer in stilte en fokus op woorde wat jou so aanspreek dat dit voel of dit uit jou eie hart kom. Noem hulle vir die Here.
  2. Nadat die Here gepraat het, antwoord Job. Wat is sy antwoord nadat hy so lank na die Here geluister het? (vers 1)
  3. Mense het vir Job probeer “troos” in sy haglike omstandighede en in die proses ‘n paar onwaarhede oor God kwytgeraak. Wat sê Job nou daaroor? (vers 5, 6). Het julle al hierdie ervaring gehad?
  4. Die Here praat ook met die “Jobstroosters”. Hulle het eers probeer verduidelik waarom al die dinge oor Job gekom het. Wat sê die Here nou vir hulle en wat is Job se taak? (vers 7,8)
  5. Wat gebeur met Job se vriende en met Job self nadat hy gebid het? (Vers 9-17)
  6. Wat wil die Here deur hierdie gedeelte vir ons sê? (vgl. Fil.4:13) Stap weer in stilte saam met die Here deur die gedeelte en sien reeds hoe Hy jou vorm deur hierdie gedeelte.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar. Belowe mekaar dat julle dit met niemand anders as die Here sal deel nie, en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Watter persone op die groep se gebedslys het dringende troos en aandag nodig? Wat gaan die groep in die week wat kom daaraan doen?
 
 
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net