{ARGIEF}

deur Amanda Kruger-van Deventer
“Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou …” (Ps.37:7)
“Daar is ‘n honger na gewone brood en daar is ‘n honger na liefde, na goedheid, na bedagsaamheid; en hierdie is die vérreikende armoede wat die oorsaak  is dat mense so ly.” (Moeder Teresa)
reenboog
Bedagsaamheid is: om vanuit genade te weet en toe te laat dat elke mens ‘n eie manier van doen en dink het. Om sensitief te wees dat God elke mens se uniekheid op ‘n eie unieke manier bevestig. Om tevrede te wees dat ek nie alles verstaan nie.  Dat ek God te alle tye vertrou om inskiklik en vriendelik, hulpvaardig en betroubaar, oplettend en tegemoetkomend,  tot die beswil van ‘n ander mens se lewe, te wees. Om vanuit genade te weet dat God my geskep het gelyk met ‘n ander mens. Om deur my optrede teenoor  ‘n ander mens  God te vertrou om nuwe hoop en lewe deur my te skep.
Maar ek laat nóú my kop sak. Dit is die laaste kwartaal van 2014. My oë is vasgenael op my voete, want die einde van die jaar se pas versnel. Tyd is min. Die spoed van leef, word al hoe vinniger. Die tyd tussen nóú en Kersfees is gejaagd en volgeprop met “nóódsaaklik-hede”. Dit is dié tyd van die jaar wanneer ek baie maklik kan struikel of val in vinnige, driftige, bitsige, snipperige toesnou-woorde aan myself en aan mense rondom my. Die bedagsame manier hoe ek mense behandel, word al hoe moeiliker hoe gejaagder die lewe word en al minder tyd word ingeruim vir ‘n ander mens.
Kersfees 2014 wink vir my om die draai. Ek hou van Kersfees.  Kersfeestyd is mos familietyd en vriendetyd. Dit is saam-kuiertyd om ‘n kersfeestafel en ‘n kersboom.  Kersfees in die Suid- en Wes-Kaap is vrolik, vol somer se vreugdekleure.  Al die skakerings van blou laat my vry voel. Van Alexanderbaai aan die weskus verby Kleinmond en Hermanus aan die suidpunt van Afrika, op langs die ooskus verby Victoriabaai, al langs die mooie sandstrande dans my voete  in die laggende blou branders. Ons  somerkersfeesland se somerlug is somerblou vanaf die bloue see deur die wye Karoo se bloue hemelruim tot waar die rooi duine van die Kalahari, van blousuiker se tyd af, die blou-bloue lug ontmoet.  Bedagsaamheid is ‘n vrymaak-geskenk – so wyd en blou soos ons land se hemellug.  Bedagsaamheid teenoor mekaar help dat  almal in hierdie land gelyk langs mekaar mag staan, werk en dink.
Die blomme vlinder op ons velde en langs ons paaie vol rëenboogkleure hierdie tyd van die jaar en maak ons bly. Die rooi van Rooi Afrikaner en Rooibergpypies. Die oranje van Speldekussing en Gousblom. Die geel van Bergmagrietjies  en Suring. Die groen van Melkbos en Dekriet. Die blou van Bobbejaantjies en Blouklokkies. Die indigo van Vygies en Fluweeltjies. Die violet van Viooltjies en Laventel.  Die soet blommegeur verslenter my haastige voeteval. ‘n Vreugde-geskenk wat my herinner aan bedagsaamheid.  Bedagsaamheid is ‘n vreugde-geskenk van een mens aan ‘n ander wat drome van hoop en lewe laat vonkel in ons oë.
God is liefde. Kersfees is liefdetyd. Die laaste kwartaal moet ons tyd maak vir God en vir mekaar.  Bedagsaamheid is liefde en verdraagsaamheid teenoor  mekaar. Om sensitief te wees vir elke mens se andersheid en anderse manier van doen.  Hierdie sensitiewe luister  na mekaar met ‘n omgee-hart het eie stiltyd saam met God nodig. In hierdie stilwordtye saam met God maak Hy my oop vir iets groter as myself. Ek leer al meer hoe om bedagsaam op te tree teenoor ‘n ander mens.  Om nie ‘n ander mens se persoonlikheid te benadeel nie.  Bedagsaamheid is ‘n genade-geskenk wat ek gehoorsaam aan God, weggee aan ‘n ander mens. Bedagsaamheid verkry ek nie deur my eie toedoen nie, maar net deur die leiding en die krag van die Heilige Gees wat my sterk maak. Ek tree in in hierdie krag en ek is dankbaar dat God my liefhet.
Johannes 15:9-13
“As julle My getrou volg,
 sal die wêreld God werklik raak sien vir wie Hy is.
Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet.
Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe.
Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle?
 Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek.
 Daar moet geen einde aan wees nie.
Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet.”
Mag bedagsaamheid  soos ‘n reënboog in jou wolk boogskiet;
Mag bedagsaamheid ‘n geskenkie in blou ophang in jou kersboom;
Mag bedagsaamheid familie en vriende om jou kerstafel skaar;
Mag bedagsaamheid jou vlindervry laat dans tussen reënboogblomme mooi;
Mag bedagsaamheid sterre van hoop en lewe vonkel in jou oë;
Mag bedagsaamheid stilwordtye saam met Jesus in jou oopblom;
Mag bedagsaamheid jou laat vonkel soos die vroegdag druppeldou;
Mag ‘n ander mens jou met bedagsaamheid ryklik seën;
God is lief vir jou.
blomme