{ARGIEF}

Vroue met Vlerke-oggend – Vrouedag
deur Hanlie Gouws
kenridge-okt14-1
Wanneer God aan die werk is, kry vroue vlerke! Dit was inderdaad ons belewenis op Saterdagoggend,  9 Augustus, by die NG Gemeente Kenridge. Om 09h00 het die gaste begin opdaag en is verwelkom met warm koffie en botterbroodjies. Ook het elke vrou ‘n blou armbandjie gekry wat die simbool van ons eenheid vir die oggend was.
Melanie Thirion, ons jeugwerker, het die 150 gaste, wat by pragtig-gedekte tafels gesit het, hartlik verwelkom. Elke tafel het ‘n wit kers as fokuspunt gehad met die naam en betekenis van ‘n bekende Bybelse vrou daarom gebind. Daar is vooraf gebid dat die gaste deur Skrif uit die Woord omring sal word. Daarom was daar groot baniere met Bybelverse rondom die tafels geplaas, asook in die ingangsportaal.
Die musikale begeleiers, Marijke, Erika en Nadia, het die vrouens deur lofprysings- en aanbiddingsliedere in ‘n geestelike stemming gebring om saam te luister wat die Here vir ons vanuit sy Woord wou leer. Ons is ietwat uit ons gemaksones geneem toe ons gevra is om saam met ‘n ander, onbekende vriendin aan ‘n tafel te gaan sit. Nuwe pare en tafelgroepe is gevorm en saam het ons die reis aangepak.
Ons het na mekaar geluister deur God se Woord en het eerlik en persoonlik met mekaar gesels. Baie het na die tyd getuig dat die Here hulle met presies die regte persoon verbind het, omdat die dinge wat hulle met mekaar kon deel op beide se harte was. ‘n Mens kon regtig ervaar dat God deur sy Gees met elkeen aan die werk was.
Daar was geleentheid vir saambid, asook afsonderlik in die gebedskamer en gebedshoekies wat spesiaal daarvoor ingerig is. Die oggend is afgesluit met ‘n heerlike midddagete wat die Aksie vir Funksies voorberei het.
kenridge-okt14-2
Ook die voorbereidingspan kan getuig van die Here se getroue werking met al hulle beplanning. Hy het elke persoon op die komitee by die naam geroep en toegerus sodat hulle sy hande en voete kon wees. Met elke stap was Hy daar en kon hulle sien hoe Hy die pad aandui. Hulle het Hom ook vertrou met die 150 gaste wat hulle verwag het al was daar twee weke voor die datum nog net 20 plekke bespreek. ‘n Verdere geloofsdaad was die inhoud van die geskenkpakkie wat elke vrou ontvang het, waaronder ‘n geestelike joernaalboekie.
Ons het ervaar hoe die Here ons as vrouens en as deel van sy Liggaam oproep om ons aan mekaar en aan ons gemeenskap te verbind, sodat ons mekaar tot seën kan wees en daardeur sy
Naam kan verkondig en verheerlik. Voorwaar, daar waar God aan die werk is, en ons nie in sy pad staan nie, maar een van sy medewerkers word, kry vroue vlerke!
(Ons beplan reeds ‘n lofprysings- en gebedsaand vir alle vroue een maal ‘n kwartaal en het reeds ons datum vir volgende jaar se Vrouekonferensie vasgestel).
Hieronder van die dankie-sê e-posse van enkele van die dames:
Hello Elzabe
Ek wil graag net my dank uitspreek vir ieder en elk wat betrokke was by Saterdagoggend se Vroue met Vlerke-funksie. Dit was voorwaar ‘n uitsonderlike oggend. Ek het nog nooit regtig funksies bygewoon nie, maar sal voorwaar dit doen in die vervolg. Dit was lewensverrykend, Gees-vervuld.
Dra asseblief my en Marie Audie se dank oor aan elkeen wat die oggend moontlik gemaak het.
Baie groete
Estelle Groenewald
Hallo Hanlie,
Ek kry baie mooi terugvoer van mense.  
·    Die jong Maria het blykbaar groot indruk gemaak.  
·    Die saal was vreeslik mooi en hulle sê dankie vir al die harde werk.
·    Die eetgoed was baie lekker en mooi.
·    Die skrif op die behangsels was baie mooi.
·    En een vrou het gesê sy het skielik besef dat sy maar ‘n vrou mag wees.  Sy is mooi en goed soos sy is …
Liefde
Linda