{ARGIEF}

Met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Dertiende week in Koninkrykstyd
7 September
Rom. 13:8-14
Soos volgelinge van die Here Jesus Christus
Ysbreker
Is jy op jou beste vroeg in die oggend of laat in die nag? Hoekom?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Dink aan Hom wat met liefde en waardering na jou kyk. Sien Hom in die week wat agter die rug is. Waar was Hy op sy naaste aan jou? Waar het dit vir jou gevoel jy beweeg weg van Hom af? Hoe sien jy Hom by hierdie byeenkoms? Geniet die stilte. Sing dan vir Hom lof- en aanbiddingsliedere. Iemand kan die volgende gebed lees terwyl die ander dit in hulle harte saambid: “Here, ek prys U! In my hart is daar ’n nuwe lied vir U. Ek loof U saam met my broers en susters by hierdie byeenkoms. Ek verheug my in my Maker, ek jubel oor my Koning. My lewe is ’n loflied aan U. U is goed vir my. U het my laat oorwin toe ek hulpeloos was. Ek is vol blydskap oor U, nou en selfs as ek op my bed gaan lê.” (Ps.149)
Woord
Rom. 13:8-14

  1. Lees eers die gedeelte alleen in stilte deur. Fokus op woorde en sinsnedes wat vir jou uitstaan en herhaal dit in jou hart. Sien jouself in die gedeelte. Praat met jou Here.
  2. Lees nou weer verse 8 en 10. Wat staan uit in hierdie twee verse? Wie sien julle voor julle?
  3. Wat leer ons uit verse 11-14 oor dag en nag?
  4. Letterlik staan in vers 14 “Beklee julle egter met die Here Jesus Christus”. (Direkte Vertaling). Hoe lyk iemand wat Jesus “aangetrek” het?
  5. Raak nou weer stil. Lees die gedeelte weer deur. Sien hoe die Here deur sy Woord jou lewe verander en praat met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar op watter maniere julle Jesus in mekaar raaksien, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan die groep hierdie week soos volgelinge van Jesus sy liefde in die omgewing gaan leef?
Veertiende week in Koninkrykstyd
14 September
Rom. 14:1-12
Ons leef tot eer van die Here
Ysbreker
Waar wil jy graag hê moet mense wat jou voorbeeld volg, uitkom?
Lof en aanbidding
Raak nou stil by die Here. Sit gemaklik en fokus ’n paar oomblikke op jou asemhaling. Dink aan Hom hier by jou. Dink ook in die rustigheid na oor jou pad met Hom die afgelope week. Herhaal in jou hart die woorde: “Ek leef tot U eer, Here”. Sing dan as groep liedere waarmee julle die Here loof en aanbid. Iemand kan dan die volgende gebed bid: “O Here, beheer alles met U wysheid, sodat ek U altyd sal dien soos U wil en nie soos ek verkies nie. Laat my aan myself sterf, sodat ek U kan dien. Laat my vir U lewe, U wat die Lewe is. Amen” (Teresa van Avilla)
Woord
Rom. 14:1-12

  1. Elkeen lees eers weer die gedeelte in stilte deur. Let op woorde wat vir jou uitstaan en in jou hart tref. Herhaal dit, sien hoe dit jou lewe verander. Beleef dit.
  2. Daar kan soms sake insluip in ’n gemeente wat die mense kan verdeel, soms goed soos dit wat ons mag eet of die dae wat ons vier. Hoe hanteer Paulus die verskille? (Verse 1-6)
  3. Waaroor gaan dit werklik in die lewe en in die gemeente? (Verse 7-12)
  4. Hoe verander hierdie gedeelte die wyse waarop ons mekaar in die gemeente behandel?
  5. Raak nou weer stil by die Heer. Lees weer die gedeelte in stilte. Dink na oor die dinge waaroor jy al gekritiseer is en gekritiseer het. Laat toe dat die Here deur sy Gees jou verander.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar. Bevestig eers mekaar deur die mooi dinge wat julle in mekaar sien te noem. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan die groep mense wat die kerk verlaat het weer laat tuis voel in ’n nie-veroordelende liefdesgemeenskap soos die gemeente?
Vyftiende week in Koninkrykstyd
21 September
Matt.20:1-16
Dit werk anders in die Koninkryk
Ysbreker
As jy die woorde “regverdig” en “onregverdig” met voorbeelde vir mense moet verduidelik, hoe sal dit klink?
Lof en aanbidding
Kom tot rus in die Here se teenwoordigheid en fokus op Hom. As jy jou gedagtes laat gaan oor die afgelope week in jou lewe, watter beeld van God sien jy voor jou – naby, ver, intiem, saaklik? En terwyl jy nou in stilte by Hom sit? Geniet ’n paar oomblikke die rus by Hom. Sing dan vir Hom liedere.
Woord
Voor die Woord oopgemaak word kan iemand die volgende gebed bid en die res bid dit in hulle harte saam: “Ek neem u Woord in my hand en toets sy gewig. Ek begin daarna luister en terwyl ek luister, gebeur iets in my. Ek sit die Woord weer opsy. Maar dit is nie meer dieselfde Woord nie. Dit het swaarder geword deurdat ek dit gehoor het. Ek self is ook nie meer dieselfde nie.” (J.Zink)
Matt.20:1-16

