{ARGIEF}

met die sleuteltekste van die Leesrooster as basis

Dertiende week in Koninkrykstyd
3 September
Eksodus 3:1-15
Ysbreker
Wat maak jy gewoonlik as jy iemand se aandag wil trek?
 
Lof en aanbidding
Die Here wil julle op ‘n besondere manier ontmoet. Raak eers ‘n paar minute stil en dink aan Hom. Dink aan die Here wat jou nou ontmoet. Hoe ken jy Hom? Loof en aanbid Hom nou terwyl julle julle instel op Sy teenwoordigheid hier tussen julle. Iemand kan die gebed so twee of drie maal lees en die ander bid dit in hulle harte saam: “Jesus, U lig skyn in ons, laat my twyfel en donkerte nie met my praat nie; Jesus, U lig skyn in ons, laat my hart altyd U liefde verwelkom” (Broer Roger van Taize)
 
Woord
Eks.3:1-15
Lees nou eers weer die gedeelte in stilte deur. Beleef die Here se ontmoeting met Moses asof Hy jou so ontmoet terwyl jy met jou alledaagse take besig is. Hoor Sy stem. Hoor jou stem. Praat in stilte met Hom en vra Hom ook dat Hy jou hart wyd sal oopmaak vir hierdie ontmoeting met Hom

  1. Wat doen Moses wanneer die Here Hom ontmoet? (Vers 1) Dink jy die Here kan jou ontmoet terwyl jy besig is met jou gewone dagtake? Vertel ons daarvan.
  2. Hoe trek die Here Moses se aandag? (2,3) Op watter maniere het die Here al jou aandag getrek?
  3. Hoe reageer Moses as hy agterkom hy het nou met die Here self te doen? (4-6). Wat is gewoonlik jou reaksie as jy tot jou verrassing agterkom dat jy en die Here mekaar op ‘n besondere manier ontmoet?
  4. Nou maak die Here aan Moses bekend wat Hy sien gebeur met Sy kinders en wat Hy van plan is om te doen. Wat is Hy van plan om te doen en hoe wil Hy dit doen? (7-10).
  5. Moses sien sy opdrag as onmoontlik (en dit is ook as dit Moses is wat dit self moet doen). Maar wie is dit wat eintlik die groot verlossingsdaad gaan doen? (Verse 11-13)
  6. Al wat Moses het om aan vas te hou, is die Here se beloftes (noem hulle gou[14,15]). Sou jy gegaan het om so ‘n groot taak te gaan verrig as jy net God se beloftes gehad het?
  7. Wat staan in jou pad om die groot dinge wat God deur jou wil doen, te doen? Praat nou in stilte met die Here daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai nou weer 3-3 na mekaar toe en bid die krag en nabyheid van die almagtige God op mekaar af, sodat elkeen hierna die groot dinge kan gaan doen wat God deur Hom wil doen.
 
Uitsending
Gaan maak hierdie week ‘n ekstra “effort” om die Here in jou Luisterkamer (binnekamer) te ontmoet en stel jou in daarop om net na Hom te luister. Kom deel ten minste met een lid van die groep hierdie week wat die Here besig is om vir jou te sê.
 
Veertiende week in Koninkrykstyd
10 September
Eksodus 12:1-14
Die Paasfees van die Here
Ysbreker
Watter dag en datums in jou lewe is vir jou so belangrik dat jy gereeld daaraan dink?
 
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here en fokus op Hom. Sing vir Hom liedere en aanbid Hom. Daarna raak julle stil en dink na oor die afgelope week in julle lewe. Dink aan die Here jou God se betrokkenheid in jou lewe. Waarvoor vir jy in jou stil oomblik vir Hom dankie sê? Wat maak jou onrustig in jou hart? Deel dit met Hom. Gee jouself aan Hom om by hierdie byeenkoms in en deur jou ook vir hulle in die groep te seën.
 
Woord
Eks.12:1-14

  1. Lees die paar verse biddend en hoor die Here se stem. Beleef hierdie belangrike oomblik in die geskiedenis van die Here se volk. Wat beteken dit vir jou?
  2. Hierdie oomblik is so belangrik in die geskiedenis van die Here se volk. Wat word hier ingestel en waaraan moet dit die volk van geslag tot geslag herinner? (Verse 1-14)
  3. Wat het die teken van die bloed spesifiek gedoen? (vers 13)
  4. Watter instelling vier ons gereeld en wat beteken dit vir jou? (Vgl. Matt. 26::26-28)
  5. Lees nou weer die gedeelte in stilte. Hoe verander die Here deur hierdie gedeelte jou lewe? Praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai nou 3-3 na mekaar toe. Breek ‘n stukkie brood, gee dit vir mekaar met die woorde: “Sy liggaam vir jou. Gee mekaar ‘n bietjie druiwesap met die woorde: “Sy bloed vir jou”. Gee dan tyd vir stilte.
 
