{ARGIEF}

merweville
deur Esther Fourie
Liggeraak en fynbesnaard –
dit is Merweville se eie aard
elkeen op sy eie,
tog ook almal saam
verbind deur een groot gedagte
die Merweville-naam.
Weggesteek tussen klipkoprante
in die hart van die karoo
afgesonderd, een alleen
staan ‘n kerk van grys karoo-sandsteen
‘n trotse baken wat met die tyd
bekend geword het, wyd en syd.
Kinders is gebore, gedoop en voorgestel
gevry, getrou en weer kinders gekry
‘n eeu lank gaan dit al so aan
volg geslag op geslag dieselfde baan
kinders kom en kinders gaan
die stad is nou hul voortbestaan.
Tog is daar ‘n pad wat altyd weer
terug tot in die diep Koup keer
hier waar almal mekaar nog ken
weet wie verloor en weet wie gaan wen
wie ry wat en waar en hoekom
ken elke draai en bos en bloekom
Weet wie was by watter hek of deur
ook wat môre reeds gaan gebeur
nuus versprei vinnig en baie sekuur
reg deur die dorp in minder as ‘n uur
maar as die nood druk en jou hart voel seer
bid almal saam en vertrou op  die Heer.
Liggeraak en fynbesnaard
dis ons mense se eie aard
breek af, bou op, staan saam
skinder, dra stories, skend ‘n naam
maak vrede, vra verskoning
want Merweville is almal se woning.
Verskil en argumenteer
maar een ding het almal
aan moederskoot geleer
jou huis is waar jou hart is
en al is dit ‘n laaste kluit op ‘n kis
soek almal na hierdie sielerus.
Hier aan die walle van die ou rivier
waar die hemelruim so naby is,
dat die melkweg se punte op die rantjies rus
waar jy sterre uit die lug kan pluk
terwyl die nanag se donker
herinneringe uit jou hart se kamers ruk.
Dis hier waar jy jouself weer kom vind
laag buig en vertrouend bid soos ‘n kind
en as jy opkyk na die klipkoprant se kruin
sien jy die kruis van Getsemané se tuin
halfpad staan dit teen die hemelblou
wagtend op my en wagtend op jou
om nogeens mekaar se hande te vat
en saam te stap op die toekomspad.
Dis wat Merweville van my en jou vra
ons moeder, ons hoeder, ons ma.