{ARGIEF}

deur Raffealle Basson
GARIES se  15 vroue was baie nuuskierig en opgewonde om Vroue met Vlerke te kon beleef. Die gemeentes Springbok, Pofadder en Garies het die  geleentheid saam beleef en Antoinette as spreker ervaar wat werklik praat van ondervinding, maar ook met  hope liefde. Die aanbieding was in  die Boesmanland gemeente  (Springbok) gehou en ons was sommer ‘n  groot klomp bymekaar op ‘n baie warm Namakwaland-se Saterdagoggend.
Die  antwoorde is nie altyd maklik nie, maar die feit dat ons te veel antwoorde het op lewensvrae en krisisse in plaas daarvan om na die Gees in jou te luister, is voorwaar ‘n feit. Die aanvoeling wat binne die vrou leef, luister en wag … wag vir sy antwoord. Vra vir Hom die vrae. Die stilte  is nie altyd deel van ons modus operandi nie, en tog is dit wat ons geleer het om saam te vra en saam te wag.
Voorwaar ‘n voorreg om vrou te mag wees!
pofadder-apr14
deur Alida van Niekerk
POFADDER – Een Saterdagoggend het ek die geleentheid gehad om saam met ander gelowige vroue op ‘n Geloofsreis onder leiding van Antoinette te gaan.
Ons was sommer ‘n lekker groepie vroue, al was my hart swaar oor so min Pofaddervroue die geleentheid aangegryp het. My hart juig egter omdat so baie vroue teenwoordig was.
Met die lees van Eva se Gebed kon jy voel en sien hoe dit vroue raak. Vir party was dit emosioneel en trane het geloop. Vir ander was dit of daar ‘n lig aangaan. Saam met ons groepies  het ons stap vir stap deur die program gewerk en harte word oopgemaak, trane word minder en ander se oë word blinker. Ek het  deur die saal gekyk en my grootste hartewens was dat elke liewe vrou die geleentheid sal kry. Dis so ongelooflik kosbaar.
Amper ‘n maand later sit ek in ‘n vergadering in my eie gemeenskap. My hart spat in skerwe oor ‘n vrou, ‘n ongelooflike mensie se seer … en my gebed word al dringender: Here bring vroue met vlerke na my dorp toe, na “my” vroue, want hulle het dit so ongelooflik nodig …