{ARGIEF}

deur Hilde Liebenberg
SAMEBINDEND. Die HAT beskryf die woord as byeen en ineen. Dit is presies wat gebed beteken. Dit is asof die Nyl deur ‘n wêreldwye dorre woestyn vloei wanneer vroue saam bid.
bonnievale-apr14
‘n Bybelstudiegroepie in die Van der Merwe-gemeente in Bonnievale het hierdie jaar die vrouebiddag in ons midde gereël. Die reëlings is vooraf met deernis en liefde vir die vroue van Egipte, gepaard gegaan, maar was veral SAMEBINDEND vir hierdie groepie. Een lid het skool toe gegaan en daar uit ‘n stoor vir elkeen van die groepie met Egiptiese drag voorsien. Die dekor in die kerkwas ‘n pragtige uitgebeelding ooreen-stemmend met die tema: Strome van lewende water. ‘n Put is gebou (darem net van buitebande en Hessian met ‘n emmertjie wat bokant die put gehang het). Jesus het die Samaritaanse vrou ontmoet toe Hy daar gaan rus het. Twee vroue het hierdie toneeltjie aangrypend uitgebeeld. Hierdie vrou het tog begryp sy het nie met ‘n gewone mens te doen gehad toe Hy vir haar lewende water wou gee wat haar nooit weer sou laat dors word nie. Dit was ook die hooftema van die boodskap. Jesus het geweet sy het reeds vyf mans gehad “en die een wat sy nou het, is ook nie haar man nie”. Hy was nie veroordelend nie, maar het met volle deernis met haar gepraat. Dit het ‘n mens laat wonder: wie kan ooit ‘n eerste klip gooi?
Die humor is mos altyd daar. Die lid van die groepie wat graag spontaan baie gesels, was soos ‘n mummie aangetrek en sy moes doodstil in die voorportaal staan. Mummies kan hoegenaamd nie praat nie. Sy het egter met liefde hierdie groot opoffering gemaak.
Daar in die voorportaal is van die vrugte uitgestal wat die Egiptenare langs die Nyl kweek: granate, druiwe en groot, pers adamsvye. Een verslawende vyeliefhebber het gewonder of dit groter sonde sou wees om twee vye in die kerk te steel as van ‘n boom af. Haar vriendin met die sagte hart, het haar van die versoeking gered en vir haar twee vye gesteel!
Slegs 12% van die vroue van Egipte is Christene.