{ARGIEF}

Bekwaamhede

Die sentrum is gemik op die rol en profiel van die predikant, asook die bekwaamhede wat dit ondersteun.  Uit ‘n biblioteek van 64 is eers 29 en toe 9 bekwaamhede onderskei wat die rol en funksie van die predikant die beste beskryf.  ‘n Bekwaamheid is ‘n kombinasie van verwante kennis, vaardighede, houdings en gewoontes wat toegepas word binne ‘n bepaalde konteks met ‘n uitkoms wat waarde toevoeg.  Die bekwaamhede kan waargeneem, gemeet en ontwikkel word. Die bekwaamhede ter sprake is denkvermoë, besluitneming, emosionele volwassenheid, effektiewe kommunikasie, verantwoordbaarheid, geloofsonderskeiding en geloofsvolwassenheid om enkeles te noem.

Die krag van die sentrum lê daarin dat dit op die gedrag van die deelnemer fokus wat direk evalueer kan word.  Dit word moontlik gemaak deurdat aan elke deelnemer twee begeleiers toegewys word wat die hele proses van drie dae met hom/haar deurloop.  Die proses behels die blootstelling aan ‘n aantal rol spele wat met die regte dosis spelerigheid en werklikheid saamgestel is om dit ‘n aangename leerervaring te maak. 

Eiland-situasie

Die sentrum vind oor drie dae in ‘n eiland-situasie plaas.  Op dag een en drie vind rol spele, evaluering en terugvoer plaas, altyd in dieselfde kombinasie van die deelnemer en twee begeleiers.  Op dag twee is daar insette oor emosionele intelligensie en kommunikasie.  Die proses is dinamies en help beide die deelnemers as die begeleiers.

‘n Aantal predikante is as begeleiers opgelei wat die sentrum deur die eerste fase sal neem.  Wat die deelnemers aanbetref, is die beleid tans dat die predikante van gemeentes wat deel is/word van ‘n Communitas-proses, aan die sentrum blootgestel word.  Dit geskied natuurlik met die samewerking van die predikant en kerkraad.

Communitas sal graag, sodra die groeipyne hanteer is, die konsep van die Begeleidingsentrum met ander sinodale streke wat belangstel  wil deel.