Lidmaatdeelname: die storie van ‘n inkommer

Written by webmeester on . Posted in Konferensies

1. Hoe nuwelinge kan seker maak dat hulle as ‘inkommers’ en nie as ‘indringers’  beskou word nie

  • Inkommers moet die inisiatief neem om in te skakel en uit eie oortuiging betrokke te raak.
  • Laat dit duidelik word deur aksie en nie net deur woorde nie, dat jy bereid is om jou volle gewig by die gemeente se bedrywighede in te gooi.
  • Stel die kerkkantoor in kennis van jou belangstellings en ervaring – vra raad oor waar jy kan inskakel/’n bydrae lewer.
  • Maak vinnig kontak met die leraar/s en bou ‘n vertrouensverhouding op.
  • Skakel vinnig in waar jy kan bydra en waar jy ‘n belangstelling/vernuf het.
  • Moet jouself nie opdring nie – lankgevestigde lidmate (selfs ook predikante en/of kerkraadslede) kan ‘bedreig’ voel.
  • Praat met mense en leer hulle ken – groet die mense waarlangs jy in die kerk sit en gesels na die erediens met hulle.
  • Wees bereid om by tye buite jou gemaksone te werk!

2. Wat kan gemeentes doen om inkommers (van beide die stad asook van ander plattelandse gemeentes) te verwelkom en te laat inskakel?

  • Volg attestate/lidmaatsertifikate op wat oorgeplaas word, want dit is gewoonlik ‘n goeie aanduiding dat die nuwe intrekkers wil inskakel.
  • Besoek hulle binne hul eerste twee weke van aankoms – dit sê vir hulle dat hulle belangrik is.
  • Bied hulp aan om hulle gou vertroud te laat raak met hul nuwe dorp, kerk, gemeenskap en omgewing – nuwe intrekkers het gewoonlik baie vrae; en hulp met die alledaagse goed bou goeie vertrouensverhoudinge tussen mense.
  • Probeer om NIE die kerk se almanak en die offergawekoevert met die eerste besoek by die persone te laat nie! Dit kan later kom. Die eerste besoek moet uiteraard een van verwelkoming en ’n geleentheid om enige spesifieke behoeftes wat hulle mag hê te bespreek.
  • ‘n Bedieningslys met die gemeente se verskeie diensgroepe en aksies op, kan inkommers help om te besluit waar hulle in die toekoms betrokke wil raak.

3. Watter vaardighede, ondervinding  én ‘onkunde’ bring inkommers van die stad af saam met hulle?

  • Die platteland verskil in dié opsig dat alles wat met elkeen gebeur, soort van almal raak – in ’n kleiner gemeenskap moet onthou word dat leiers van een geslag na ’n ander mekaar opvolg (familie-tradisies) en dit maak dit soms moeilik vir inkommers om met nuwe idees en insigte na vore te kom wat aanvaarbaar sal wees vir lankgevestigde gemeentelede.
  • Sakekennis en stadskennis en –ervaring. Plattelandse gemeentes is hoofsaaklik landbougemeenskappe en inkommers met ander vaardighede, kennis en insigte kan gemeentes help om bietjie weg te breek van wat soms amper ‘n kloostermentaliteit kan  word.
  • Inkommers kan wat in die stad en in stadsgemeentes gebeur in ‘n plattelandse konteks soms hervertaal en aanvaarbaarder maak vir mense op die platteland.
  • Inkommers kan soms buite die kulturele raamwerk van kleiner dorpe dink en oplossings vir probleme en uitdagings help vind.

4. Wat kan ‘n plattelandse gemeente doen om stadsinkommers gou tuis te laat voel en betrokke te raak?

  • Gasvryheid is ‘n belangrike ‘geloofsgemeenskapswoord’ – dit geld vir die gemeente sowel as nuwe inkommer/s.
  • Respekteer die inkommer se keuse of hy/sy onmiddellik by gemeentebedrywighede en/of -aksies betrokke wil raak al dan nie. Dikwels word lidmate vervreem juis deur onoordeelkundige benadering sodra hulle aanmeld of aangemeld word. Dit kan gebeur dat ’n “begeesterde” lidmaat (kerkraadslid) iemand tromp-op loop en verwagtings koester wat die persoon meer vervreem as nader te trek.

5. Hoe beïnvloed die ‘kultuur’ en tradisie van ‘n plattelandse gemeente die inkommer self? Watter aanpassings moet hy/sy maak?

  • Die “inkommer” kan afhangende van waar hy of sy kom nogal ’n kultuurskok ervaar.
  • Dis moeilik vir ’n kleiner gemeente (minder as 1 000 lidmate en plus-minus 400 meelewende lidmate) om gevestigde tradisies prys te gee. Die gemeente mag in ‘n geloofsgemaksone (tradisie) verkeer, wat moeilik is om te bowe te kom. Tye verander egter en gemeentes moet kan saambeweeg. Inkommers hoef nie noodwendig aanpassings te maak nie, maar uit oortuiging kan die gemeente positief beïnvloed word en kan tradisie wel vernuwe. Kultuur is ’n ander saak:  veral ouer lidmate vind dit moeilik om te akkommodeer en dinge uit ’n ander perspektief te sien.
  • Moedergemeentes het oor die jare heen ‘n bepaalde en ‘eie’ kultuur agv jarelange tradisies ontwikkel (bv kerkrade – elkeen kry sy ‘beurt’ om ‘n kerkraadslid te wees); baie lidmate het hul ‘eie sitplek’ in die kerk; daar is bodorp- en onderdorplidmate ensovoorts wat die inkommer kan verwar en ontuis laat voel – veral wanner hy/sy ‘n fout begaan (bv deur op iemand anders se sitplek te gaan sit!).
  • Soms het plattelandse gemeentes ‘n ‘geslote’ kultuur en ‘n soort vrees vir nuwe inkommers (‘wie is hulle en wat kom maak hulle hier?’).
  • Omdat groot persentasies van plattelandse gemeentes se lidmate (en veral hulle kerkrade) boere is, kan daar ‘n outoritêre kultuur (‘baas-van-die-plaas’) veral onder die kerkraad heers wat moeilik is om te verander of om van af te sien.

