{ARGIEF}

herbertsdale-okt14
deur Kinnie Britz
Ons hier op Herbertsdale het ‘n wonderlike oggend-tee gehad en ek deel dit graag. Die saal was baie mooi versier. Allerhande verskillende houers is   gebruik – grotes, kleintjies, krommes, skewes, met ore en sonder ore – baie mooi! Die blomme het gevarieer van Clivias, Varkore en Septemberbos, tot stukke tak!
Ons het die oggend begin met Eva se gebed in ‘n verwerkte vorm, om by die gehoor van mans, ouma-grootjies, oumas, ouers en kinders te pas. Die spreker was die pragtige Michele Weyers, ‘n voormalige lugwaardin, maar ook die eerste Messiaanse predikant in Suid-Afrika. Die onderwerp was: “Klein vuurhoutjie, groot vuur – hartseer is in sy visier!”. Ons het geskaterlag vir die komiese aanbieding, maar was tog diep geraak deur hoe maklik ‘n mens in die strik trap van onbedagsame woorde en die oordra van hoor-sê.
“Reën” van Adam Tas, is vervolgens gesing deur een van ons eie lede, Belinda Claassen. Die woorde van hierdie lied is besonders en was op die tafels beskikbaar.
herbertsdale-okt14-2Daarna is ons vermaak deur Sterland Drama Studio van Mosselbaai. Vyftien kinders het opgetree en dit was ‘n belewenis. Hierdie kinders presteer geweldig goed en van hulle het reeds al in New York medaljes verwerf. En wat dit vir ons baie besonders maak, is dat die afrigter een van ons eie mense is nl. Miné (Otto) van Schalkwyk. Tussen die deelnemers was dan ook ‘n hele paar van ons eie Herbertsdale-kinders.
Natuurlik het die koektafels behoorlik gekreun!
Ons was na liggaam en siel gevoed en opgebou – wat ‘n wonderlike oggend!
Groete hier van ons af en mag die vrouens van krag tot krag gaan!