{ARGIEF}

deur Amanda Kruger-van Deventer
spanbou1-apr14“Wees stil en weet: Ek is die Heer. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” (Jesaja 30:15 Die Boodskap en Lied 519)
God was aktief aanwesig tydens ons taakspan se spanbousessie oor twee dae. Antoinette en Bossie Muller het hulle deure wyd oopgemaak by Op die Berg in die Koue Bokkeveld. Buite onder die groot sambreelvormige groen boom het die stoele alreeds in ‘n kring gewag. Die spanbou het begin met Wandel in die Woord. (Lukas 1:26-38) Stil, luisterend het ons begin om God te hoor saam met mekaar. Ons fokus was hierdie twee dae om ‘n ruimte te skep waar ons God kan hoor, mekaar kan hoor en mekaar beter kan leer ken. Om elkeen se unieke self verder te ontdek, maar ook as ‘n taakspan op reis te gaan saam met God.
Bossie Muller was ons fasiliteerder. Hy het ons begelei deur die Meyers Briggs wat begin het met ‘n persoonlikheidsvraelys waardeur ons elkeen ons unieke self kon ontdek en mekaar persoonlik nog beter kon leer ken.
Laatmiddag het Antoinette halt geroep. Ons het tekkies aangetrek en gery na die mooie vrugteplaas, Kunje Boerdery, van oom Louis en tannie Ester Hanekom. Hulle het ons ingewag – so gasvry, vriendelik en vol lewensvrolikheid. Saam met oom Louis het ons deur sy pakstore geloop waar perskes, appels, pere en lemoene geklas en gepak word. Groot was ons verbasing om te luister na sy verduidelikings van hoe alles werk.
Die lekkerte het nog voorgelê. Aan weerskante van ‘n mooie rivier was die rye op rye vrugtebome van alle soorte, geure en kleure. Die mooiste was die pienkrooi forelpeer. Die geelperskes het swaar aan die bome gehang, stroopsoet. Die geelgroen pere is so groot dat twee hande moeilik een peer kan omvou. Die pruime is fluweel dieprooi-soet, die pampoene vaalgroen van buite en pampoenoranje van binne. Die waatlemoene is so groot dat ons arms beswaarlik rondom kon vou. Wat nog van optel?
Die mooiste was die berge aan weerskante van Kunje Boerdery. Majestueus geklip soos net die Kouebokke-veldberge uniek bekend is. Verfris en vrolik ry ons terug in die laatmiddag skemering.
Hierdie twee dae het ons gevul met verbysterde bewondering vir God, ons Vader, Jesus Christus en die krag van die Heilige Gees. Elkeen van ons is uniek vrou met ‘n unieke plek binne die taakspan. Dat God ons vry maak om vry te lewe vir Hom tot sy eer, maak ons opgewonde. Ons is vriendinne wat mekaar liefhet en mekaar ondersteun en vertrou. God se Gees is in ons en werk deur ons, sodat ons saam hoop en lewe kan uitdra na ander mense. Die heerlikste was die insig dat God vir ons drome gee, wat saamgebind word in Jesus tot iets baie groter as onsself.
Die spanbou sluit af weer met Lukas 1:26-38 in stille diepe nadenke en luister met “die ore van jou hart” (‘n Dieper Dors deur Willem Nicol). Ons is so dankbaar vir hierdie geleentheid om ons opnuut saam met Hom op reis te laat gaan. Dat ons naby God kan lewe en die konneksie met Hom en met mekaar kan belewe. Ons is dankbaar dat ons oë kon oopgaan met die helder besef dat God in beheer is. Deur ons unieke self, binne die Taakspan en die raamwerk van die Vrouebegeleiding Wes- en Suid-Kaap, ontdek ons ‘n dieper betekenis.
“Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur soos U gesê het.” (Lukas 1:38 Die Boodskap)
“We don’t need to agree. We need to understand.”
spanbou2-apr14