6. Waar lê daar dalk haakplekke waarvoor inkommers na plattelandse gemeentes op die uitkyk moet wees?

  • Haakplekke moet in geleenthede en groeiplekke omgeskep word!
  • Moet nie haakplekke negeer nie – hanteer hulle!
  • Wees op jou hoede om nie jou suksesstorie van die verlede aan jou nuwe gemeente te kom verkoop nie.
  • Op die platteland kan die boerderygemeenskap, die sakewêreld en die sosiale strukture so vermeng dat hierdie intiemer betrokkenheid dikwels openhartige en objektiewe besluitneming rem. Hierdie werklikheid openbaar homself noodwendig ook by kerkraadsbesluite en gemeentelike strukture.
  • Ingewikkelde sosiale en familieverwantskappe en netwerke in die gemeente kan ‘n mynveld vir inkommers wees!

7. ‘n Goue reël vir inkommers!

  • Koester omsigtigheid, bedagsaamheid en respek vir die kultuur en tradisies van die nuwe gemeenskap waarvan jy self gekies het om lid te word.

‘n Praktiese lys van moets en moenies om die oorgang vir Inkommers makliker te maak

  1. “When-we” – Moenie aanhoudend na jou vorige / ou gemeente verwys nie. Dit sê soms vir ander mense dat jou hart nog daar lê. Indien nodig, sê eerder dat jy van ’n gemeente weet wat wel dit of dat doen. Maak seker dat jy as ‘n ‘inkommer’ en nie as ’n beterweter beskou word of van ’n hovaardige houding beskuldig word nie. Gun jouself eers tyd om deeglik waar te neem voordat jy kommentaar lewer!
  2. As jy op ’n gebied vaardig is, bv jy’t ’n nuusbrief in jou vorige gemmente geredigeer, of jy was koster daar, en jy is bereid om in die nuwe gemeente hierby betrek te word, sê dit. Plattelandse gemeentes soek veral sake-vernuf soos mense-kennis, syfervaardigheid, reklame-vernuf, opleidingsondervinding, ens.
  3. Baie keer is die soiale en familienetwerk op ’n dorp baie ingewikkeld en mens kan ’n lelike bloutjie loop as jy dit nie in ag neem nie. Die onwaarskynlikste mense is òf familie òf aangetroude familie of vriende van mekaar.
  4. Elke dorp het sy legendes en stories, asook sy legendariese persone. Luister na die stories en leer die mense ken. So kan jy ’n netwerk uitbou wat as ’n soort infrastruktuur vir jou kan dien.
  5. Kyk uit vir ander inkommers en maak vriende met hulle.
  6. As jy in ’n nuwe dorp ‘n huis koop, gebruik die verkoopsagent se kennis van die dorp om gou op dreef te kom – vra uit bv wie dink hy/sy die beste loodgieter, doktor, tandaarts ens. op die dorp is. Maak aantekeninge – dit sal later baie handig wees.
  7. Doen moeite om mense te leer ken en hulle te laat weet dat jy nuut op die dorp is. Vra hulle raad oor dinge – so word jy gou aanvaar as iemand wat gaaf is en wat “nie te trots is om hulp te vra nie!”
  8. Raak by dinge betrokke – bv die dorp se belastingbetalersvereniging, die Vryburgers, die rolbalklub, die kunstevereniging, ’n selgroep, die vrouediens, die basaarkomitee, die koor, ensovoorts. Vermaak op ’n dorp is beperk en die dorpenaars self voorsien baie van hulle eie vermaak.
  9. Moet nooit in die begin ’n sosiale uitnodiging (bv vir koffie of ‘n ete) afwys nie – kanse is dat jy dan nie ’n tweede uitnodiging sal ontvang nie.
  10. Baie dorpe se moedergemeentes is redelik oud – koop of leen boeke wat oor die gemeente se geskeidenis uitgegee is om byvoorbeeld ’n eeufees te herdenk – ’n mens leer baie daaruit wat jou ’n belangrike agtergrond kan gee.

Die storie van die kerk op ‘n plattelandse dorp is ook in baie opsigte die storie van die dorp self!

Dave Reid
Gemeentekoördineerder, Robertson-Moedergemeente
Junie 2008

Met dank aan die volgende persone wat ruim hiertoe bygedra het:

  • Mnr Ignatius du Plessis; kerkraadvoorsitter, Moedergemeente, Robertson
  • Di Walla Koen en Pieter Steyn, leraars, Moedergemeente, Robertson
  • Mev Ida Kriel, skriba, Moedergemeente, Robertson
  • Mnr Ambro Hayward, diensgroepleier – nuwe intrekkers, Moedergemeente, Robertson
  • Mev Helen Dewing, lidmaat, Adelaide Presbyterian Church

Trackback from your site.

Leave a comment