{ARGIEF}

met die Leesrooster fokustekste as basis Vyftiende week in Koninkrykstyd


6 September
Jak.2:1-17
Die broer in die ander klas as ek
Ysbreker
Met watter tipe maatjies wou jou ouers nooit hê jy moet speel nie?
 
Lof en Aanbidding
Kom ons loof vanaand die Here met harte wat oorloop van blydskap. Loof Hom met liedere, gedeeltes uit die Woord, gebede en aanbid Hom dan. Daarna raak ons stil en fokus op die Here die afgelope week in ons lewe. Ons dink aan Hom wat in liefde na ons kyk. Ons dink aan al die gawes en geskenke wat ons die afgelope week van Hom ontvang het en sê dankie. Dink aan oomblikke waar jy beleef het Hy gee Homself aan jou.
 
Woord
Jak.2:1-17

  1. Lees die gedeelte eers in stilte met jou hart terwyl jy die woorde of sinsnedes wat die Here deur sy Gees vir jou uitlig, saggies herhaal. Sien jouself in hierdie gedeelte.
  2. Dit gaan oor die brandarm mens in ons byeenkoms, nie die een wat klop aan ons deur nie. Hoe sal die groep reageer as daar so ‘n lidmaat vanaand hier instap? (verse 2-4)
  3. Wat leer die Woord ons oor ons diskriminasie? (vers 1,5-10)
  4. Onder watter deel van die wet val dit? (vers 11)
  5. Laat die Woord so ‘n bietjie met ons “wat glo” praat. (vers14-17)
  6. Raak nou weer stil en lees weer die woorde wat vir jou uitstaan. Sien reeds hoe die Here deur sy Woord jou lewe verander om soos Jesus te lyk en te klink.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Die groep identifiseer vanaand die arm mense in die omgewing wat hulle ken en nog altyd verbygeloop het. Wat gaan julle doen om na hulle toe uit te reik?
 
Sestiende week in Koninkrykstyd
13 September
Jak 3:1-12
Ek wens ek kon my tong afbyt!
Ysbreker
Wanneer het jy gewens jy kon jou tong afbyt?
 
Lof en Aanbidding
Sing vir die Here lofliedere en aanbid Hom. Kom dan tot rus en in jou stilte vra jy die Here om saam met jou te stap deur die afgelope week (tyd) in jou lewe. Saam met Hom dink jy aan woorde wat jy gelees of gehoor het wat jou laat beleef het jy beweeg nader aan God. Herhaal die woorde in jou hart. Dink ook aan woorde wat vir jou laat voel het jy beweeg weg van Hom (dalk woorde wat jou kwaad gemaak het, woorde wat jou laat saampraat het toe jy eerder moes stilbly, woorde wat nie van die Here was nie, ens.). Iemand kan dan die oomblik afsluit deur 3 maal Ps.19:15 te lees terwyl die res dit in hulle harte saambid.
 
Woord
Jak 3:1-12

  1. Lees die gedeelte in stilte biddend en sien die woorde raak wat jou aanspreek. Herhaal hulle in jou hart. Sien jouself in hierdie gedeelte.
  2. Wat word gesê van mense wat mooi dink voor hulle praat? (verse 2-5a) Wat beteken dit?
  3. Watter verband is daar tussen die tong en die hel? (verse 5b-6)
  4. Wat sê die groep van die uitdrukking: “Ek skinder nie, ek praat mos net die waarheid” of “Ek is ‘n reguit mens” (veral wanneer dit mense seermaak)? (verse 7-8)
  5. Wat is “onmoontlik” wanneer ons “gelowige” tonge het? (verse 9-12)
  6. “My tong pas by wie ek is”. Wie is jy in Christus? Raak nou stil en dink na oor wie jy werklik is in Christus en hoe die Here deur hierdie gedeelte jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Sê eers vir mekaar watter mooi dinge julle van mekaar waardeer. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Die groep ken dalk iemand wat onttrek het omdat hy/sy deurgeloop het onder die Gemeente se tonge. Wie is dit? Wat gaan die groep daaraan doen?
 