Uitsending
Hoe gaan die groep die week in die omgewing mense uitnooi na die huiskerk/selgroep-byeenkomste?
 
Vyftiende week in Koninkrykstyd
17 September
Eksodus 14:19-31
Van voor en agter
Ysbreker
Waarvoor was jy bang om later te ontdek dit was onnodig om bang te wees?
 
Lof en aanbidding
Sing nou vir die Here liedere waarmee julle Hom loof en aanbid. Raak dan stil en dink aan Hom in jou lewe. Sien Hom in jou afgelope week, voor en agter jou. Voor jou om jou te lei en agter jou om jou te beskerm. Dink dan saam met Hom na oor hoe Hy jou van alle kante omsluit het die afgelope week. Dink aan iemand wat die Here se leiding of beskerming nodig het en dra hom/haar aan die Here op.
 
Woord
Eks.14:19-31

  1. Lees eers weer die gedeelte in stilte asof jy self in die verhaal is. Wat beleef jy in jou gemoed wanneer jy dit lees? Hoe sien jy die Here jou God in die verhaal?
  2. Wat lees ons van die Engel van die Here en die wolkkolom? Wat beteken dit vir julle? (Verse 19-20)
  3. Moses steek sy hand uit oor die see, maar Wie is die Een wat die volk red? (Verse 21-25) Wat sê dit vir julle.
  4. Die Here gee weer opdrag aan Moses (verse 26-28). Wat gebeur hier?
  5. Wie het die eintlike reddingswerk gedoen? (Verse 29-31) Wat was die volk se reaksie?
  6. Raak nou weer stil en lees die gedeelte deur. Sien die oomblikke raak wat vir jou uitstaan en praat met die Here daaroor. Hoe verander hierdie gedeelte jou lewe?

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar die dinge wat vir jou laat voel jy word “agternagesit deur die Egiptenaars” en bid dan vir mekaar.
 
Uitsending
Na watter mense in die omgewing, wat deur diep waters gaan, kan die groep in die week gaan uitreik om net by hulle te wees?
 
Sestiende week in Koninkrykstyd
24 September
Fil.1:21-28
Christus my lewe
Ysbreker
Wat is op hierdie oomblik die hoofsaak in jou lewe?
 
Lof en Aanbidding
Gee julleself nou met julle lof en aanbidding aan die Here. Raak dan stil by Hom en dink aan die plek wat Hy die afgelope week in jou lewe ingeneem het. Dink saam met die Here aan oomblikke toe jy bewus was daarvan dat Hy die belangrikste plek in jou lewe inneem. Praat met Hom daaroor. Dink ook aan oomblikke toe jy nie aan Hom gedink het nie. Gee jouself dan in hierdie oomblikke van stilte aan Hom. Dra een persoon in die groep aan Hom op in jou gebed.
 
 
Woord
Fil.1:21-28

  1. Lees weer die gedeelte met jou hart. Sien die woorde raak wat vir jou uitstaan en herhaal hulle saggies in jou hart. Sien hoe hierdie woorde jou lewe anders maak.
  2. Wat bedoel Paulus as hy sê “want om te lewe, is vir my Christus…”? (Vers 21) Verander dit jou dag en week as jy ook sê “want om te lewe is vir my Christus”? Hoe?
  3. Tog verlang Paulus daarna om te sterwe, want dan kan hy met Christus wees. Maar hoekom is dit vir hom belangrik om te lewe? (vers 22, 24, 25) Hoekom is dit vir jou belangrik dat jy lewe?
  4. Hoe bemoedig Paulus die Gemeente (Verse26-28)? Hoe sal julle met hierdie woorde mekaar kan bemoedig?
  5. Kom tot rus by die Here. Lees weer die gedeelte in stilte. Dink in teenwoordigheid van die Here na oor jou lewe. Praat met Hom daaroor.

 
Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Dank die Here eers dat jy Hom sien in die broer/suster wat saam met jou bid. Bid dan vir hulle behoeftes en dat hulle sal insien dat dit ‘n voorreg is om ook vir Hom swaar te kry.
 
Uitsending
Julle ken dalk iemand wat so ver gekom het dat hy/sy sê: “Nou kan ek nie meer nie. Om vir Christus te lewe is vir my net te swaar” Wie is dit en hoe kan die groep die persoon hierdie week gaan ondersteun?