{ARGIEF}

deur Kinnie Britz
By  Petro-SA sê aanleg langs die N2 naby Mosselbaai, staan die inligtingsbord wat Herbertsdale aandui. Draai gerus volgende keer af as jy daar verbyry en kom besoek ons pragtige ou dorpie met sy gasvrye mense.
Hier is net 31 huise, twee winkels, ’n  koöperasie, polisiestasie, posagentskap en drie kerkgeboue. (Een kerkklok staan buite en is werklik iets om te sien.) Soos die teerpad na die dorpie kronkel, word jy bewus van die lieflike natuurskoon met al die aalwyne wat dan weer afgewissel word deur lowergroen lusernlande langs ons lewensaar, die Langtourivier.
En dan, na ‘n sekere draai in die pad, sien jy ons geliefde ou dorpie aan die voet van die Langeberge met Vryersberg wat soos n baken afgeëts is teen die blou lug.
Op 6 Februarie 2014 het Antoinette en Amanda ons besoek en dit was ‘n groot gebeurtenis op Herbertsdale. Die hele gemeenskap is uitgenooi en daar was dan ook vrouens van alle denominasies teenwoordig. Daar was selfs een man ook.
Op haar sprankelende, maar tog rustige manier is die geloofsreis deur Antoinette aangebied, terwyl Amanda op haar unieke manier lewe gegee het aan Eva se gebed asook die skrifgedeelte. Tyd was geen faktor nie en elkeen kon stilword, diep dink en diep deel in die kosbaarhede van die geloofsreis.
Die reaksie van baie vroue agterna was ‘n bewys dat God teenwoordig was en dat vroue deur sy Gees geïnspireer is om waardig hul plek vol te staan. Die Woord is lewend en laat my altyd dink aan ‘n klippie wat in water gegooi word – die rimpels beweeg wyer en wyer.
Ons wil dankie sê aan hoofkantoor wat meer vrouens oplei om die geloofsreis aan te bied, want dit beteken dat meer klippies in die water gegooi kan word en nuwe rimpelings kan veroorsaak – vir God se koninkryk.
herbertsdale-ap14