{ARGIEF}

Onlangs sê ‘n vriend van my dat ‘n lidmaat kla daaroor dat hy sê hy gebruik die leesrooster.  Die preek moet mos onder leiding van die Gees in die prediker se hart gebore word?  Hy gebruik nog steeds die leesrooster – hy noem dit net nie so nie.  Maar dis jammer.

Dit het my laat dink.  En ek deel net ‘n paar van my los gedagtes.  (In Meimaand se Kruisgewys het Eddie Orsmond meer volledig en teologies daaroor geskryf):

  1. Ek is alleen in die gemeente.  Ek moet elke Sondag preek.  My ervaring en my hart en my verwysingsraamwerk is net so klein.  Die leesrooster  “gee my en die Gees”   net baie meer om mee te werk.  So, glo ek, word ek ook nie  net gevorm deur my behoeftes en verlangens nie maar deur die Woord en die ritmes en seisoene van die kerklike jaar  (en die groot dinge wat God-drie-enig  vir ons gedoen het)
  2. In my vier jaar op Cradock het ek – danksy die leesrooster  – al uit elke boek van die Bybel gepreek.   Sonder die leesrooster sou ek dit dalk  in tien jaar reggekry het.  En met moeite.  Of dalk nie.
  3. Ek vertoef deesdae by tekste wat ek voorheen sou vermy het.
  4. Dit voel vir my – en dit is dalk subjektief –  of ek my dmv die leesrooster  ONDER die Woord stel en nie OOR  die Woord nie.
  5. Ons weet die leesrooster bevestig ons eenheid met die kerk oor die wêreld en hier plaaslik omdat duisende  christene dieselfde teks lees en oordink.
  6. Ons weet ook mos dat dit ons meer vertroud maak met die Bybelse en kerklike seisoene en feeste. My kinders – en hopelik ‘n paar in die gemeente – herken die meeste christelike simbole en lydens- en advents-kalenders is nie meer vir hulle snaaks nie.  Ons gebruik die leesrooster nie slaafs nie – maar gereeld – in huisgodsdiens, wyksbyeenkomste  en kleingroepe.
  7. Ek wonder nooit meer wat om te lees by saalopeninge, oue-tehuis-bidure, prysuitdelings of wat ook al nie.  Een van die leesroostertekste is altyd relevant.  En die Psalm help my sommer om te weet wat om te bid ook.
  8. In ons gemeente leef ons nie “vanuit” die teks nie, ons leef  “na die teks” toe.  Maw ons plaas op die aankondigings wat volgende week se fokusteks is en dan lees ons dit saam die week, kom met vrae en lewer waardevolle insette.  Ons maak saam preek.
  9. Ek weet maande vooruit wat ‘n spesifieke Sondag se teks is… maar net om dit elke Maandag al te weet en Maandagoggend doelgerig te lees en voor te berei – is so bevredigend.
  10. Ek kan saam met ander kollegas oor dieselfde teks dink en opgewonde raak, stories en beelde en eksegese uitruil en ietsie voel van – ons is nie alleen nie!