{ARGIEF}

Hamster of Branderplankryer: Watter tipe Dominee is jy?!

(VBO 12 Hoe om lidmate te help om hulle bediening in die gemeente ontdek)

Gedurende 15-17 April is die VBO kursus “Hoe om lidmate te help om hulle bediening in die gemeente ontdek” in Stellenbosch aangebied. My verwagting van die kursus was om ‘n resep te kry wat ek naastenby net so kan gaan implimenteer om lidmate weer opgewonde  te maak oor die bediening en meer betrokke te kry in die gemeente….

Hierdie verwagting is sommer die eerste dag al gesmoor deur ‘n stelling wat Hannes Koornhof (aanbieder) gemaak het en my diep laat nadink het. Hy het Pat Keifert aangehaal wat in een van sy boeke geskryf het: “The minister cannot do the ministry. What he / she can do is to block the ministry!” Voordat ‘n mens dus lidmate van onbetrokkenheid wil beskuldig moet jy eers ‘n paar tree teruggee en selfondersoek doen. Tot watter mate blokkeer ek as predikant en die sisteme in die gemeente lidmate se kreatiwiteit en gawes om selfstandige bedieninge binne en buite die gemeente te skep? As ons eerlik met mekaar wil wees is die antwoord op hierdie vraag: Tot ‘n groot mate! In baie gevalle is gemeentes se funksionering so gerat dat die predikant(e) / geestelike leierskap by die oorgrote meerderheid van die aktiwiteite seggenskap het / betrokke is. Die uiteinde is ‘n moeë predikant wat rondhardloop van die een dienspunt na die volgende om almal gelukkig te hou / energie te genereer en ‘n sisteem wat gevaarlik afhanklik geword het van die insette van die predikant.

Die beeld wat Johan v/d Merwe (aanbieder) gebruik het om die uiteinde van bg te beskryf is die van ‘n hamster wat elke dag in sy wiel hardloop en wanneer hy doodmoeg uitklim steeds nie een tree gevorder het nie! Ongelukkig blyk dit ook soms waar te wees van ons as predikante en die gemeentes!

Die uitdaging is veel eerder om soos branderplankryers te lê en wag vir die regte golf en dit dan te ry. Waar die hamster baie energie verbruik en geen rigting het nie, beweeg die branderplankryer vorentoe vanweë die energie wat die golf skep. Hy / Sy volg bloot net die momentum! Die kursus wou gemeenteleiers dan presies met hierdie beeld uitdaag. Christus is soos die golf wat reeds energie en momentum skep op bepaalde plekke in ons onderskeie gemeentes / gemeenskappe. Die kuns lê daarin om met geloofsonderskeiding hierdie momentum raak te sien en daarby aan te sluit. Die uiteinde is dat hierdie momentum op plekke mag wees wat ons aangenaam sal verras. Dit is nie noodwendig net waar die predikant, kerkraad of kommissies werksaam is nie. Jesus kan en wil ook buite die tradisionele sisteme, strukture en ampte werk! Die vraag is of ons lidmate toegerus is en gereed is om die geleenthede aan te gryp? Een van die eerste stappe wat moet gebeur om hulle gereed te kry is om die bediening weer terug te gee aan lidmate. Die mag / outoriteit kan dus nie net lê by ‘n handjievol leiers nie, maar elke lidmaat moet toegerus word om daar waar sy / haar gawes is en daar waar sy / haar kring van invloed is ‘n verskil te maak. Een van die hulpmiddels om dit te bewerk is die Netwerk kursus wat gemeentes en geestelike leierskap wil help om die gemeente kultuur deur ‘n proses geleidelik te verander sodat elke lidmaat bemagtig word en bekwaam voel om onafhanklik en selfstandig bedieninge te begin waar hulle voel die Here hulle roep. Die rol van die predikant verander dus van ‘n sogenaamde “Jack-of-all-trades” na ‘n fasiliteerder en geestelike mentor wat die lidmate en die verskillende bedieninge wat spontaan begin ontstaan, help om die hele tyd in lyn met die gemeente se visie / missie en die Woord te leef. Dit word onder andere gedoen deur Godsvrae te vra en saam met lidmate te ontdek waar en hoe die Here reeds aan die werk is en elkeen wil gebruik.

Die kursus kan werklik sterk aanbeveel word vir elkeen wat ernstig is daaroor om hulle lidmate te bemagtig en te vergesel op die pad van geestelike volwassenheid. Die ontmoetings is informeel en so ingerig dat elkeen met vrymoedigheid kan deel en leer by mekaar. Die werkboek is vol praktiese wenke en bruikbare materiaal wat elkeen help om die nuwe maniere van dink oor die bediening te bemeester. Nog ‘n pluspunt  is ook die feit dat daar saam met die aanbieders besluit is om nog ontmoetingsgeleenthede te skep sodat die kursus in werklikheid eerder ‘n proses word waar ons saam oor die volgende paar maande ‘n pad van transformasie in ons onderskeie gemeentes kan loop en by mekaar kan leer!

Neil du Plessis
NG Kerk Citrusdal