Is dit wat jy jou geldeenheid noem

Written by Pierre Goosen on . Posted in Begelei mekaar

Ek vertel my vriend van my besoek aanmy kinders in Engeland. Sy vraag aan my is hoe kry ek dit finansieel reg. Myantwoord (miskien te vinnige antwoord) is dat dit net ‘n geval van prioriteite is. Dit is toe dat hy met sy slimmigheid kom en se: ” Is dit wat jy jou geldeenheid noem?”

Dit het my aan die dink laat sit. Nie net of ek my geld verantwoordelik bestee nie, maar of ek my lewe verantwoordelik (gesond) leef – en laat ek ook die woord gebruik – bestuur. Dit het my ook die vraag aan myself laat vra, hoe het dit gekom dat ek met opgeloopte verlof en langverlof sit? Wie gaan uiteindelik die voordeel trek en wie gaan verloor? As ek dink dat my uitbetaalde verlof my pensioen gaan aanvul, maak ek dalk ‘n fout want dit is miskien net die belastinggaarder wat wen. Vir die kerk / gemeente is dit in elk geval ‘n verloor, want hulle moet nou ‘n klomp geld uithaal wat hulle beswaarlikkan. Vir my sal dit beslis ‘nverloor wees as ek uiteindelik die helfte van my(opgehoopte) langverlof moet gebruik om van ‘n maagseer te herstel.

Buitendien, verlof en langverlof (soos ons dit nou nog het) se bedoeling is om my te help om balans in my lewe te verseker. Om bietjie onder ‘n ander ‘dak’ in te skuif. Om ‘n ander ritme te kry. Om meer te wees en minder te doen en nie eers daaroor skuldig te voel nie. Om te rus. Om verryk te word. Om ‘sleg’ te word en weer goed te word. Om te keer dat ek nie uitbrand nie maar eerder vuurmaakhoutjies bymekaar te maak vir die dae wanneer ek by die see met my blouaar-bleekvoete in die poeletjies sit. Dit vra natuurlik beplanning en selfs ‘n bietjie moeite, maar dit is alles die moeite werd.

Ek het twee maande langverlof geneem. November en Desember maar maande gelede al die vliegtuigkaartjies gekoop sodat toe die dag aanbreek en nie meer aan die betalery gedink hetnie. Die eerste twee weke was ek in Nederland. Dit was twee werkverwante weke. Ek het by ‘n dominee gebly. Ek het twee kort kursusse deurloop. Ek het waargeneem hoe die dominees daar werk, selfs ‘n deel van ‘n erediens gelei. Ons het in die land rondgery. Na en in Amsterdam metfietse en die Rijks- en Van Gogh museum besoek. Ek het rou haring geproe, kaas ge-eet en koffie gedrink met stroopwafels daarby. Dit was werklik verrykend, leersaam en energerend.

Die volgende twee weke sou ek na Taize gaan maar dit het toe nie uitgewerk nie. Ek besluit toe om my eie retraite in die Franse platteland te hou. Vir twee weke was ek op my eie met my eie gedagtes en eie taal en eie tyd. Ek het basies geleef en eet, hoofsaaklik brood en kaas en wyn. Ek het baie gestap en bybel gelees en gemediteer en gebid. Ek het deel kon word van die rus en die hersteltyd van ‘n landskap in die laat herfs. Ek het vrede ervaar en versterk gevoel.

Die volgende vier weke was ek en my vrou en my kinders in en om Engeland bymekaar om te sien en te hoor en te ervaar en stories te vertel en te eet en te lag en te kuier en te.. en te..Ons ry die underground bloots en stap die stof uit London se nat strate en laat ons niks afskrik deur vier uur middag se donker nie. Dit was ‘n fees!

En nou is ek terug in my plek en ek is bly dat ek nie die twee maande laat verby gaan het nie. Ek is bly dat ek nie vooraf toegegee het aan die vrees vir moeite nie. Ek is bly dat ek my begroting uit ‘n ander hoek bekyk het. Al moet die sogenaamde noodsaaklikhede nou ‘n bietjie wag, is my geestelike en emosionele en menswees bankbalans, nou stampvol.

Ek het weer die krag en energie en entoesiasme om baie van die los punte bymekaar te vat. En, die vrede om die wat los wil bly, los te laat bly.

 

 

 

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment