{ARGIEF}

By die lees van “Anoniem” se brief “Dominees kan arrogant wees” (By, 6 Maart) het ek gewonder hoe dit kan wees dat twee mense dieselfde brief (die een van Charl Stander in 27 Februarie se By) so verskillend kan vertolk. Ek het nogal nie sy brief as arrogant en aanmatigend beleef nie, of dat hy voorgee om alleen die waarheid in pag te hê nie. Ek het weer Stander se brief gaan lees, en kon geen verwysing na die woord “ontwyfelbare” waaroor Anoniem so val, in die brief raaklees nie, of dat Stander voorgee dat sy interpretasie die enigste geldige een is nie. Inteendeel, ek het ’n stem gehoor van iemand wat bely dat hyself feilbaar is en maar te goed bewus is van die feit dat God se Woord soms krom en skeef by sy eie mond uitkom.
’n Mens kan maar net wonder wat (wie?) Anoniem so diep verwond het dat sy/haar persepsie van predikante so sleg is. Daar wás ’n tyd in die kerk toe party dominees gedink het hulle is die enigste mense wat die waarheid beet het, maar dit was 20 jaar en langer gelede. Die predikante wat ek vandag ken, en die kerk waarin ek leef en werk, is lankal nie meer so nie. As jy sulke dominees wil sien, moet jy maar 7de Laan gaan kyk, want in die kerk van 2010 sal jy hulle tevergeefs soek.