{ARGIEF}

Verslag van uitwisseling: 1-14 November 2008

Waarde van besoek

Vir my persoonlik was dit ’n ongelooflike leerervaring en iets wat ‘n mens vir altyd sal onthou. Goeie verhoudinge is gebou, veral met Jan en Ploni Robbers en ook die ander leraars wat ek by die kursus ontmoet het. Dit was ook ’n voorreg om ‘n mooi land soos Nederland te kon besoek met sy  mooi natuurskoon en interessante dorpe en stede. 

Die uitwisseling is ‘n uitstekende geleentheid om by mekaar te leer. Dit bou goeie verhoudinge en dit bring die twee kerke wat dieselfde belydenisgrondslag het nader aan mekaar. Die Suid Afrikaners kon iets deel oor die lesse wat hulle geleer het, veral ook rondom veranderinge na 1994, die worsteling rondom kerkhereniging. Die Nederlandse kerk help ons om te besef watter invloed sekularisasie het op die kerk, die funksionering van ‘n kerk in ‘n post-christendom era. Die kontak help ons om nuut te dink oor die rol van die kerk in die 21ste eeu en om saam te kan besin rondom die uitdagings wat voorlê.

Die informele gesprekke tussen leraars was van groot waarde. Dit het geleentheid gebied om oor verskeie sake te kon gesels wat wissel van Skrifuitleg, liturgie, gestuurdheid, kwyning van die kerk, jeug, leierskap, spiritualiteit, rol van die leraar, geskiedenis van die 2 kerke.

Kollega:

Jan en Ploni Robbers by wie ek tuis was, het my met hulle gasvryheid bederf.  Die blootstelling aan sy gemeente was baie leersaam en daar was verskeie vergaderings, eredienste en ander geleenthede waar ek ingesit het en die voorreg gehad het om deel te neem.

Ek en Jan het oor verskeie onderwerpe in die tyd gesels: rol van die predikant, die politieke situasie in Suid-Afrika, die kerkhereniging tussen die N G kerk en die VGK, die liturgie, hermeneutiek, uitdagings van die kerk vandag, die kerk in Nederland, die jeug, pastoraat en verskeie ander sake. Dit was baie stimuleurend en leersaam. Ek kon ook meer te wete kom van die gemeente advisieurs aangesien Jan se vrou in so ’n pos werksaam is.

Jan is baie toegewyd in sy werk, iemand wat die uitleg van die Woord ernstig opneem en ’n hart het vir mense. Hy is iemand wat op 60 jarige ouderdom nie sy passie as gemeentepredikant verloor het nie en ook iemand wat gretig is om meer te leer. Die wyse waarop hy die lidmaat met kanker besoek en ondersteun wys dat hy sy werk as pastor as belangrik beskou. Hy is gretig om as teoloog meer te leer. Ek het saam met Jan ’n studiekring in Amsterdam bygewoon. Die onderwerp by die geleentheid was: „Die verhouding tussen Karl Barth en Martin Heidegger“. Dit is ingelei is deur ’n afgetrede professor in Godsdiensfilosofie wat gespesialiseer het in die werk van Martin Heidegger.

Omstandighede van die gemeente

Die gemeente bestaan uit 1356 lidmate, waarvan 350 aktiewe vrywilligers is.
Ds Marianne Moerland en Jan Robbers is die twee leraars met ’n kerkraad van 16 lede.

Die gemeente is in ’n plattelandse gebied geleë in welvarende gemeenskap waar daar min tekens van armoede is. Dit is ook duidelik dat die kerk hom in ‘n post-christendom era bevind wat baie meer as die kerk in Suid-Afrika op die perifirie lê. Die uitdaging is dus soveel moeiliker om mense buite die kerk te bereik.

Betekenis en aard van geloof

Ek het twee eredienste bygewoon en het by altwee geleentheid gehad om inligting en agtergrond oor die gemeente waarby ek betrokke is te gee en ook oor die kerk in Suid-Afrika. Dit het die geleentheid geskep om na die eredienste met van die lidmate van die gemeente te gesels.

Dit was insiggewend om van die ontmoetings met die jeug by te woon. Daar was ’n groep van ongeveer 18-22 jariges, 20 plus en ‘n groep wat aansoek gedoen het om belydenis van geloof wou aflê. Dit is duidelik dat net ‘n klein persentasie van die jeug nog aktief inskakel by die gemeente. Uit die gesprek met die groep van die 20 plus groep is dit duidelik dat daar behoefte is aan verandering wat veral die inkleding van die eredienste betref.

Die wyse hoe ons vergaderings hou verskil heelwat van hoe dit in Nederland gedoen word. Die proses van gestuurde gemeente en die boek van Frederick Marais, God praat – leef luisteryk, het ons geleer om op ’n ander wyse te vergader en dat vergaderings plekke is waar geluister word. Dit is duidelik dat orde en reëls en die tradisie baie belangrik is vir die kerk in Nederland in die neem van besluite. By ons speel gebed en die Bybel ’n groter rol.

Herkenbaarheid van ou bande

Die gereformeerde tradisie is by beide van ons kerke belangrik. Ek en Jan kon lekker saam gesels oor teologiese werke wat beide van ons gelees het en persone wat ’n invloed op die vorming van ons denke gehad het.

Die liturgie is baie bekend en ook die simbole binne die kerk. Daar is ook liedere wat herkenbaar is en die orrel as begeleidingsinstrument. Daar is ook redelike raakpunte wat die rol van die predikant betref.

Kursus – Fasiliterende leierskap

Die kursus was baie insiggewend, leersaam en absoluut van toepassing op die werk van die predikant in die tyd vandag. Dr Frederick Marais het hom uitstekend van sy taak gekwyt en het ‘n besondere aanvoeling gehad vir die posisie waarin predikante van Nederland en Suid-Afrika hulle bevind. Ek dink beide die leraars van Nederland en Suid-Afrika het baie geleer en het ‘n stuk toerusting ontvang wat jy in die praktyk van die bediening kan gebruik. Sy styl van aanbieding het goeie bespreking ontlok en meegebring dat ‘n mens ‘n goeie begrip van die omstandighede van die kerk in Nederland en Suid-Afrika kon kry. Dit het meegebring dat ‘n mens by mekaar kon leer.

Woord van dank

Ek wil ook hiermee die stigting Zebra bedank vir die voorreg wat ek gehad het en vir die subsidie wat hierdie besoek moontlik gemaak het. Dit is ’n uitstekende idee wat vir beide kerke ongelooflik baie kan beteken.

Hannes Pretorius