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur met jou hart. Sien jouself in die gelykenis. Hoe die arbeiders die een na die ander by jou aansluit, tot die laaste groep 5uur aansluit. Beleef die oomblikke in die ry wanneer die loon vir die dag uitgedeel word en wat in jou hart aangaan wanneer almal dieselfde betaling kry.
  2. Die gelykenis leer ons iets oor hoe anders dit in die Koninkryk van God is. Kom ons klaar eers uit wie is die eienaar van die wingerd?
  3. Dit lyk of die eerste groep al 6uur die oggend ingeval het, dan nog ’n groep 9uur, 12uur, 3uur en die laaste groep 5uur. Wat was die 5uur-groep se probleem? (Verse 6-7)
  4. En dan kom staan hulle in die tou vir hulle betaling. Die opdrag is duidelik: Laastes eerste. Wat dink julle van die gebeure waarvan ons lees in verse 8-12?
  5. Hoe moet ons die eienaar se antwoord verstaan? (Verse 13-16)
  6. Raak nou weer stil. Dink aan jou beeld van God en hoe Jesus deur hierdie gelykenis jou Godsbeeld verander. Pas dit nou meer by jou of by God? Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel eers vir mekaar hoe julle mekaar waardeer en bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Hoe gaan ons hierdie week diegene wat 6uur, 9uur, 12uur, 3uur en 5uur ingeval het bemoedig?
Sestiende week in Koninkrykstyd
28 September
Matt.21:23-32
Om te doen wat jou pa wil hê
Ysbreker
Dink julle al die beloftes wat ons in die kerk aflê het nog vandag enige nut, bv. die huweliksbeloftes, die beloftes wat ons aflê met ons bevestiging as lidmate, ens?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Raak stil diep binne-in jou hart. Wanneer daar werklike rus en stilte is, lees iemand die volgende woorde, terwyl almal met hulle oë toe sit en luister: “Ek wil stil wees, Here en op U wag… Ek wil stil wees dat ek onder die baie stemme u stem kan herken… Ek wil stil wees en my daaroor verwonder dat U vir my ’n woord het… Here, ek is nie werd dat U na my toe kom nie, maar spreek net een woord, dan word my siel gesond.” Sing nou vir die Here liedere wat Hom loof en aanbid.
Woord
Matt. 21:23-32

  1. Lees die gedeelte in stilte deur. Wees saam met Jesus in die tempel. Hoor die gesprek tussen Hom en die mense. Hulle wil weet oor Jesus se gesag. Hoor Jesus se antwoord. Sien hoe sy woord jou nuut maak.
  2. Hoe verstaan julle Jesus se gesprek met die priesterhoofde en familiehoofde in die tempel? (Verse 23-27)
  3. Jesus begin sy gelykenis met die woorde: “Wat sê julle hiervan?” Lees nou weer die gelykenis en toepassing in 28-32 hardop en sê dan vir mekaar: Wat sê julle hiervan?
  4. Wanneer ons dink aan ons lewe voor God, is ons meer soos die eerste of die tweede seun?
  5. Raak nou weer stil by die Here. Lees die gedeelte weer deur in stilte. Herhaal die woorde “Seun/dogter, gaan werk vandag in die (My) wingerd” in jou hart. Sien reeds hoe dit jou lewe verander.

Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Bevestig en waardeer eers mekaar, deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
Uitsending
Hoe gaan ons as groep hierdie week saam die Woord prakties uitleef in ons omgewing?
Opgestel deur Adriaan Haasbroek, NG Gemeente Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net