{ARGIEF}

deur Yvonne Neethling
strandfontein1-apr14As deel van NG Kerk Langebaan se 25-jarige vieringe in 2013 was die Vrouekamp in Strandfontein een van die hoogtepunte van die jaar se “Loof en Beleef”!
Vroue van die Weskus is vir ‘n naweek genooi om te ontspan – 12 tot 14 April 2013. Hulle kon uitsien na geen kosmaak of skottelgoed was, stilword by die Here, luister na An Nieuwoudt van Radio Namakwaland en kreatief saamkuier. Ons grootste verwagtinge is oortref.
Dit was ‘n besonderse vrouekamp met die perfekte balans tussen wegkom uit die daaglikse roetine, pitkos vir die siel, lofliedjies sing en genoeg tyd om die pragtige Strandfontein te geniet, nuwe vriende te leer ken en lekker saam te kuier.
Die Vrydagaand het ons ín ‘n ligte luim koffiebekers uitgeruil en ‘n gebedsmaat gekry. Soos altyd het God self die regte mense bymekaar uitgebring sodat laste gedeel en ligter kon word.
Saterdagoggend het An ons geïnspireer met nuwe insigte oor altare en offers. Ons kon seremonieel ‘n klippie gaan pak op ‘n altaar in die veld en op hierdie manier ook opnuut iets aan die Here oorgee. God het sy hart aan ons openbaar wat ons weer onder die diep besef van sy Liefde gebring het. Na ‘n diep oggend, kon ons lekker ontspan, saam kreatief raak en ‘n foto ‘plofboksie’ maak. Met sonsondergang het ons in styl gaan vis en “tjips” eet in Doringbaai. Die aand is afgesluit met pragtige sang en voorlesings deur ‘n paar vroue en ds Kobus de Kock.
strandfontein2-apr14Sondagoggend het ons ‘n besonderse nagmaal langs die mistige see gehad – ‘n eenvoudige verbonds-maaltyd as kinders van die Here. Die 28 vroue van Langebaan en Klawer kon uitmekaar gaan met nuwe seën en nuwe krag. Ons is dankbaar vir almal wat saamgewerk het om die naweek ‘n groot seën te maak. Alle eer aan ons Here wat betrokke is in die lewe van gewone vroue.