{ARGIEF}

Vroue met Vlerke-byeenkoms
deur Arinda Lloyd
vanRhynsdorp1Saterdag, 20 Julie 2013, het die vroue van Vanrhynsdorp en omgewing ‘n geloofsreis aangepak onder leiding van Antoinette Muller. Min het ons geweet dat die geskenke wat ons tydens dié geleentheid sou ontvang, ons as vroue sou toerus om met afwagting ons geloofsvlerke te sprei. “Om God te hoor saam met ander vroue” was ‘n verrykende ervaring vir elkeen wat daar was.
Hierdie geestelike kuier saam met vriendinne het die klem laat val op ons as vroue – ons uniekheid, ons krag, ons potensiaal en ons vrouwees.  Ons kon weer ervaar wat dit beteken om te “Wandel in die Woord”.
Gesprekke met geloofsvriendinne het gelei tot interessante en soms aangrypende verhale.  Ons het gefokus op LUISTER, en het God self deur ander vroue hoor praat.  In die proses is baie ontdekkings gemaak en ons kon saam opgewonde en saam hartseer word oor elke vrou se reis.
Dit was voorwaar ‘n wonderlike geleentheid om sonder skanse te kon deel en sonder oordeel te kon luister na vroue wat hul selfwaarde opnuut ontdek het – na mislukte huwelike wat gevou het onder emosionele druk en teistering, vroue wat besluit het om op te hou om hul gesinne af te skeep as gevolg van vol werksprogramme, vroue wat bely het dat hulle hul luister-vermoëns verloor het en vroue wat moed verloor het om te wag op God vir antwoorde.
In Eva se gebed begin elke strofe met “Ek is ‘n vrou” – ses maal word hierdie frase herhaal … dit beklemtoon ons trots om VROU genoem te word, want ons is uniek geskape deur God. Ons wil deur die geloofsreis wat ons begin het, voortgaan om daagliks te leer om na God te luister.
‘n Groot dankie aan Vrouebegeleidingspan wat ons toegerus en vergesel het op hierdie reis.
vanRhynsdorp2