{ARGIEF}

Hilde en Willem Liebenberg

Hilde Liebenberg is saam met haar eggenoot, Willem Liebenberg, die afgelope 19 jaar leraarspaar van die N.G. gemeente in Bonnievale. Hulle 4 kinders is alreeds uit die huis, waarvan 2 nog op universiteit is. Hilde is baie betrokke in die gemeente en deel die roeping van haar man om vir die Here diensbaar te wees. Sy was tot onlangs die redaktrise van die Kix.Kom wat vir haar ʼn groot vreugde was. Sy hou van fietsry en doen graag kunsnaaldwerk. Bybelstudie lê baie naby aan haar hart, want vir haar is dit die mees besondere manier waarop die Here met ons praat.Van beroep is sy ʼn Junior Primêr- en Kleuterskoolonderwyseres, maar tans geniet sy dit net om ʼn tuisteskepper te wees. Haar huis, man kinders en hondjies is vir haar baie belangrik.

7-PUNT PLAN OM ‘N KRISIS TE HANTEER

Nie een van ons is van seerkry gevrywaar nie. Krisisse kom oor ons lewenspad…en dit is so belangrik dat ons dan in geloof “kop” sal hou en die regte besluite sal neem. Ek deel graag die volgende 7-punt plan met julle – ʼn plan wat vir my al baie beteken het.

Wanneer jy ‘n probleem/krisis ervaar, hou die volgende ingedagte:

1. Tref onmiddelik ʼn onderskeid: “Is die krisis slegs ʼn slegte ding op jou pad….of is dit ʼn onomkeerbare ramp?”

2. Moenie verkeerde “gewig” aan die krisis gee nie – met ander woorde : moenie ʼn slegte ervaring hanteer asof dit ʼn onomkeerbare ramp is nie. Probeer emosioneel in beheer bly en moenie van ʼn “moontlike” molshoop ʼn yslike berg maak nie.

3. Vra jouself af : Wat kan ek verander…..en wat kan ek nie verander nie? Doen wat jy kan doen om die krisis te hanteer….en wat jy nie kan verander nie, aanvaar dit!……so gou as moontlik, anders “martel” jy jouself onnodig dalk te lank en staan jyself moontlik in die pad vir Goddelike genesing en troos.

4. Onthou : Wat met jou gebeur is NIE so bepalend vir jou lewe as HOE jy dit hanteer nie.

5. Trek God se “genade jas” so gou as moontlik aan. Moenie in verbittering ingaan nie. Bly biddend by die voete van die Here en bid vir genade, wysheid, troos en aanvaarding.

6. Glo onwrikbaar dat God in beheer is en dat niks oor jou pad kan kom wat nie om die een of ander rede deur God toegelaat is nie. Dis nie die Here wat krisisse oor jou pad bring nie. Nee, Hy is volmaak! Krisisse is deel van die gebrokenheid van hierdie bedeling. Dit is egter wonderlik om te weet dat die Here hierdie krisisse gebruik, in diens neem om ons te vorm. Al verstaan jy nie die sere van die lewe nie, God het ʼn doel daarmee en is steeds met jou oppad na die ewige heerlikheid.

7. Sê dankie. ʼn Mens kan so vaskyk teen jou seerkry, dat jy vergeet om dankie te sê vir die nogtans soveel seëninge in jou lewe. Lees en oordink die volgende skrifgedeeltes. Die Here versterk en vertroos ons deur Sy Woord. Rom 8:28, Rom 8:38, Mat 6:25-34, Mat 10:29-30, Jes 40:28-31, Jes 43 : 1-2