Sewentiende week in Koninkrykstyd
20 September
Jak 3:13-4:8
Gee my wysheid van Bo!
Ysbreker
Dink julle daar is ‘n verskil tussen “slim” wees en “wys” wees? Watter mense in jou lewe is “slim” en watter mense is “wys”?
 
Lof en Aanbidding
Fokus nou weer op die Here. Loof en aanbid Hom met liedere. Daarna kom ons tot rus by die Here en stap saam met Hom deur ons week. Dink na oor oomblikke die afgelope tyd toe jy die wysheid van die Here nodig gehad het en dit ontvang het. Hoe het dit jou lewe verander? Dank Hom daarvoor. Iemand kan die woorde lees: “Die hoogste en nuttigste wysheid is dit: Ken jou diepste self en wees opreg nederig. Om min van jouself te dink en altyd ’n hoë dunk van ander te hê, is ware wysheid en die pad na God se volmaaktheid.” (Tomas a Kempis)
 
Woord
Jak 3:13-4:8

  1. Lees eers die gedeelte weer in stilte met jou hart. Herhaal die woorde wat vir jou uitstaan in jou hart. Praat in stilte met die Here oor dit wat jy in jou hart beleef wanneer jy die woorde lees. ere daar
  2. Hoe lyk “demoniese” wysheid? (verse 14-16, 4:1-7)
  3. Hoe lyk wysheid van Bo? (verse 13,17-18, 4:7a,8)
  4. Hoe kry ons wysheid van Bo? (vers 8a)
  5. Raak nou weer stil by die Here en herhaal die woorde van Psalm 111:10 in jou hart: “Wysheid begin met die dien van die Here…” Dink na oor hoe hierdie woorde jou lewe verander.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Dank die Here eers vir alles wat Hy deur jou broer/suster in jou lewe doen en beteken en bid dan vir mekaar se behoeftes.
 
Uitsending
Spreek af hoe julle mekaar in die volgende week 2-2 gaan ontmoet om saam te bid vir die Gemeente waarvan julle deel is.
 
Agtiende week in Koninkrykstyd
27 September
Jak 5:13-20
Die gelowige gebed
Ysbreker
Op watter maniere kom mense gewoonlik oor hulle swaarkry?
 
Lof en Aanbidding
Ons sing lofliedere en liedere waarmee ons die Here aanbid saam terwyl ons op Hom fokus. Kom dan tot rus en stap saam met die Here deur die afgelope week in jou lewe. Dink na oor jou oomblikke van gebed saam met Hom. Hoe het jy Hom beleef terwyl jy bid? Praat in stilte met Hom oor jou lewe van gebed. Iemand sluit die oomblik af met die lees van hierdie woorde: “Waarom is die gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis.” (Kategismus Sondag 45, vraag 116)
 
Woord
Jak 5:13-20

  1. Lees eers in stilte die gedeelte biddend deur en sien jouself in die woorde wat jy lees. Watter woorde lê die Here deur sy Gees op jou hart?
  2. As ons kyk na verse 13-14, kry ons antwoorde op sekere dinge waarmee ons dikwels worstel. Gesels so ‘n bietjie daaroor:
  • As jy swaarkry…
  • As jy opgeruimd is…
  • As iemand siek is…
  1. Wat gebeur wanneer daar gelowig gebid word? Hoe bid ons gelowig? (vers 15, 16b)
  2. Watter les leer ons uit Elia se gebed? (vers 17-18)
  3. Hoe werk gelowiges met mekaar? (vers 19-20)
  4. Lees weer die gedeelte in stilte en dink na oor hoe belangrik gebed in jou eie lewe is. Sien hoe die Here jou gebed gebruik in jou eie en ander se lewe (die kragtige uitwerking).

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Deel julle behoeftes met mekaar en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter siekes en afgedwaaldes gaan die groep hierdie week uitreik en wat gaan die groep by die mense doen?
 
Hierdie materiaal is opgestel deur Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net