{ARGIEF}

genoegIsOorvloed
deur Amanda Kruger-van Deventer
“God is by jou in alles wat jy aanpak.” 2014
Geloofsreis van vroue, het my deur 2013 gehelp om te ken hoe naby God aan my is. Deur die voorreg om na mekaar se stories te luister, het ek al meer bewus geraak van God se werking in my lewe.
My uniekheid in God word al hoe duideliker vir my juis deur te luister na mense se Jesusstories. Hoe heerlik die insig dat ek ‘n spesiale unieke plek het in hierdie lewe om te mag lewe vry in Jesus. Dat die hele wêreld gewag het dat ek gebore moet word.
Al meer besef ek, indien dit met my gebeur, so ook met elke mens op aarde. Ek moet leer om te stop en te luister na mense. Ek leer al meer om die uniekheid van elke mens te erken en al verskil ek soms baie van jou om steeds van jou te hou. Ek moet stop, luister en verstaan.
Hierdie besef dat elke mens ‘n unieke plek het in die wêreld om vry langs ander te mag staan, leer my al meer om respek te hê vir mense om my. Ek mag nie myself in ‘n boksie sit nie en ook nie enige iemand anders nie. Ek moenie met ‘n breë kwas verf nie. My unieke plek in God is so kosbaar dat ek nie mag veralgemeen nie. Ek mag nie algemene gevolgtrekkings maak nie, want dan steel dit my eie vreugde om vry te mag staan langs ander mense sonder skaamte en vals onderdanigheid.
Deur 2013 het God vir my werklik mense gegee wat my liefhet. My mooie, sagte, sterk blouoogman, my arendvlerkseun en my reënboogroos-meisiekind. My mooie buurvrou wat nou ‘n babatjie verwag. My mooie vriendinne wat na my luister met sagte oë en sagte ore. Dat ek liefgehê word net soos ek is en dat ek regtig belangrik is net soos ek is uit Jesus se genade.
God se reis met my gaan steeds deur die goeie en die slegte. Om al meer bewus te word van die slegte in my is sleg en soms voel ek na wegkruip, weghardloop en koes. Die slegte in my maak my stoer, stuurs, stug en sat. Maar dan onthou ek ‘n ou-ou liedjie:
Whenever I feel afraid
I hold my head erect
And whistle a happy tune
So no one will suspect
I’m afraid.
While shivering in my shoes
I strike a careless pose
And whistle a happy tune
And no one ever knows
I’m afraid.
I whistle a happy tune
And ev’ry single time
The happiness in the tune
Convinces me that I’m not afraid
Ek weet dat God my baie lief het, ek sy reënboogkind. Ek weet God se Gees maak my sterk en ek tree in in hierdie krag en vertrou my Here dat Hy my al meer sal leer om vanuit Jesus se oë na myself te kyk en ook na mense om my. Dat ek nie met die oë sal kyk vanuit die ervaringe van die verlede nie. Ek moet luister na myself met sagte oë en sagte ore, want so luister God na my.
Ek moet hoor of ek ander mense reg verstaan. Ek moet verstaan dat wat ek sê nie altyd duidelik is vir ander mense nie en dat sekere woorde verskillende persepsies het vir elke unieke mens. Ek moet met sagte oë en sagte ore luister, hoor en dan sê dit wat ek gehoor het sodat ek en jy mekaar reg kan verstaan, my mooie vriendin. God berei my voor vir iets groter as myself en gee my drome van liefde en billikheid. Ek het God lief met alles wat ek is en het. Hy is belangriker as allerande dingetjies. Hy is belangriker as al die klein jakkalsies wat die wingerd so kan omkrap. Hy is genoeg en Hy is my oorvloed.
My vriendin ! “Die Here sal jou seën en jou beskerm; die Here sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees. Die Here sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee! As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie. Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes. Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees. Jy sal geseën wees waar jy ook gaan. Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee. Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”  Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. Die Here is my krag en my beskerming. Niks is vir God onmoontlik nie.”
“Skep moed … Begin met die werk, want ek is by julle, sê die Here, die Almagtige … my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie !”
Gen.21:22 / Haggai / Num. 6:24-26 / Jes. 43:2 / Deut. 28:4 -12 / Hebr. 13:5 / Jos. 1:9 / Ps. 118:14 / Mark. 9:23 / Lukas 1:37
Pelgrimsgebed
Vader God, U ken my naam.
My binnegoed en buite staan.
My grootpraat en my klein verdriet.
My vashou aan als, wat verskiet.
U ken my vrede en my hoop.
Die pad wat ek so kaalvoet loop.
Die pad het U lankal berei.
U maak die pad gelyk.
Vir my.
Moeder God, U ken my waan.
My ego en my regop staan.
Die drake waarteen ek bly, veg.
U wys my altyd weer, die weg.
U het my met U lig geseën.
Die lig strooi ek op, iedereen.
Net U weet hoe my toekoms lyk.
Ek het niks, U maak my ryk.
Alle Pelgrims keer weer huistoe.
Elke swerwer kom weer, tuis.
Ek verdwaal steeds op die grootpad.
Soekend na U, boarding huis.
(Amanda Strydom)