{ARGIEF}

 religion

Geloof

en

Wetenskap

 science

Somtyds bestaan die idee by sommige dat “geloof” met die hart te make het, terwyl “wetenskap” met die kop te doene het. Dán werk dit só:

  • Geloof veronderstel glo; wetenskap veronderstel dink.
  • Geloof is om vas te hou aan dinge wat ons nie kan bewys nie; wetenskap is volledig daarop uit om dinge te bewys.
  • Geloof het te make met dinge wat ons dikwels nie kan waarneem nie; wetenskap wil deur middel van noukeurige en meetbare waarneming kennis bekom en teorieë formuleer.
  • Geloof het te make met oortuigings; wetenskap probeer feite vasstel, ens.

Geen wonder dat mense oor geloof en wetenskap in mekaar se hare is nie – of dat ons in onsself verward is nie, want ons is gelowiges wat in ‘n hoogs gespesialiseerde wetenskaplike wêreld lewe! En wat moet ons lidmate hiermee maak?
STLAS en VBO span saam om hierdie kursus aan te bied, wat ten diepste gaan oor die hermeneutiek: die vertolking van die Bybel in ons tyd; die verrekening van kontekste in ons verstaan van ons geloof vandag. Ons gebruik die brosjure oor Geloof en Wetenskap wat verlede jaar (2013) by die Algemene Sinode as gespreksdokument aanvaar is vir hierdie doel.
Hierdie kursus kan in ‘n sekere sin ook gesien word as ‘n (meer praktiese) opvolg van die kursus oor Christelike Geloof en Wetenskap, wat Dirkie Smit verlede jaar (2013) aangebied het. Toe is so daaroor geskryf:
“Die dramatiese vooruitgang in wetenskaplike ontwikkelinge en toepassinge oor die afgelope eeue – ‘n mens kan selfs praat van onlangse dekades – laat niemand onaangeraak nie. Dié ontwikkelinge vind plaas reg oor die wye terrein van álle wetenskaplike dissiplines, van natuurwetenskappe tot by sosiale, ekonomiese en geesteswetenskappe.
Nie alleen die vakinhoude – die ontdekkings en insigte – van die wetenskap nie, maar ook die wêreldbeeld wat daarmee onherroeplik verander en die alledaagse belewenis van mens-wees wat daardeur onherroeplik gestempel word, maak ons almal tot die mense wat ons vandag ís. Dié wetenskaplike tydsgees verander nie net wát ons dink nie, maar ook hóé ons dink, word soms gesê.
Ons leef met steeds veranderende vanselfsprekendhede, oortuigings en waardes. Om dié rede beleef vele gelowiges – op vele en uiteenlopende maniere – dat hierdie ontwikkelinge in konflik staan met hulle Christelike geloof en hulle diepste oortuigings aangaande waarheid, aangaande die lewe en aangaande mens-wees en geluk.” 
Dis presies hieroor dat hierdie kursus ontwerp is om mekaar te help. Maak vroeg seker dat jy hiervoor registreer om teleurstelling te voorkom.

Wanneer: 18–20 Februarie 2014
Waar: Stellenbosch
Aanbieders: Prof Louis Jonker, Ben du Toit en Heerden van Niekerk
Om in te skryf, Kliek hier: VBO 4 Geloof en Wetenskap II

__________________________________________________________