{ARGIEF}

Ongeveer  150 verteenwoordigers van verskillende Christengemeentes  regoor die land en enkeles uit die buiteland het onlangs by die Helderberg gemeente in Somerset-Wes bymekaar gekom. Die Suid-Afrikaanse Vennootskap van Gestuurde gemeentes se vyfde bestaansjaar was met ’n konferensie gevier. Prof. Pat Keifert van die Church Innovations Institute St Paul, Minnesota, VSA wat grootliks bygedra het tot die vorming van die vennootskap, het aan die konferensie deelgeneem.

Die Suid-Afrikaanse  teoloog prof. David Bosch het twee dekades gelede met sy boek “Transforming Mission” die vernuwende konsep van gestuurde gemeentes ontwikkel. Volgens hom is sending, gestuur wees, ’n gerigtheid na buite, nie ’n taak maar ‘n eienskap van die kerk. Hy meen daar is ’n kerk omdat daar ’n sending van God is.  Meer as  200 gemeentes van ‘n verskeidenheid denominasies en uit verskillende sosio-ekonomiese en kulturele kontekste is vennote van die beweging.

Dr. Frederick Marais van Communitas, ‘n organiseerder  van die konferensie, glo God is besig om in Suider-Afrika unieke dinge te doen en dat dit hoog tyd is dat die kerke aandag daaraan gee. Gemeentes ontdek die wonder om nie God deel van hul gemeente planne en aksies te maak nie, maar om deel van sý plan, sy beweging te wees. Dit gaan nie om die belange van die gemeente nie, maar om God se wil te onderskei en raak te sien waar God reeds aan die werk is.

Gemeentes het  hul stories van vernuwing tydens die konferensie vertel. Klein en groter geloof deurbrake is met mekaar gedeel. Gemeentes wil almal ’n verskil buite die kerkgrense maak. Die gemeentes is nie meer vasgevang in die instandhouding van tradisies en tradisionele gemeentewees nie, maar beweeg weg van hulself na ander, die vreemdelinge, geringstes en noodlydendes. Die kerk is immers waar God is, God is naby aan die wat anders as ons is en by mense in nood. ’n Gemeente in die Suid-Kaap het ‘n sopkombuis vir boemelaars in ‘n verrykende weeklikse fellowship in die kerkgebou met ‘n volledige maaltyd daarna omskep. “Geen mens eet elke dag net sop nie”, het ‘n lidmaat gemotiveer om nie meer sop aan die boemelaars voor te sit nie. ‘n Tradisie ryk gemeente in Bloemfontein het besef hul fout was dat die Kerkraad ten alle koste beheer wil behou. Hulle het nuut begin. Hulle fokus op stukkende mense en bou verhoudings met bedelaars. “Die bedelaars  is welkom in die kerk, al sit hulle net daar, God gee nie om nie” het ’n lidmaat gesê. Een gemeente het getuig dat hul kerkraad nie meer beheer en kontroleer nie, maar dat hulle die lidmate ondersteun en bemagtig.

Predikante van ‘n gemeente in Gauteng vertel hoe hulle as ‘t ware die Bybel aan die mense terug gegee het, die Woord word vertrou en lidmate luister na mekaar se verstaan en leef dit daagliks uit. Hulle lees die Woord met ander, waar hulle op die oomblik is en ontdek hoe God daar aan die stuur is.

Die gestuurde gemeentes wandel in die Woord. Dit gaan nie om die “regte  lees”  van die Bybel nie, maar die saamlees en –luister as gelykes.  Dit gaan nie oor die informasie in die Bybel nie, maar die transformasie wat die Woord bring. God se stem word in die Bybel saam met ander gehoor, Hy mobiliseer, aktiveer, roep en stuur sy volgelinge.

“Dit is nie duidelik wie predikante is en wie is nie, almal is gelyke deelgenote” het prof. Klippies Kritzinger missioloog van UNISA oor die konferensiegangers gesê.

Prof. Pat Keifert meen dat die gemeentes is opreg in hul strewe om na die waarheid te soek en eerlike selfondersoek te doen.

Tradisionele kerkwees is aan die verander, dié gemeentes besef hulle is broos en kwesbaar. Gestuurde gemeentes maak foute en gaan ook in die toekoms maak, maar hulle is mede-werkers waar God reeds reddend teenwoordig is.

Dié konferensie het ’n ander beeld van kerkbyeenkomste getoon. Die ekumeniese karakter van die gestuurde gemeentes sal mettertyd die identiteit van denominasies irrelevant maak. Kerkpolitiek en leerstellige geskille sal waarskynlik van die skerm verdwyn.

Ek het die Heilige Gees se teenwoordigheid ervaar, die meelewing onder mekaar was die paar dae in Helderberg geloof verrykend.

Pieter van Niekerk